This slideshow requires JavaScript.

Hiermee so ‘n paar kunsvlyt idees om as gesin te probeer…

  • ‘n Paas-sonvanger:  ‘n Eenvoudige, maar effektiewe ruit-versiering is om ‘n son uit snesie-papier (tissue paper) te sny.  Plaas ‘n paar lae (oranje en geel) bo-op mekaar en plaas dan ‘n groot sirkelvormige voorwerp bo-op.  ‘n Stukkie van die bak kan oor die rand skuif om die horison te maak.  Trek af en sny uit.  Hou die res van die papier steeds op mekaar en sny die strale uit.  Doop ‘n sponsie of watte in kookolie en smeer dit bo-oor.  Die papier absorbeer die olie en laat die lae aanmekaar kleef.  Dit laat die son ook aan die ruit kleef (lekker morsig, maar mooi).  Jy kan die strale se lae afsonderlik (of in die pakkie) om die son versprei en dan kruise, woorde of selfs ‘n versie om of op die son plak.  ‘n Mens sal net die letters afsonderlik moet uitknip en plak. Die mooiste deel van hierdie versiering is dat hierdie son gloei wanneer die sonstrale daarop val.
  • Kleur eiers met mooi patrone:  Gebruik ‘n stukkie sylap (bv. gesnyde ou serpe of dasse) – groot genoeg om styf om die eier te bind – en ‘n stukkie katoen (bv. gesnyde, ou t-hemp).  Plaas die sylappie bo-op die katoen en die eier bo-op die materiaal.  Vou die lap so glad en styf as moontlik oor die eier en bind die punt met ‘n rekkie vas.  Bedek die eier(s) met water en drie eetlepels asyn.  Kook vir sowat 20 – 30 minute en haal die eiers uit om af te koel.  Die patrone behoort dan netjies agter te bly en die eiers kan as versierings op die tafel dien.
  • ‘n Mens kan ook oulike, wasbare tatoeërmerke koop en op eiers afets.
  • Los ‘n bietjie muurpapiergom (beskikbaar in klein koevertjies) op en verf die eier daarmee (of houtlym).  Rol die eier in blinkertjies om ‘n dik lagie te maak en laat dit op ‘n ou borsel, naelborsel of ‘n speldekussing stelasie* droog word.  (*Steek spelde in rytjies of blokkies op ‘n stuk spons of oase in.)
  • Verf die eiers met swartbordverf en laat op die speldekussing stelasie droog word.  Skryf die gaste se name op elkeen.
  • Prik ‘n eierdop met ‘n speld en hang dit aan ‘n effens oop gebuigde skuifspeld. Gebruik verskeie kleure ou naellak en drup dit bo-op water in ‘n klein weggooibare glasie totdat die hele oppervlakte met naellak bedek is.  Trek ‘n tandestokkie daardeur om patrone te maak en doop die eier daarin.  ‘n Mens sal die eier dalk meer as een keer moet doop en die proses moet herhaal.  Hang die skuifspelde aan die wasgoedlyn op totdat die eier droog is.
Vir nog Paasfees of Bybelles idees, kan julle soekterme soos “Paasfees” en “Sondagskool” by die bruin soekblokkie regs-bo in tik.
inkleurprente

paastyd