‘n Juffrou het vandag gevra hoe ‘n mens groot en klein aan Graad R kinders kan verduidelik.  Ek sou verskeie soortgelyke items uitstal (betrek die Checkers mini-kruideniersware).  Dink aan ‘n groot yogabal en ‘n klein tennisbal, ‘n groot reistas en die meegaande handbagasie, ‘n groot stoel vir juffrou en ‘n klein stoeltjie vir ‘n kind, ‘n groot mengbak en ‘n klein roomysbakkie, ‘n groot opskeplepel en ‘n klein teelepeltjie…

Loop gerus om die skool en soek na groot en klein items, byvoorbeeld ‘n groot venster en ‘n klein venstertjie, ‘n groot tuin en ‘n klein beddinkie, ‘n groot muurhorlosie en ‘n polshorlosie, drom en drommetjie, sak en sakkie, ‘n groot skoolbus en die mini-bus, ‘n groot skoolskoen en ‘n kleintjie, ‘n groot boek en ‘n kleintjie…(Waak teen woorde soos vet en maer, lank en kort…)

Bespreek die woorde.  Groot items sal dikwels net die woord hê, maar die kleintjie sal die verkleiningsvorm daarby hê.  Hoe spreek ‘n mens die woorde uit en hoeveel klappies (lettergrepe) het elkeen?  Wat hoor jy aan die einde van die verkleiningsvorm?…”ie”, “pie”, “kie”…

big small                groot en klein

Watter van die items kan julle in die sandput of waterbak gebruik? Groot en klein houers, skoene vir voetspore, ‘n groot waterbottel en ‘n kleintjie, ‘n groot roomysbak en ‘n kleintjie…Het julle groot en klein boublokke of groot en klein kledingstukke? Stel dit beskikbaar.

Berei groot koerantvelle voor deur die dubbelblad lengte-gewys in die helfte te vou.  Verf die boonste helfte met effens verdunde blou en die onderste helfte met groen voedsel-kleursel of waterverf.  Kies items om op die landskap te plaas, byvoorbeeld klein en groot huise.  Elke kind kan dan ‘n klein en ‘n groot huis teken of vorms uitknip om groot en klein huise te bou (gebruik basiese vorms soos vierkante, reghoeke, driehoeke, sirkels…).  Plak die koerantpapiervelle langsmekaar in die gang op en laat die outjies hul huise daarop plak.  Kan julle ‘n patroon vorm?  (Bv. groot, klein, groot, klein of groot, klein, klein, groot, klein, klein…)  ‘n Mens kan natuurlik kleiner velle gebruik sodat elke kind ‘n individuele prent maak.

Soek items om drukwerk mee te doen (bv. groot en klein sirkels, groot aartappels en klein aartappels) en maak verskillende soorte patrone – in rye of reg rondom die rand van ‘n bladsy.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens groot en klein gesinslede in die middel of apart teken (om op die agtergrond te plak).

Slaan die trom op ‘n groot koffieblik of op ‘n kleintjie.  As die outjies die groot een se klank hoor, moet hulle soos groot olifante rond trap en as hulle die kleintjie se klank hoor kan hulle krimp tot klein muisies.

Soek gerus stories soos “Klein Duimpie”, “Gouelokkies”, “Jan en die boontjierank”… waar daar verwysings na groot en klein items gemaak word of waar jy daarna kan verwys.

Vra dalk dat ouers groot en klein herwinbare items skool toe stuur.  Sodoende kan die kinders self items volgens groottes sorteer en later weer in dooskonstruksies, water- en sandspel gebruik.

Aan watter idees kan ‘n mens nóg dink?

*Gouelokkies (prente)