Advertisements
Tuiste

Luidleesdag

4 Kommentaar


Luidleesdag word vanjaar op die 1ste Februarie gevier.

luidlees opsies                boek vraelys

  • Nooi die outjies om ‘n laken, kombers en kussings skool toe te bring om ‘n leesfort te bou.  Hang kersliggies aan die binnekant of laat ‘n bietjie sonlig (venster) in.
  • Hou ‘n boekbesprekingskring.  Stel riglyne voor soos:
    • Moenie die res van die boek weggee nie.
    • Vergelyk iets in die boek met iets in jou lewe, ‘n boek of ‘n toneel in ‘n fliek.  “Dit herinner my aan…”
    • Luister na jou maat.
    • Jy mag aansluit by ‘n maat of iets aanvullends sê.
  • Bring ‘n oulike (kort) storie, rympie of leesstuk skool toe.  Sit in groepe en maak beurte om vir die maats van jou stukkie te vertel.  (“Show and tell”) Steek die stukkies teen ‘n kennisgewingsbord vas sodat maats dit later kan lees of lees dit self voor.
  • Trek soos ‘n karakater aan en vra ‘n klein donasie die klas se boekrak.
  • Maak beurte om maats se leeswerk op te neem.  Kyk daarna en bespreek goeie tegnieke (vermy die glipse).  “Sjoe, jy het goeie aandag aan die leestekens geskenk…Jy lees mooi duidelik…Ek hou daarvan dat jy jou klanke kennis gebruik om daardie moeilike woorde te lees…”
  • Omskep die positiewe kommentare in “Ek kan…”/”Ek weet hoe” muurprente (bv. Ek kan asem haal by die punt.) of selfs boekmerkies.
  • As jy ‘n private kommunikasietoep soos SeeSaw gebruik, stuur die leesvideo of -foto’s direk aan die betrokke ouers.
  • Hou makker leestye met maats uit ‘n ander klas of ‘n ander graadvlak.
  • Nooi familielede (vrywilligers) om na die leesgroepe te luister of individuele leerders te luister.  Skamer outjies kan dalk aanvanklik net na die storie luister.
Tik gerus soekterme soos “Luidlees, lees, boekmerk, sigwoord, flitskaart, stories, leeslys, leesreeks, biblioteek, boeke dag, boeke nag…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke (en meer) idees.
Advertisements

Engelse Stories

Lewer kommentaar


As jy op die onderskeie hofies klik, kan jy die afsonderlike skakels vind om na die stories te luister en om die prente te sien.  Indien jy die “scan to reveal” toeps aflaai, kan jy die onderskeie prente skandeer vir ‘n kort verduideliking van die verskillende klanke.

 

Red Book (stories)

Blue Book (stories)

Green Book (stories)

Stories om deur YouTube te speel.

‘n Paar stories:  Letterland

Pi Dag & Wiskunde Week

Lewer kommentaar


Dit is amper weer Pi Dag en Wêreld Wiskunde Week.  Loer gerus hier na vorige inskrywings om ekstra vaslegging van die konsepte te doen:

This slideshow requires JavaScript.

luidleesdag

Lewer kommentaar


Wat doen jul skool jaarliks vir Luidleesdag?  Min tyd vir lees?  Probeer die volgende:

  • lees flitskaarte
  • lees spelwoorde
  • soek die verklarings van woorde in ‘n klaswoordeboek op
  • lees rympies
  • lees die lirieke van gunstelingliedjies
  • lees opskrifte in die klas
  • lees sigwoorde soos die dae van die week of maande van die jaar
  • lees stories vir mekaar
  • lees stories vir ‘n ouer of ‘n jonger graadvlak
  • ruil klasse en lees stories vir ‘n ander klas
  • lees boeke in die biblioteek of iewers op die skoolgrond (bv. onder ‘n skaduboom)
  • maak boekmerkies
  • bespreek prentjies en voorspel wat moontlik in die storie gaan gebeur
  • lees jul leesboek vir die hoof
  • stap ‘n entjie en lees al die padborde of kennisgewings langs die pad
  • lees verjaarsdae en telefoonnommers
  • bespreek leestekens

Knyp gerus ‘n paar minute gedurende die skooldag of tuis vir ‘n leestydjie af 😉

Tik gerus soekterme soos “lees, sigwoord, flits, komponente, nuwe leser, leesreeks, leeslys, biblioteek…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir verskillende idees en vorige skrywes.

groot en klein

2 Kommentaar


‘n Juffrou het vandag gevra hoe ‘n mens groot en klein aan Graad R kinders kan verduidelik.  Ek sou verskeie soortgelyke items uitstal (betrek die Checkers mini-kruideniersware).  Dink aan ‘n groot yogabal en ‘n klein tennisbal, ‘n groot reistas en die meegaande handbagasie, ‘n groot stoel vir juffrou en ‘n klein stoeltjie vir ‘n kind, ‘n groot mengbak en ‘n klein roomysbakkie, ‘n groot opskeplepel en ‘n klein teelepeltjie…

Loop gerus om die skool en soek na groot en klein items, byvoorbeeld ‘n groot venster en ‘n klein venstertjie, ‘n groot tuin en ‘n klein beddinkie, ‘n groot muurhorlosie en ‘n polshorlosie, drom en drommetjie, sak en sakkie, ‘n groot skoolbus en die mini-bus, ‘n groot skoolskoen en ‘n kleintjie, ‘n groot boek en ‘n kleintjie…(Waak teen woorde soos vet en maer, lank en kort…)

Bespreek die woorde.  Groot items sal dikwels net die woord hê, maar die kleintjie sal die verkleiningsvorm daarby hê.  Hoe spreek ‘n mens die woorde uit en hoeveel klappies (lettergrepe) het elkeen?  Wat hoor jy aan die einde van die verkleiningsvorm?…”ie”, “pie”, “kie”…

big small                groot en klein

Watter van die items kan julle in die sandput of waterbak gebruik? Groot en klein houers, skoene vir voetspore, ‘n groot waterbottel en ‘n kleintjie, ‘n groot roomysbak en ‘n kleintjie…Het julle groot en klein boublokke of groot en klein kledingstukke? Stel dit beskikbaar.

Berei groot koerantvelle voor deur die dubbelblad lengte-gewys in die helfte te vou.  Verf die boonste helfte met effens verdunde blou en die onderste helfte met groen voedsel-kleursel of waterverf.  Kies items om op die landskap te plaas, byvoorbeeld klein en groot huise.  Elke kind kan dan ‘n klein en ‘n groot huis teken of vorms uitknip om groot en klein huise te bou (gebruik basiese vorms soos vierkante, reghoeke, driehoeke, sirkels…).  Plak die koerantpapiervelle langsmekaar in die gang op en laat die outjies hul huise daarop plak.  Kan julle ‘n patroon vorm?  (Bv. groot, klein, groot, klein of groot, klein, klein, groot, klein, klein…)  ‘n Mens kan natuurlik kleiner velle gebruik sodat elke kind ‘n individuele prent maak.

Soek items om drukwerk mee te doen (bv. groot en klein sirkels, groot aartappels en klein aartappels) en maak verskillende soorte patrone – in rye of reg rondom die rand van ‘n bladsy.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens groot en klein gesinslede in die middel of apart teken (om op die agtergrond te plak).

Slaan die trom op ‘n groot koffieblik of op ‘n kleintjie.  As die outjies die groot een se klank hoor, moet hulle soos groot olifante rond trap en as hulle die kleintjie se klank hoor kan hulle krimp tot klein muisies.

Soek gerus stories soos “Klein Duimpie”, “Gouelokkies”, “Jan en die boontjierank”… waar daar verwysings na groot en klein items gemaak word of waar jy daarna kan verwys.

Vra dalk dat ouers groot en klein herwinbare items skool toe stuur.  Sodoende kan die kinders self items volgens groottes sorteer en later weer in dooskonstruksies, water- en sandspel gebruik.

Aan watter idees kan ‘n mens nóg dink?

*Gouelokkies (prente)

gedrag en dergelike dinge

Lewer kommentaar


gedragIemand het navrae gerig oor beloningskaarte.  Dit wissel van ouderdomsgroep tot ouderdomsgroep… Ek het al met sukses ‘n inkleurkaart gehad wat ek dateer het en huis toe gestuur het as dit vol is. Dit is later verklein en gelamineer, sodat ons klein plakkertjies daarop kon plak en ‘n string van elkeen se hangende kaarte kon maak.

Ek het onlangs ‘n beloningskaart met tien kaartjies gebruik. Dit word met klitsgras (velcro) aangevul of weg geneem. Na tien kaartjies, kry die outjie 5 minute ekstra speel- of leestyd, ens.  Een outjie het dié tydjie gebruik om die klas skoon te maak, omdat hy van stofsuiers hou 😉

Party juffrouens gebruik ‘n groot pennetjiebord – waarin ‘n stokkielekker verskuif word totdat die outjie die eindpunt bereik en dit mag eet. Ander gebruik ‘n soortgelyke stelsel in die vorm van ‘n leer wat jy opwaarts met pennetjies klim.  (Toets gholfpennetjies in ‘n pennetjiebord.)

Sommige juffrouens gebruik ligte met byskrifte om die geraasvlakke aan te dui en ek het onlangs gelees van juffrouens wat afstandbeheerde klokkies het (amper soos dié een).  Die eenheid sit na aan die interkom, is versteek op ‘n kas of in ‘n groot Kersversiering (gemerk as Santa’s camera).  As die klas raserig raak, druk sy die klokkie.

Daar is rekenaarprogramme en toeps (apps) wat geraasvlakke aandui, bv. Too Noisy, ClasscraftClassDojoToo Loud Kids Noise Meter & Timer Free en Bouncy Balls.  Chrome het die Zero Noise Classroom aanvulling.

Elders koppel kundiges die karakters van Inside Out aan die program: Zones of Regulation.  Die basiese prente word sigbaar gehou en leiding word gegee om die outjies na die “kalmer” vlakke te bring.  Daar is heelwat idees op die internet beskikbaar.

Trek gerus ‘n eenvoudige, lang horisontale lyn iewers op die bord of span ‘n toutjie teen die muur.  Aan die een kant teken jy ‘n prentjie van ‘n groot probleem (bv. ‘n dak wat af waai) en aan die ander kant ‘n prentjie van ‘n geringe probleempie (bv. ‘n onpaar sokkies).  Wanneer die outjies dan oor iets kla of probleme aanmeld, kan julle ‘n prentjie teken en saam besluit of dit ‘n groot probleem of ‘n kleintjie is.  Bel ons die nooddienste, nader ons die grootmense om hulp, vra ons ‘n maat se hulp of kan ‘n mens dit self oplos?  Skryf jou raad by die probleem en plak dit by die prentjie.  Sodoende kan maats mekaar help.

Die nuutste is die beloningsbandjies/spogbandjies of “brag tags” – wat jy om die arm bind.  Ek het enkele spogbandjies gemaak wat ‘n mens kan inkleur en aanpas vir die unieke situasie.  Dit kan om ‘n tas se band gekram word – in plaas van ‘n gewrig.  Indien julle ‘n boodskapplatform (soos e-posse of SeeSaw) gebruik, neem ‘n foto van die outjie met die bandjie en stuur dit aan die ouers.  Dít sal onmiddellik tot interessante geselsies oppad huis toe lei.

Hoe dit ookal sy…verseker dat jy konsekwent is en prys wanneer jy kan of aan praat wanneer dit moet.

Ek hoop dit kan help 😉

 

This slideshow requires JavaScript.

 

 

Rooimierblussers

Lewer kommentaar


Aan die begin van die skooljaar moet ‘n mens die nuwe roetine inoefen en deurgee.  Die lyfies is nog met vakansie en so ook die eetgewoontes.  Verduidelik aan hulle hoe die rooster werk, wanneer julle sal eet, hoe julle aantree in rye en hoe julle deur die skool gaan stap (bv. hande agter die rug).

Plak/teken prente in die volgorde van die basiese rooster (iewers op die bord of muur) en skuif ‘n magneet of wasgoedpennetjie heen en weer gedurende die eerste dae.  Bv. Ons gaan vandag werk, ‘n peuselhappie neem, badkamer toe gaan en ‘n storie lees voor pouse…Jy mag jou kosblik saamneem as jy uitgaan, maar onthou om iets vir tweede pouse te hou. 

Die jonger outjies sal steeds vrae vra, maar verwys gereeld na die visuele opsie sodat hulle daaraan gewoond kan raak.  Probeer ook die volgende idees gedurende die eerste dae…

Middellynkruising/Ruimtelike Oriëntasie:

Tussen take:  Trek ‘n vertikale lyn om vir die outjie te wys waar sy neus min of meer moet wees.  Teken dan die bekende skrifpatrone lekker groot op ‘n skryfbord van links na regs oor die streep.  Ek maak ‘n begin- en eindkol vir die jonger outjies en plak ‘n voorbeeld bokant die skryfspasie.  Die outjies trek die patroon aanvanklik van linkerkol tot regterkol en daarna doen ons dit weer met die oë toe.  Hulle hoef natuurlik nie op ‘n skryfbord te werk nie en kan in die sandput of met ‘n vinger op die tafel (- later die bad se rand, op die stortdeur of ‘n gestoomde spieël) oefen.  Gebruik ou koerante, vetkryt, verf of gewone bladsye ook.

Spiertonus/Postuur:

Raak ‘n outjie maklik moeg aan die tafel of sak hy/sy ietwat weg in die stoel?  Draai die stoel om, sodat hy/sy wydsbeen en regop teen die rugleuning kan sit.  Dis nie die ideaal nie, maar die lyfie word ondersteun terwyl mens gedurende die dag aan die spiertonus werk.

Kriewelrig:

Is die outjie kriewelrig?  Sny ‘n kepie in twee afsonderlike tennisballe en glip dit onder twee teenoorstaande stoelpote in, sodat die outjie geluidloos heen en weer kan wip.  Indien jou skool klein wiegstoele (rocking chairs) het, kan jy dít inspan of die knobbelrige rubberkussings gebruik wat gewoonlik deur arbeidsterapeute aanbeveel word.

Stel ‘n aftelwekker op jou foon of stel ‘n eierwekkertjie.  Indien jy toegang tot die internet het, kan jy verskeie wekkers aanlyn opsoek.  Gebruik dit om ‘n aanduiding van die werkperiode te gee óf die pouse (bv. 3 minute) tussen take.  Sing dan ‘n aksieliedjie, doen Brain Gym of soortgelyke strekke.  GoNoodle het YouTube video’s wat die ouer outjies dalk kan geniet (loer net eers vooraf om te kies).

Skop die voetjies? Plaas ou telefoonboeke onder die voete sodat die voete geanker is of ruil stoele en tafels om.

Ekstra fynspier oefeninge: 

Hou ‘n ekstra stasie gereed indien die outjies die klaswerk vinniger as verwagting voltooi het:

  • Span ‘n toutjie ooghoogte waar die outjies mooi prente of popklere kan vas knyp.  Verskaf wasgoedpennetjies en metaalklampies, sodat hulle ‘n keuse het.
  • Verskaf middelslag en groot krale in ‘n bak met veters en toutjies – sodat die outjies patrone kan ryg.  Neem foto’s as voorbeelde en lamineer dit as inspirasie.
  • Verskaf groot en klein boublokke.  Neem foto’s van eenvoudige strukture – as inspirasie vir latere bouwerk.  Kan julle letters/klanke/syfers/vorms bou?
  • Gee klei, flubber of slym op ‘n plastiekblad of skinkbord.
  • Verskaf ‘n metaal skinkbord waarop skeerroom gespuit word.  Drup voedselkleursel bo-oor en laat die outjies met ‘n ou potlood of ‘n stokkie daarin teken en druk ‘n bladsy bo-op.  Lig op en skraap die room af met die rand van ‘n liniaal.  Gebruik die droë bladsy as die voorblad of agterkant van ‘n skryfboek.

Verseker dat daar ‘n geleentheid is om saam op te pak en na ‘n storie op die mat te luister.  Wat was die lekkerste deel van jou dag?  Onthou en geniet elke oomblik.

Tik ook soekterme soos “eerste dag” of “nuwe jaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

Older Entries

%d bloggers like this: