April 10, 2017
Juffer
afrikaans
kruis, kunsvlyt, Paaseier, Paasfees

- Oefen die outjies se knipvaardighede deur paaseiers of kruise op verskillende teksture soos karton, viltlap, snesiepapier (uit ou geskenkpakkies) en riffelkarton na te trek. Hulle kan dit dan uitknip om versierings en kaartjies te maak.
- As julle ‘n groot paaseier uitknip, kan ‘n mens dit met uitgeknipte patrone versier (bv. sirkel, driehoek, sirkel, driehoek).
- Trek ‘n groot ovaal bo-oor ‘n gelineerde bladsy en rol dit af sodat die outjies hul patrone daarop kan oefen. Trek ligte potloodlyne op ‘n skoon (wit / gekleurde) bladsy of vou die bladsy om lyne te skep. Doop die duim in pastadikte verf en druk ‘n ry “paaseiers” op elke lyn. Die kleure kan afgewissel word om patrone to vorm. Knip die patrooneiers uit en plak dit op die kleurvolle agtergrond, sodra die verf droog is.
Oefen patroonwerk met uitdraaikryte (druk hard), verf dit met effens verdunde voedselkleursel en sny die eiers uit sodra dit droog is. Plak twee eiers rug-teen-rug en hang dit aan ‘n lintjie of ‘n toutjie op.
- Deel ‘n bladsy in vier gelyke blokke. Skryf Bybelverse op ‘n eiervorm in elke blok en sny dit uit. Trek patrone met blinkertjiegom op die keersy en gebruik dit as versierings wanneer die tafel gedek word.
- Gom geknipte viltletters op viltpaaseiers en -kruise om as boekmerke te gebruik.
- Tel droë takkies op en gebruik verpakkingstou om kruise te maak. Los dit so of verf dit met wit gom en besprinkel met blinkertjies. Hou dit vir die Kersboom.
- Sny ‘n kruis of ‘n groot Paaseier versigtig in die middel van ‘n karton-/manillavel uit. Sny dan lang stroke snesiepapier uit en plak dit dwars oor die gaping totdat die eier of kruis gevul is. Hang dit voor ‘n lig of voor ‘n venster.
- Sny ovaalvorms of kruise uit ou snesiepapier. Verf dit liggies met olie en versier ‘n sonnige ruit. Indien die olie ‘n bietjie grillerig klink, kan ‘n mens ‘n groot vel boekplastiek voor die ruit span en die versierings dan daarop plak.
- Sny die geponsde rand van ‘n papierdoilie af en doop dit in ‘n vlak bakkie met effens verdunde voedselkleursel. Sodra dit droog is, kan die dele effens oorvleuelend op ‘n kruis of ‘n paaseier geplak word. Gebruik een kleur of verskillende kleure. Draai die paaseier of kruis om wanneer dit droog is en knip dan die dele wat oorhang af.
- Doop wit hoendereiers in asyn vir ‘n minuut en haal uit. Smeer Orley Whip (of room in ‘n spuitkannetjie) in blertse oor ‘n bakplaat en drup helder voedselkleursel rond en bont daaroor. Trek die wit eiers versigtig deur die mengsel, rol liggies of skep lepelsvol room liggies daaoor sodat dit heeltemal bedek is en laat dit net so op die plaat in die yskas staan vir ‘n halfuur tot ‘n uur. Was die room af en gebruik die prettige eiers gedurende die Paasnaweek vir ontbyt en dies meer.
- ‘n Mens kan ‘n leë hoender eier met wit gom of muurpapiergom verf en dan die gekleurde doiliepapier daaroor plak. ‘n Lagie gom oor die droë eier sal help om ‘n glans effek te gee. Vul ‘n klein mandjie vir die Paastafel.
‘n Geseënde Paastyd!
Like this:
Like Loading...
Maart 12, 2016
Juffer
afrikaans
Paasfees

Hiermee nog ‘n paar ekstra werksvelle:
Kies ‘n ontwerp en druk genoeg om ‘n muurlys of ingang te dek. Druk die velle op verskillende kleure papier en wissel dit in patroonvorm af.

Tik gerus soekterme soos “Paasfees” of “Bybel” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir ouer inskrywings en drukbare velle.
Like this:
Like Loading...
April 3, 2015
Juffer
afrikaans
Paasfees, Paastyd
This slideshow requires JavaScript.
Hiermee so ‘n paar kunsvlyt idees om as gesin te probeer…
- ‘n Paas-sonvanger: ‘n Eenvoudige, maar effektiewe ruit-versiering is om ‘n son uit snesie-papier (tissue paper) te sny. Plaas ‘n paar lae (oranje en geel) bo-op mekaar en plaas dan ‘n groot sirkelvormige voorwerp bo-op. ‘n Stukkie van die bak kan oor die rand skuif om die horison te maak. Trek af en sny uit. Hou die res van die papier steeds op mekaar en sny die strale uit. Doop ‘n sponsie of watte in kookolie en smeer dit bo-oor. Die papier absorbeer die olie en laat die lae aanmekaar kleef. Dit laat die son ook aan die ruit kleef (lekker morsig, maar mooi). Jy kan die strale se lae afsonderlik (of in die pakkie) om die son versprei en dan kruise, woorde of selfs ‘n versie om of op die son plak. ‘n Mens sal net die letters afsonderlik moet uitknip en plak. Die mooiste deel van hierdie versiering is dat hierdie son gloei wanneer die sonstrale daarop val.
- Kleur eiers met mooi patrone: Gebruik ‘n stukkie sylap (bv. gesnyde ou serpe of dasse) – groot genoeg om styf om die eier te bind – en ‘n stukkie katoen (bv. gesnyde, ou t-hemp). Plaas die sylappie bo-op die katoen en die eier bo-op die materiaal. Vou die lap so glad en styf as moontlik oor die eier en bind die punt met ‘n rekkie vas. Bedek die eier(s) met water en drie eetlepels asyn. Kook vir sowat 20 – 30 minute en haal die eiers uit om af te koel. Die patrone behoort dan netjies agter te bly en die eiers kan as versierings op die tafel dien.
- ‘n Mens kan ook oulike, wasbare tatoeërmerke koop en op eiers afets.
- Los ‘n bietjie muurpapiergom (beskikbaar in klein koevertjies) op en verf die eier daarmee (of houtlym). Rol die eier in blinkertjies om ‘n dik lagie te maak en laat dit op ‘n ou borsel, naelborsel of ‘n speldekussing stelasie* droog word. (*Steek spelde in rytjies of blokkies op ‘n stuk spons of oase in.)
- Verf die eiers met swartbordverf en laat op die speldekussing stelasie droog word. Skryf die gaste se name op elkeen.
- Prik ‘n eierdop met ‘n speld en hang dit aan ‘n effens oop gebuigde skuifspeld. Gebruik verskeie kleure ou naellak en drup dit bo-op water in ‘n klein weggooibare glasie totdat die hele oppervlakte met naellak bedek is. Trek ‘n tandestokkie daardeur om patrone te maak en doop die eier daarin. ‘n Mens sal die eier dalk meer as een keer moet doop en die proses moet herhaal. Hang die skuifspelde aan die wasgoedlyn op totdat die eier droog is.
Vir nog Paasfees of Bybelles idees, kan julle soekterme soos “Paasfees” en “Sondagskool” by die bruin soekblokkie regs-bo in tik.

Like this:
Like Loading...
April 1, 2014
Juffer
afrikaans
Paasfees, Sondagskool
This slideshow requires JavaScript.
- Druk ‘n groot ovaal, reghoek of sirkel uit soutklei. Plaas ‘n kruisvormige koekiedrukker in die middel en “pons” ‘n kruis uit die middel. Strooi ‘n verskeidenheid deursigtige krale in die middel en bak totdat die krale gesmelt het. Hierdie sonvanger kan in die venster of aan die Kersboom gehang word. Indien die outjie vooraf ‘n teksvers in die raam wil skryf (gebruik tandestokkies), kan dit ‘n spesiale boodskap oordra.
- Maak ‘n sonvanger met roomysstokkies en deursigtige plastiek.
- Maak ‘n eie soutkleistempel deur ‘n ontwerp met mooi knope en proppies saam te stel. Laat dit droog word, bak en gebruik. As ‘n mens ‘n kruis-ontwerp gebruik, kan jy die stempel gebruik om inkkruise op soutklei te druk. Druk die kruis met ‘n koekiedrukker uit en sodra dit droog is, kan ‘n mens ‘n borsspeld agterop plak.
- Rol soutklei uit, plaas ‘n growwe doilie of lap bo-op en druk die motief in die klei in. Druk daarna kruise, ovale of sterre met koekiedrukkers uit. Onthou om ‘n gat in die hoek of kant te pons indien jy die ornament iewers wil hang of as ‘n hangertjie wil gebruik.
- Hemelvaart: Verf ‘n papierglasie blou en voeg wit wolkies by. Pons ‘n gat in die boom en ryg ‘n veter of lint deur. Plak ‘n teksvers aan die onderpunt van die lint. Trek die boodskap op na die koppie.
- Maak ‘n graf– met ‘n groot rots wat die opening oop en toe kan rol.
- Ryg ‘n boekmerkkruis.
- Drukbare Paastyd prente
- Paastyd hersiening
- Druk Paasfeeswoorde om op die rand van die kennisgewingbord te plak of gebruik dit as boekmerkies. [Paasfees drukbaar]
- Vissers van mense:
Inkleurprent, inkleurprent, inkleurprent, kruis, Paasfeestake
Like this:
Like Loading...
Maart 11, 2013
Juffer
afrikaans
haas, konyn, kruis, Paasfees

Ek het voorheen ‘n stukkie oor Paasfees geplaas. Hiermee nog so ‘n paar idees.
- Sny ‘n kruis uit foelie en versier met patroonwerk.
- Sny ‘n groot kruis uit ‘n dikkerige karton (soos bokse/dose). Hou dan ‘n muntlegging om die kruis te bedek. Plak dit vas en versier om aan bv. die plaaslike dierebeskermingsvereniging te skenk. Reël met die hoof en lig die ouers net vooraf in van die projek. Dalk voeg hulle ook ‘n ekstra ietsie by.
- Maak ‘n Paashaasknippie uit filtlap. Ouer kinders kan dit dalk self uit knip en gesiggies plak. Dit kan ook by die troeteldiertema pas.
- Wortels: Kry oranje servette vir die bak-en-brou les. Draai die eetgerei daarin toe en versier met groen linte of pypskoonmakers.
- Kosblik: Gebruik blaardeeg om ‘n lang wurmpie te rol. Buig dit in die helfte en vleg of verstrengel die twee bene soos ‘n koeksuster. Rol ‘n balletjie om as stertjie te dien en plaas dit in die lussie. Verf met melk voordat dit gebak word tot goudbruin.
- Kleur wit sjokolade oranje. Doop dan aarbeie daarin en laat droog word. (Kamma wortels)
- Intiem Tydskrif het oulike brooddeeghasies op Facebook gedeel. Rol ‘n balletjie, knip twee snitte vir ore en maak ogies met ‘n tandestokkie.
- Maak vrolike eierhempies. Hierdie voorbeeld is deur ‘n mamma gemaak, maar as ‘n mens materiaalverf ‘n ovaaldrukker en ‘n skoon hempie gebruik, kan die outjies hul eie hempies versier. As jy nie ‘n ovaalvormige stempel het nie, kan jy ‘n ovaalvorm uit ‘n halwe aartappel kerf en vooraf patrone uit die plat oppervlakte kerf. Sodra die verf droog is, stryk mens dit aan die verkeerde kant (dalk huiswerk saam met die geskenkie).
- Drukbare naam- en plekkaartjies (haastema) is hier beskikbaar.
- Perseptuele takies.
Like this:
Like Loading...
April 5, 2012
Juffer
afrikaans
paas, Paasfees, paashaas

Dit is Paasfees en die kleingoed soek moontlik na lekker besigbly idees om hierdie spesiale naweek te vier. Hierdie idees fokus op versierings en kunsvlyt:
- Sny groot kruise uit ou koerantpapier. As jy ‘n lekker dik veselpen (koki) gebruik, kan die kleingoed dit self doen. Laat hulle die kruise met dik verf en koekiedrukkers (of selfs hande) versier of verf dit met verskillende kleure voedselkleursel. Dit kan die kamerdeur of ‘n buitemuur versier. Indien die outjies oud genoeg is, kan hulle gepaste Bybelverse op die kruise skryf.
- Plak ‘n kruis vol munte om in ‘n kollektebordjie te plaas.
- Maak items vir ‘n Opstandingstoneel. Dit behoort ‘n oulike uitstalling te vorm of kan ‘n vertelling vergemaklik.
- Doen ‘n bietjie patroonwerk met iets soos jellie beans (ovaalvormig) of ringvormige lekkers (life savers). Die ringvormige lekkers sal maklik geryg kan word, maar ‘n volwassene sal beslis met die jellie beans moet help. Maak dan armbande as ‘n Paasgeskenk.
- Sny ovaalvormige sjablone of stensils uit harde karton of ou x-straalplate. Trek dit af op “scrapbook”-papier en verdeel jou ovale tussen eiers en hasies. Die vorms is lekker eenvoudig vir klein handjies om uit te knip.
- Maak ‘n “kringetjies en kruisies” raamwerk (op papier/met stokkies of linte) en speel julle eie speletjie.
- Pak verskillende patrone met die vorms.
- Hang dit aan droë takke as versiering.
- As jy verskillende papier gebruik, kan jy dalk twee vorms van elk maak. Die outjies moet dan soortgelyke papier bymekaar pas of selfs ‘n eier en ‘n hasie van dieselfde papier pas.
- As jy ‘n dekoratiewe pons het – een wat ‘n oulike prentjies maak of selfs net ronde gate – kan julle verskillende kleure papier vol gate druk. Versamel die confetti en plak dit op ovaalvorms of tuisgekleurde eiers. Hierdie drukwerk is sommer ‘n lekker oefening vir die handspiere (fynspiere). Julle kan natuurlik ook ou koerante met verskillende kleure voedselkleursel verf, laat droog word en dus julle eie papier maak of herwin.
- Sny hasies uit verskillende tipes papier (gekleurde koerantpapier, bruinpapier, bont papier, afval geskenkpapier). Gebruik die hasies op kaartjies of plak/stik hulle op ‘n lang stuk lint vas. Dit kan ‘n pragtige vensterversiering maak.
- Sonvangers: Trek ‘n groot eiervorm op witpapier. Laat die outjies dan vetkryt skerp maak en strooi die skaafsels rond-en-bont op die eier. Plaas ‘n vel bruinpapier of waspapier bo-oor en smelt die kryt met ‘n strykyster. Die strykyster kan natuurlik met ‘n lekker warm oondpan vervang word (soos ‘n pers). As die kryt gesmelt het en jy tevrede is met die kleurverspreiding, kan julle die eier met verdunde voedselkleursel verf of net so gebruik. Knip die eiervorm uit en hang dit iewers voor ‘n ruit of bo die etenstafel op.
- Laat die kleingoed confetti uit bont papier druk en strooi dit oor ‘n ovaalvorm.
- Versier lepels met sjokolade – om ‘n sjokoladedrankie mee te roer.
- Kuikens: Gebruik ovaalvormige vorms om drukwerk te doen. Gebruik geel verf vir die ovaalvorms en wanneer dit droog is, kan julle oranje driehoekbekkies daarop plak of druk.
- Kuiken in ‘n eier: Trek ‘n sigsaglyn deur ‘n eier en knip dit deur. Plak die helftes op die afsonderlike bene van ‘n wasgoedpennetjie. Maak ‘n kuikentjie om agter (“in”) die onderste helfte te plak. Nou kan die kuiken vir jou loer met elke knyp.

Like this:
Like Loading...
Maart 21, 2010
Juffer
afrikaans
easter, Paasfees, paashaas, paasnaweek

Die kwartaal staan einde se kant toe en dis amper Paasfees. Hiermee dan ‘n paar oulike webwerwe en idees.
- Nooi iemand uit die gemeenskap om gepaste verhale uit die Kinderbybel voor te lees, te dramatiseer of net te vertel.
- Maak eierkranse (soos hier onder), rol boodskappies op en heg met linte aan die krans vas. Besoek instansies in die gemeenskap en oorhandig die kranse – met die mooi wense daaraan vas.
- Hou ‘n paaseiersoektog of -skattejag.
- Gee vir elke kind ‘n hout wasgoedpennetjie om met verf, veselpenne en “glitter” te versier. Hulle kan ‘n ovaal uitknip en versier en aan die een kant van die pennetjie vasplak. Stal die pennetjies teen die muur uit en knyp ‘n malvalekker-paaseier in elkeen vas – vir ‘n bederfie. Of help elkeen om ‘n klein sakkie te maak – soos die hasiesakkie hier onder. Plaas dan ‘n paar “speckled eggs” daarin en oorhandig die geskenkies aan instansies in die gemeenskap.
- Help die kinders om kruise te maak en te versier. Elkeen kan ‘n ander versie rakende die Paastyd daarop skryf. Hang dit aan ‘n tou dwarsoor die klas op. So kan elkeen die proses volg, die versies lees en die boodskap van Paastyd ervaar. Julle kan die kruise met paaseiers vervang – indien die outjies nog klein is en die vormpies eenvoudig moet wees.
Ander gedagtes:
- DLTK werkvelle
- Lesson sense (wiskunde en ander)
- Eierdoolhof
- Krans
- Pragtige “felt” versierings
- Ouma se idees
- Hasie houertjie
- Speletjies
- BAIE takies en idees.
- Voorskools (Christelik)
- Jesus se lewensverhaal (prente)
- Inkleurprente en idees (Christelik)
- Kuns
- Paashaas uit klei
- Paasfees bederf
- Paasfees lekkergoed en ander lekkertes
Like this:
Like Loading...
Woorde