Dit is Paasfees en die kleingoed soek moontlik na lekker besigbly idees om hierdie spesiale naweek te vier. Hierdie idees fokus op versierings en kunsvlyt:
- Sny groot kruise uit ou koerantpapier. As jy ‘n lekker dik veselpen (koki) gebruik, kan die kleingoed dit self doen. Laat hulle die kruise met dik verf en koekiedrukkers (of selfs hande) versier of verf dit met verskillende kleure voedselkleursel. Dit kan die kamerdeur of ‘n buitemuur versier. Indien die outjies oud genoeg is, kan hulle gepaste Bybelverse op die kruise skryf.
- Plak ‘n kruis vol munte om in ‘n kollektebordjie te plaas.
- Maak items vir ‘n Opstandingstoneel. Dit behoort ‘n oulike uitstalling te vorm of kan ‘n vertelling vergemaklik.
- Doen ‘n bietjie patroonwerk met iets soos jellie beans (ovaalvormig) of ringvormige lekkers (life savers). Die ringvormige lekkers sal maklik geryg kan word, maar ‘n volwassene sal beslis met die jellie beans moet help. Maak dan armbande as ‘n Paasgeskenk.
- Sny ovaalvormige sjablone of stensils uit harde karton of ou x-straalplate. Trek dit af op “scrapbook”-papier en verdeel jou ovale tussen eiers en hasies. Die vorms is lekker eenvoudig vir klein handjies om uit te knip.
- Maak ‘n “kringetjies en kruisies” raamwerk (op papier/met stokkies of linte) en speel julle eie speletjie.
- Pak verskillende patrone met die vorms.
- Hang dit aan droë takke as versiering.
- As jy verskillende papier gebruik, kan jy dalk twee vorms van elk maak. Die outjies moet dan soortgelyke papier bymekaar pas of selfs ‘n eier en ‘n hasie van dieselfde papier pas.
- As jy ‘n dekoratiewe pons het – een wat ‘n oulike prentjies maak of selfs net ronde gate – kan julle verskillende kleure papier vol gate druk. Versamel die confetti en plak dit op ovaalvorms of tuisgekleurde eiers. Hierdie drukwerk is sommer ‘n lekker oefening vir die handspiere (fynspiere). Julle kan natuurlik ook ou koerante met verskillende kleure voedselkleursel verf, laat droog word en dus julle eie papier maak of herwin.
- Sny hasies uit verskillende tipes papier (gekleurde koerantpapier, bruinpapier, bont papier, afval geskenkpapier). Gebruik die hasies op kaartjies of plak/stik hulle op ‘n lang stuk lint vas. Dit kan ‘n pragtige vensterversiering maak.
- Sonvangers: Trek ‘n groot eiervorm op witpapier. Laat die outjies dan vetkryt skerp maak en strooi die skaafsels rond-en-bont op die eier. Plaas ‘n vel bruinpapier of waspapier bo-oor en smelt die kryt met ‘n strykyster. Die strykyster kan natuurlik met ‘n lekker warm oondpan vervang word (soos ‘n pers). As die kryt gesmelt het en jy tevrede is met die kleurverspreiding, kan julle die eier met verdunde voedselkleursel verf of net so gebruik. Knip die eiervorm uit en hang dit iewers voor ‘n ruit of bo die etenstafel op.
- Laat die kleingoed confetti uit bont papier druk en strooi dit oor ‘n ovaalvorm.
- Versier lepels met sjokolade – om ‘n sjokoladedrankie mee te roer.
- Kuikens: Gebruik ovaalvormige vorms om drukwerk te doen. Gebruik geel verf vir die ovaalvorms en wanneer dit droog is, kan julle oranje driehoekbekkies daarop plak of druk.
- Kuiken in ‘n eier: Trek ‘n sigsaglyn deur ‘n eier en knip dit deur. Plak die helftes op die afsonderlike bene van ‘n wasgoedpennetjie. Maak ‘n kuikentjie om agter (“in”) die onderste helfte te plak. Nou kan die kuiken vir jou loer met elke knyp.
Apr 17, 2012 @ 07:54:37
Hello Juffrou, My dogter is nou in graad 4. Sy sukkel baie met haar wiskunde. Het u enige werk vraestelle om vir my te gee om haar te help
Dankie
Annalien
LikeLike
Apr 17, 2012 @ 17:08:57
Middag, Annalien 😉
Ongelukkig het ek nie vraestelle nie. Jy kan egter na CNX.org se lesidees, conquesta (uitdaging), getahead en Slimkoppe se voorbeelde. Daar is ook webtuistes soos thinkonline, tuishulp en leerafrikaans123 wat hulpmiddele teen ‘n fooitjie beskikbaar stel. Hul skakels is hier aan die regterkant gelys.
Gelukkig is wiskunde werksvelle en idees op die internet beskikbaar – al is dit in Engels. Spek die bepaalde term “+ grade 3 worksheet” of “+ grade 4 worksheet” en loer of dit die werk is wat julle in gedagte het. Onthou om altyd makliker werk in te voeg om te selfvertroue te lig en dat oorsese grade ietwat verskil van ons s’n 😉
LikeLike