Tuis

herfs

12 Kommentaar


herfs

Dit is eintlik alreeds Herfs en ek het nog niks daaromtrent gesê nie.  Dis seker omdat dit nog onlangs 40° C in my klas was!  Kom ons dink aan ‘n paar gedagtes om die kleurvolle seisoen in te wy.  (Dalk meer op Graad R en 1 gefokus.)

Uitstallings:

As juffrou moeite doen en die uitstalling aanloklik maak, sal die werk sommer ekstra lekker wees om te doen.  Gebruik ‘n herfstafeldoek of gebruik groot velle bruinpapier – met herfskleur drukwerk daarop.  Plaas houers met blare en sade in afsonderlike houers.  Die outjies kan hieraan voel, ruik en skud.  Dink net aan al die geluide wat sade en peule kan maak.  Gebruik dié natuurlike musiekinstrumente sommer tydens sanglessies.

Collage:

‘n Collage word nie in een dag voltooi nie.  Dit bou op.  Elke takie wat jy elke dag doen, kan op die ou einde ‘n stukkie van die finale kunswerke wees.  Jy kan ‘n klassikale werk maak of individuele prente.

  • Berei ‘n groot vel papier voor (las dalk so twee A1-velle ongedrukte koerantpapier vir die klas of ‘n A3-vel vir ‘n individu) deur drie tot vier verskillende mengsels verf dikkerig aan te maak.  Dit moet soos “tandepasta” wees en kan in kleure soos ‘n gelerige oranje, rooierige oranje en ‘n roesbruin gemeng word.  Moet nooit die poeierverf net so uit die potjie gebruik nie – dis vervelig.  Plaas ‘n paar sponsies (sommer dié in pillehouertjies en ou kombuissponsies) by elke kleur neer en laat die outjies die verf op die groot vel “spons”.  Verduidelik vir hulle dat die sponsies nie moet drup van die verf nie en amper droog moet wees.  Hou maar ‘n ogie oor die takie, want die kleur kan dalk op een kol gekonsentreer wees.  Versprei die kleure in ‘n lekker bont “blare bed”.
  • Maak ‘n krimpvarkie.  Jy sal die sjablone moet verskaf of die buitelyne vooraf moet afrol.  Verf die verskillende dele met vingerverf, plak bewegende ogies (soos die plastieksoort wat jy in materiaalwinkels se knope-afdeling kry.  Onthou dat die buitelyne dik en donker moet wees om die knippery te vergemaklik.  In Graad R kan jy dalk die “pelsies” uit watte laat maak en dit met voedselkleursel kleur.  Groen en rooi kleursel behoort bruine te maak – voeg geel by en maak dit ligter met water.  Die krimpvarkie sal later op die gesponsde agtergrond verskyn.
  • Maak ook ‘n eekhoring.  Koop A4-velle bruinpapier (die soort waarmee boeke oorgetrek word) en rol die sjabloon daarop af.  Die kleingoed knip die eekhoring uit en rol verskillende skakerings bruin verf met ‘n droërige rollertjie daaroor.  Hou stukkies bruin gekleurde pypskoonmakers byderhand vir snorbaarde, ‘n swart knopie of bewegende ogie en selfs regte akkers vir die afronding.  ‘n Mens moet altyd aan iets dink wat diepte sal gee aan ‘n collage.  Indien jy lus het, kan jy ou stukkies lap (monsters) by ‘n mat- of gordynwinkel vra en die lappies in klein blokkies opsny.  Dit sal oulike teksture vir die lyfie gee…of ou snippers hare by ‘n haarsalon (siesa!).  Wees kreatief en maak die aktiwiteit prettig..
  • Plak nou die diere bo-op die agtergrond en gee ekstra stukkies akkerdoppe of boombas om om die voetjies te strooi.  Indien jy lus het, kan julle stukkies gom of alkant-kleefkant sponsstrokies onder die diere plak vir ‘n 3D-effek.  Stal die prente in die gang uit – op die kinders se ooghoogte.
  • Maak eenvoudige sjablone van eikeblare uit x-strale of dik karton.  Sny dit uit.  Die kleingoed teken dit af met ‘n vetkryt of ‘n dik potlood.  Onthou dat die vorm nie te vol detail moet wees vir die kleinste outjies nie.  Elkeen kan oor die getekende lyn gaan met ‘n platpunt veselpen (swart koki).  Kleur in met vet, Jumbo pastelle (druk hard…oranjes, rooie, bruine) en gebruik die helder blare in ‘n raam vir jou uitstalborde, vir die klas se deur, die vensterrame, ens.
  • Maak herfsblaarbrille.  Gee ‘n paar bril sjablone, laat dit aftrek op dik karton, knip uit en versier met herfsblare (wat van wingerdblare?).  Julle kan ook die pastelblare hiervoor gebruik of die brilletjies in herfskleure spons.  Knip die skrefies of kykgleuwe vir die kleingoed uit.
  • Maak herfslanterns.  Gebruik ou glasflesse (vra vir Puritybottels by dagmoeders) of goedkoop glase.  Smeer styselpap of (my gunsteling) muurpapiergom aan beidekante van lekker bont herfsblare EN aan die binnekant van die skoon glas.  Plak die blare aan die binnekant van glas en spasieer die blare sodat dit net een lagie maak.  As dit relatief droog is, kan die outjies bo-oor verf met nog gom.  Was maar die glas buite-om skoon met ‘n bietjie opwasmiddel en skryf die outjies se name onder-aan die klas.  Nou kort hulle net ‘n teeligkersie en siedaar! ‘n Oulike geskenk vir Moedersdag.
  • Maak ‘n groot boom.  Teken die boom se buitelyne op koerantpapier of selfs ‘n oop gerolde vel bruinpapier.  Teken duidelike graslyne.  Hierdie is ‘n “ekstra tafel” aktiwiteit…  Die outjies kry skakering van blou en witterige verwe om die lug mee te verf…of sê bv. dat elkeen 5 drukke met ‘n sponsie mag maak (tel word ook by gewerk).  Die gras-deel kan weer met bruine en oranjes bedruk word of met gom en strooiwerk versier word.  Gebruik sommer budjiesaad en droë blare vir die grond.  Die boom kan met growwe bas en fyn gedukte (“crushed”) akkerdoppe bestrooi word.  Sodra dit droog is, kan jy dit agter ‘n deur of op ‘n fokusarea in die gang opplak.  Vir ouer leerders kan jy BITTER versigtig wys hoe om herfsblare met was te preserveer.  Smelt kerse, knyp die blaarstingels in ‘n pennetjie was en doop dit in die was – 2 tot drie maal.  Hang die blare op om droog te word (dit gebeur gou) en plak die blare op die boom.  Die blare is veronderstel om die kleur te behou – met ‘n oulike glans.  Dalk kan ‘n mens die draadwerkies vir tuisgemaakte oorbelle koop en sulke blare as oorbelle inspan (vir Moedersdag natuurlik).
  • Doen “afvryf” werk.  Gee vetkryte, houtskool en conté kryte (as julle het).  Die kleingoed gaan soek dan oulike teksture, plaas die papier daarop en “vryf” met die lengte van die kryt daaroor.  Growwe boombas en blare met prominente are sal goed werk.  Laat hulle die bladsy lekker vol maak en gaan bo-oor met ‘n bietjie verdunde voedselkleursel.  Eiergeel kleursel gee ‘n warm effek.  Jy kan egter flou rooi en geel mengsels met ‘n spuitjie oor die “vryfwerk” spuit.  Klad dit met sneesdoekies, handdoekrol of ou lappe.  Wees versigtig, want ‘n nat bladsy kan frommel as jy hard vryf.  Hierdie blaaie kan as voorblaaie, agtergronde, versierings, ens. ingespan word…of gebruik dit vir skeur-en-plak werk op ‘n volgende Collage.
  • Drukwerk…dink aan verskillende kleure…teksture soos bas, sade, blare (dik are!) en selfs halwe appels.  Gebruik dik verf (pastarig), kerswas (ouer kinders…smelt afval stukkies) wat met voedselkleursel gekleur is…kleursel in muurpapiergom gemeng – vir glans…wees kreatief.
  • Vir Graad 1’s (en ander outjies wat dalk intervensie en ekstra oefening benodig) kan jy selfs letters / klankies met blare en sade laat bou…of strooi dit bo-oor gomletters…Laat die outjie spelwoorde met gom skryf en gee dan budjiesaad of krummelbare droë blare om te sprinkel.  Lekker vaslegging en dit ontwikkel sommer die fynspiere ook!

Ander:

Herfsstorie en werksvelle

Gedigte

Simmetrie

Verskeie

Tel

Takies

Voorskools

Inkleurwerk

Engelse stories

Tik ook soekterme soos somer, winter, lente en weer by die bruin soekblokkie in.

HerfsAutumn

Paasfees

6 Kommentaar


Die kwartaal staan einde se kant toe en dis amper Paasfees. Hiermee dan ‘n paar oulike webwerwe en idees.

  • Nooi iemand uit die gemeenskap om gepaste verhale uit die Kinderbybel voor te lees, te dramatiseer of net te vertel.
  • Maak eierkranse (soos hier onder), rol boodskappies op en heg met linte aan die krans vas. Besoek instansies in die gemeenskap en oorhandig die kranse – met die mooi wense daaraan vas.
  • Hou ‘n paaseiersoektog of -skattejag.
  • Gee vir elke kind ‘n hout wasgoedpennetjie om met verf, veselpenne en “glitter” te versier.  Hulle kan ‘n ovaal uitknip en versier en aan die een kant van die pennetjie vasplak.  Stal die pennetjies teen die muur uit en knyp ‘n malvalekker-paaseier in elkeen vas – vir ‘n bederfie.  Of help elkeen om ‘n klein sakkie te maak – soos die hasiesakkie hier onder.  Plaas dan ‘n paar “speckled eggs” daarin en oorhandig die geskenkies aan instansies in die gemeenskap.
  • Help die kinders om kruise te maak en te versier.  Elkeen kan ‘n ander versie rakende die Paastyd daarop skryf.  Hang dit aan ‘n tou dwarsoor die klas op.  So kan elkeen die proses volg, die versies lees en die boodskap van Paastyd ervaar.  Julle kan die kruise met paaseiers vervang – indien die outjies nog klein is en die vormpies eenvoudig moet wees.

Ander gedagtes:

  1. DLTK werkvelle
  2. Lesson sense (wiskunde en ander)
  3. Eierdoolhof
  4. Krans
  5. Pragtige “felt” versierings
  6. Ouma se idees
  7. Hasie houertjie
  8. Speletjies
  9. BAIE takies en idees.
  10. Voorskools (Christelik)
  11. Jesus se lewensverhaal (prente)
  12. Inkleurprente en idees (Christelik)
  13. Kuns
  14. Paashaas uit klei
  15. Paasfees bederf
  16. Paasfees lekkergoed en ander lekkertes

Wat is ‘n “VMI”?

Lewer kommentaar


VMI

Dié van julle wat al ‘n verslag van ‘n arbeidsterapeut of ‘n opvoedkundige sielkundige onder oë gehad het, sou ‘n verwysing na die kind se VMI gesien het. Dit staan vir Visual-Motor Integration en het te make met die kind se vermoë om beelde te interpreteer en weer te gee.  As die outjie se VMI telling baie laag is teenoor die kronologiese ouderdom, beteken dit dat hy ‘n bietjie gaan klei trap met dinge soos skrif en afskryf van die bord af.  Daarom beveel die kundiges hulp soos arbeidsterapie aan…en dit wérk

Baie outjies se prestasies styg as die VMI styg.  Hulle is dus nie net eenvoudig oorgelaat aan ‘n “swak uitslag” op ‘n verslag nie.  Daar is ‘n uitweg.

Tesame met die kundige raad en hulp van ‘n arbeidsterapeut, is daar ‘n paar oefeninge om tuis te probeer. Probeer baie oefeninge wat die Visuele Persepsies, Middellynkruising en Fynmotoriek ontwikkel.

Eye can learn gee aanlyn oefeninge en oulike idees.

waterwys

Lewer kommentaar


waterwysWêrelddag vir water is 22 Maart en volgende week is Waterweek (begin die 15de).  Hier is ‘n paar aktiwiteite en mense met blink idees se gedagtes.

1. ‘n Lêertjie oor Engels klanksamevloeiings – met oulike druppels en sambrele. Jy kan dit selfs aanpas vir die Afrikaanse outjies of die leë raampies vir iets anders gebruik.

2. Die waterkringloop.

3.  So kan ek help om water suiwer te hou.

4.  Die VSA het ‘n paar oulike idees om kinders bewus te maak van waterskaarstes, suiwering en -besparing.

5.  Water verbruike tuis.

6.  Water webwerf vir kinders

7. Water Wise

8.  Besparing by die skool. (Video)

9. Bewarings aksies by die skool.

10. Aanlyn water speletjie.

11. Driesie Druppel gaan op reis 

12. Dienie en Dimpie Druppel

Tik gerus soekterme soos “water, waterspel, grond, groen, bewaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

Kom ons hersien die klanke…

32 Kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

[Dubbel-, twee- en drieklank muurkaarte]

Spel oefeninge

Hier is ‘n paar idees om tydens klankvaslegging te gebruik.  Doen dit alles in ‘n werkboek of op los blaaie.  Beloon goeie werk en spog ‘n bietjie by die ander gesinslede.

Screen Shot 2015-09-01 at 15.57.39Screen Shot 2016-05-30 at 13.31.46

  • Enkelklanke:
    • Skryf die klank (bv. t) op Grootman se rug of in sy handpalm.  Hy moet dit dan identifiseer.
    • Vra Grootman om ‘n woord te noem wat daarmee begin.  Indien die woord ‘n rymwoord het, kan julle probeer om oulike rymwoorde te vind.  Bv. tas, das, mas, las, pas, kas…
    • Skryf die aanvanklike woord bo-aan die bladsy neer en vra Grootman om die ander woorde onder hierdie woord te lys.  Bespreek die woorde om te verseker dat hy verstaan wat elkeen beteken.  Teken prente langs die woorde of skryf ‘n sin daarby.
    • Grootman moet nou aan ‘n woord dink wat eindig op die gegewe klank (bv. kat).
    • Knip ‘n kolom uit ‘n ou tydskrif-artikel (bv. Huisgenoot).  Vra dat Grootman die klank soek en omkring.  Tel die klanke.  (Dalk kruip daar nog weg.)
    • Grootman moet die klank groot op ‘n bladsy neerskryf.  Maak seker dat hy op die regte plekke begin.  Hy kan nou aan vier of vyf items of diere dink wat daarmee begin en dit rondom die klank teken  (bv. tier, tien, tande, tone, televisie…).  Grootman hoef nie altyd net die klank te skryf nie.  Hy kan bo-oor die letter “skryf” met gom en dan stukkies gekleurde papier daarop plak of sand daaroor strooi.  Hoe meer kreatief hy raak, hoe lekker is die lees- en leerprosesse.
    • Speel “name, vanne, diere, dorpe”.  Kyk of julle aan ‘n naam, ‘n van, ‘n diersoort en ‘n dorp kan dink wat met die klank begin.
    • Woordfamilies:  Dit werk soos rymwoorde (bv. alles wat op -en, -aar, -oen eindig).  Sit byvoorbeeld ‘n vel papier onder of in ‘n lêersakkie en skryf met ‘n witbord koki -os daarop. Pak ‘n los Scrabble-blokkie of skryf ‘n klank voor die -os.  Werk dan deur die klanke wat die outjie ken en sê bv. b-os-bos. Is daar so ‘n woord? Indien ja, skryf die woord op ‘n papier oor skryf en teken ‘n prentjie daarby.  
    • Hersien ‘n bietjie die klanke wat reeds behandel is:  ‘n Mens sal ‘n kombinasie van dinge moet gebruik.  Neem die klanke wat reeds behandel is stuk-vir-stuk.  Wys dit.  Wat is die klankie? Sê dit sommer saam met hom, bv. “s”.  Watter prentjies op die storie se prent begin met “s”?  Slang, son, sand, seuntjie…Skryf die woorde vir hom neer en teken rowwe tekeninge by om die geheue te verfris.  Hy kan dan ‘n sin gee.  Help hom om die moeilike woorde te skryf deur dit neer te skryf en laat hom ‘n prent by teken.  As julle lus het, kan ‘n mens ‘n groot s skryf op papier (sien die drukbare bladsye se “robot- en muurkaarte”).  Laat hom die s met gom “skryf”.  Strooi dan iets wat met die klank begin bo-oor (bv. sout, suiker, sand).  As dit droog is, kan hy daaroor voel.  So kan ‘n mens verskillende prente in ‘n boek maak of bind, teen die muur plak of in ‘n lêer hou.

  • Dubbel-, twee- en drieklanke:
    • Gebruik dieselfde idees as by die enkelklanke, maar verseker dat Grootman weet dat die klanke nie meer as a-a of o-u geklank mag word nie.  Dit is nou eenhede soos aa, ou, ui en eu.
    • Knip die meegaande klanke kaartjies uit, plak ‘n breë strook kleeflint daaroor vir beskerming en bêre dit in ‘n houer.  Op verveelde oomblikke kan Mamma of Pappa ‘n kaartjie trek en vir Grootman vra om dinge in die huis te soek wat daardie spesifieke klank bevat.  Hy moet dit dan neerskryf en kom wys.
    • Draai die klanke kaartjies om en vra vir Grootman om een te trek.  Mamma of Pappa moet dan aan twee woorde dink wat die klank bevat.  Ruil die rolle om en maak beurte.  Skryf die woorde neer en vra Grootman om ‘n oulike sin met elkeen te skryf.
Tik soekterme soos “klanke, hersien, muurkaart, dubbelklank, tweeklank, drieklank”  by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir nog drukbare idees.

Biblioteekweek

2 Kommentaar


Dit is Biblioteekweek vanaf 15 tot 19 Maart.  Wat kan jy doen om hierdie week te vier?

  • Indien jou skool ‘n biblioteek het, kan jy individuele foto’s van die kleingoed (veral Graad R of 1) neem.  Die gedagte is dat jy die foto in of voor die biblioteek neem – met ‘n boek of lidmaatskapkaartjie in die hand.
  • Druk dit dan op ‘n A4-vel uit (“print” in die middel) en help die outjies om ‘n raam rondom te teken met helder uitdraaikryte of pastelle.  Maak letterpatrone, skryf woorde of ‘n slagspreuk (bv. “Ek kan lees.” “Lesers is oulik.”) in die raam.  Verf ‘n verdunde voedselkleursel lagie bo-oor en siedaar!  Nou kan jy ‘n uitstalling in die gang maak om te wys hoe oulik jou lesertjies is.  Blok dit op ‘n aansteekbord of maak ‘n lang lyn (op die outjies se ooghoogte), sodat die ander maats die slim lesers kan raak sien.
  • Reël ‘n ouer, ‘n ouma of iemand uit die gemeenskap om oulike kinderboeke vir die kleingoed te kom lees.  Die persoon moet darem so ‘n bietjie met gevoel kan lees en weet hoe om met kleingoed te kommunikeer.  Wat van ‘n Graad R-juffrou?  Die kinders sal dit geniet om hul ou juffrou weer te sien en om met hul uniforms te spog.  Dalk kan een van die groter grade se juffrouens kom inloer of selfs die skoolhoof.
  • Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n spreker reël.  Dalk is daar ‘n kinderboekskrywer of –illustreerder in jou omgewing.  Lees van die persoon se boeke en doen ‘n bietjie navorsing.  Stel ‘n paar vrae op wat die kinders tydens ‘n onderhoud of vraag-antwoord sessie moet beantwoord.
  • Maak julle eie boeke en plaas dit in die klas se leeshoekie / bibliotekie – vir die hele klas se leesgenot.  (Bv. My boekie oor vorms.  My boekie oor sjokolade.  My boekie oor die skoolhoof.  Juffrou se boekie oor dinge waarvan sy hou.) Kry dan ‘n ander opvoeder om die boekies te lees.  Dit behoort ‘n aardigheid te wees vir die kleingoed 😉
  • Ouer grade kan vir die kleintjies gaan lees of tydens ‘n leesles vir die kleingoed help met hulle leeswerk…
  • Wat van ‘n biblioteek “make over”?  Die moontlikhede is legio.

Speelgoed

1 Kommentaar


Jessica het gevra of ek kan help met idees i.v.m.  speelgoed (Graad R-vlak as ek reg kyk).  Wat van die volgende?

speel

Kry gemorspos met speelgoed daarop.  Plak dit teen die muur op.

Perseptueel…

  • Visuele diskriminasie:  Soek al die speelgoed vir dogtertjies en die speelgoed vir seuntjies.  Waarmee sal beide geslagte graag speel.
  • Ouditiewe persepsie:  Watter speelding begin met ‘n m?  Die motor!  Watter speelding begin met ‘n p?  Die pop!
  • Ouditiewe diskriminasie:  As jy speelgoed het wat geluide maak – bespreek die speelgoed en maak die geluide.  Die kind maak sy ogies toe en moet dan na ‘n geluid luister…Watter speelding het so gemaak?  Die beertjie!
  • Visuele geheue:  Pak enige 3 speelgoed op die tafel.  Die kind noem dit op. Bedek of skommel.  Vra die kind om dit reg te pak soos tevore.
  • Patrone:  Pak speelgoed in ‘n ry (bv. pop, beer, motortjie) en vra die outjie om voort te gaan met die patroon (pop, beer, motortjie, pop, beer, motortjie)…

Buitespel…

  • Maak ‘n motortjie by die houtwerktafel.  Kap 4 doppies weerskante van ‘n blokkie hout vas en siedaar.  Dit verg oog-hand koördinasie en toesig.
  • Waterspel – Watter speelgoed dryf en watter speelgoed sink? Vir ‘n sekondêre aktiwiteit, buig en draai die kleingoed self ‘n pap draad in ‘n seepbelblaser (dalk soldeer draad). Dan kan hulle hul blaasvaardighede buite ten toon stel.
  • Fantasiespel…Versier ‘n klimraam of houthuis soos ‘n speelgoedtrommel of -winkel.  Vertel ‘n storie van ‘n speelgoedtrommel of -winkel.  Plaas klere, pruike en maskers in die houthuis of klimraam en laat die kinders oor aan ‘n paar minute van fantasiespel.
  • Sandspel – plaas spesifieke speelgoed in die sandput.  Watter speelgoed kan skep? Watter speelgoed kan torings, kastele of huise bou?

Bespreek dalk…

  • Speelgoed van toeka tot nou…vra die ouers om van hul eie speelgoed te stuur.  Waarvan is die speelgoed gemaak?  Waarvan is jou speelgoed gemaak? Hoe is dit eenders?  Hoe is dit anders?  Besoek ‘n speelgoedmuseum…
  • Hoe werk die speelgoed op jou besprekingstafel? skarniere, wiele…toutjies…
  • Sorteer jou speelgoed – volgens grootte, volgens kleur, volgens die materiaal waarvan die gemaak is (hout, rubber, lap…).  Hoe voel jou speelding?  sag, hard, wollerig, glad…Kan jou speelding ‘n geluid maak of is dit stil?  Waarmee speel ‘n baba? Waarmee speel jy?  Hoe verskil die speelgoed?

Skeppend…

  • Maak ‘n Sponge BOB speelding (soortgelyk aan hierdie outjie)…Laat die kleingoed vooraf (‘n dag vooraf) een bladsy bruin en een bladsy geel verf. Gebruik dalk sponsdrukwerk of maak patrone in die nat verf.  Jy kan natuurlik ‘n gekleurde styselpap mengsel op ‘n skinkbord plaas en die kinders vra om sirkels te teken.  Druk ‘n bladsy liggies bo-op om die patroon af te ets.  Oefen ‘n dag voor die tyd – anders flop jou krit les.
  • ‘n Ou papboks kan nou met skeur en plak werk versier word in ‘n geel deel bo en ‘n bruin deel onder. Verskaf plakbare ogies (materiaalwinkels het verskeie) en rooi gekleurde pypskoonmakers vir die mond. Gebruik toiletrolle vir die arms en bene of dalk kurkproppe.