Loer gerus na die dokumente wat hier onder gelys is en ook na die lysie skakels wat aan die regterkant (onder die verkorte inhoudsopgawe) beskikbaar is. Lekker lees!
Die tweede werkboek vir Kwartale 3 en 4 is beskikbaar. Die boeke is gratis beskikbaar en mag nie verkoop word nie. Indien daar tekorte by skole is, kan ‘n mens dit aflaai en druk. Nie alle graadvlakke het tale of FAL- en EAT-boeke beskikbaar nie. Boeke uit vorige jare is hier beskikbaar. Loer ook hier na punte 15 en 16.
Enkele mense het vir antwoordstelle gevra. Ek is nie van antwoordgidse bewus nie – buiten die 2014 Wiskunde antwoorde nie. Loer gerus onder hierdie lysie (net onder die werkboekprentjie) – na punt 9 🙂
In die voorskoolse jare werk ‘n mens voortdurend informeel en soveel as moontlik spelenderwys. Die leerwerk geskied deur middel van sintuiglike ervaring en papierwerk (takies) word sover as moontlik vermy. Daar is egter aspekte wat ‘n mens wel deur werksvelle kan vaslê of moet demonstreer.
Roetine en struktuur: Dit skep ‘n bekende verwysingsraamwerk waarin die jong kind veilig en geborge voel. Gesels oor die roetine van die dag (tuis en by die skool) en wat ‘n mens kan doen om aanpassings te maak.
Stel die dag se verloop visueel voor.
Wat gebeur as ek klaar ontbyt geëet het en aangetrek het vir skool? Ek tel my tas op en wag by die deur. Wie neem my skool toe? Wie gaan my kom haal? Wat doen ek as…?
Skep ‘n bewuswording van tydsverloop: Gebruik woordeskat soos “ons gaan eers hande was, dan bid en daarna eet”. “Ons gaan nou speel en later bad.”
Rymwerk: Sê erkende rympies op of maak onsinrympies op. Begin met ‘n rympie en laat die outjie die raaisel voltooi (bv. “Die bal is rooi en ek kan dit …”).
Identifikasie van die aanvangsklank: Wat hoor jy eerste – aan die begin van…? Werk aanvanklik met kort woorde wat met ‘n medeklinker begin. Gebruik die klankname in plaas van die alfabetname (bv. “a” vir appel teenoor A wat soos “aa” klink).
Identifikasie van geluide buite en binne die vertrek: Wat hoor jy buite die huis? Wat hoor jy in die huis?
Visuele oefeninge bv.
Die uitkenning van ooreenkomste en verskille in prente en simbole. Aktiwiteitsboeke het dikwels twee byna eenderse prente – waar jy 5 tot 10 verskille moet aandui – of aktiwiteite waar jy ‘n soortgelyke simbool/prent moet soek.
Die begrip dat ‘n simbool deel vorm van ‘n geheel – soos ‘n legkaart, embleem, naam of woord): Hierdie waarnemingsvaardhede help veral met die uitkenning van klanke en syfersimbole en verminder die verwarring van byna eenderse simbole soos b/d/p/q, t/f en h/n/u.
Wiskundige konsepte:
Die begrip dat ‘n mens versamelings kan tel en dat die onderskeie woorde hoeveelhedevoorstel, dien as die aanvangswerk vir wiskunde (bv. Ek is vyf vingers oud. So lyk 5. As ek weer verjaar, sal ek ses jaar oud wees.).
Konsepte soos eerste, laaste, voor, na, agter, tussen, baie en min, meer en minder, groot en klein, groter en kleiner en ‘n kennis van basiese vorms gaan baie handig te pas kom.
Taal-, spraak- en woordeskatontwikkeling gaan die kind se kennis van konsepte en begrip vir nuwe werk versterk en ook ‘n verwysingsbron skep vir die aanleer van ‘n tweede taal. Dít kan deur voorlesings, liedjies, rympies en gesprekvoering (korrekte voorbeelde) ontwikkel word.
As die outjie sy tale meng, herhaal die korrekte sin of frase terloops. Bv. Die kind het “geswing”. Het die kind hoog geswaai?
As die outjie ‘n uitspraakfout maak, kan ‘n mens die korrekte voorbeeld soos in die vorige voorbeeld voorhou. Indien die uitspraak nie in die Graad R-jaar verbeter nie, kan ‘n mens met die klasjuffrou en ‘n gesoute spraak- en taalterapeut gesels. Daar is egter sekere klanke wat kinders eers op ‘n latere ouderdom bemeester en waaroor ‘n mens nie hoef te kwel nie.
Liggaamlike of spierontwikkeling:
Doen grootspier oefeninge soos
skop na ‘n teiken, groot balle en kleiner balle
gooi na ‘n teiken, groot balle en kleiner balle
vang groter en kleiner balle, boontjiesakkies, ens.
knypwerk met klampies, wasgoedpennetjies, tangetjies
skroef-aksies met moere en skroewe of bottelproppe
vleg-aksies,
kleispel,
knip- en
tekenwerk.
Die ontwikkeling van die groter spiere help met die versterking van die liggaamsspiere en om die uithouvermoë vir sit- en skryf-aksies te verbeter.
Die voortgesette ontwikkeling van die fyn- (of hand-) en armspiere help die kind om skryfaksies uit te voer en om die potlood met minder inspanning te gebruik. Vir tekenwerk, gebruik ons aanvanklik dik kryte of veselpenne en later die driehoekige tipe (tri-grip) of ‘n dunner kryt. Knip aanvanklik kleiwurmpies, snipper papier en knip reguit en kartellyne uit kartonnetjies.
Indien die outjie linkshandig is, gaan ‘n mens ‘n paar aanpassings moet maak ter ondersteuning.
‘n Begrip vir rigting (bv. hier, daar, links, regs, bo, onder, middel) gaan beslis help om die kind op die bladsy te oriënteer in terme van waar hy of sy moet begin teken en skryf – asook om omkerings en verwarrings in die latere skryfproses te verminder. Gebruik die rigtingwoorde tydens gesprekke, maar wys ook wat dit beteken.
‘n Goeie kennis van persoonlike inligting(bv. naam, van, adres, ‘n telefoonnommer, verjaarsdagdatum, ouderdom) is waardevolle vaardighede en kennis om te hê.
Die herkenning van sy/haar naam is belangrik en in die voorskoolse fase gaan die outjies die ander inligting mondelings in plaas van skriftelik verskaf.
Weet die outjie wat hom/haar uniek maak? Bv. haarkleur, die kleur van die oë, ens.
Hierdie is slegs ‘n tikseltjie van die aspekte wat in die voorskoolse fase aangespreek word, maar behoort as ‘n goeie wegspringplek te dien.
Probeer om soveel sintuie as moontlik te betrek en gee vir die outjie ‘n verskeidenheid maniere om die werk te hersien.
Ons skryf dikwels die woorde groot op “flitskaarte” (gebruik sommer ou papbokse en dergelike kartonnetjies) en verf dan pofferige verf met ‘n oorstokkie bo-oor. Die outjie kan dit self in die mikrogolfoond plaas en laat verhard (onder toesig). Sodra dit afkoel, kan hy bo-oor die woorde voel of ‘n bladsy bo-oor plaas en met ‘n vetkryt inkleur om ‘n afdruk te maak.
Plaas die woorde sigbaar teen die muur en gee vir hom/haar meel, suiker of klei om in/op te skryf of waarmee hy die woorde kan vorm en kopieer. Skryf of teken die los letters, syfers, vorms en patrone groot op ‘n bladsy. Trek dit na met ‘n gomstiffie en strooi dán die suiker of sand bo-oor.
Die los kaarte kan gekram word om dit sommer in die motor te hersien.
Die los letters van “Scrabble” werk goed. Kyk sommer hoeveel punte elke “Scrabble”-spelwyse tel vir ‘n bietjie wiskunde hersiening.
‘n Ander idee is om ‘n groot vel tinfoelie op ‘n skinkbord/tafel te plaas. Spuit skeerroom daarop (‘n bietjie) en laat die outjie dan die woorde daarin skryf – met die vinger of ‘n kwas.
Op SENTEACHER.org, kan julle jul eie “woordsoeke” skep, sodat die outjie sy woorde só soek en hersien. Fokus aanvanklik net op horisontale woorde, dan ook vertikale woorde en heelwat later – diagonale woorde.
Loer gerus ook na hierdie opsies en tik ook soekterme soos syfers, skrif, skryf, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiings, vorms, patrone, flits, sigwoorde, robotkaart…by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
Tik gerus soekterme soos Hulpmiddels, Graad R, Graad 1, Eerste Dag, Naamkaartjies, Dekor, Teacha…by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.
Koekeloer, kies, klik, koop en druk uit. Ek het vele navrae ontvang. Laat weet gerus indien daar nog onsekerheid is 😉 Kyk na die naam onderaan die produk en tik dit op Teacha se soekspasie in.
“Water babies”, “water beads” of Jelliekrale vir sensoriese/waterspel:
Plaas in ‘n (deursigtige) plastiekbak – ‘n groter oppervlakte speel lekkerder – en vul met water. Voeg kort-kort water by totdat die krale lekker vet is.
Gebruik ‘n plat bak en vul die bak met opgepofde krale. Versteek magneetletters en syfers op die bodem en vra dat die outjie sekere letters of syfers soek en uitlig. Gebruik die tone indien julle lus het.
Indien jy bont kleure het, gee ‘n bakkie vir elke kleur en merk die bakkies met daardie kleure (kolle of woorde). Sorteer dan die kleure.
Smeer ‘n laag skeerroom op ‘n vlak skinkbord en bou prente, syfers, vorms of klanke in die room.
Kyk of die krale kan bons – in ‘n bak of bad.
Tap ‘n bietjie water in ‘n bad of klein swembadjie. Skep die krale met ‘n klein netjie of ‘n lepel uit.
Indien julle kleurlose krale het: Verflou verskillende kleure voedselkleursel (of waterverf) met water – in verskillende bakkies – en kyk hoe dit die krale in die onderskeie bakke verander.
Indien die skool ‘n ultravioletlig (black light) het: Breek highlighters (veral heldergeel verligters) oop en sny die inkveselkussing oop. Laat dit in ‘n bak dreineer en voeg ‘n paar jelliekrale daarin. Voeg ‘n bietjie water by, skyn die lig daarop en kyk hoe die krale gloei. Maak seker dat die verligter veilig is om te gebruik (non toxic). Hierdie eksperiment kan dalk beter werk as ‘n mens ‘n deursigtige bak bo-op ‘n glas of draad tafel plaas – met die lig onder.
Voeg ‘n paar vet krale in ‘n plastiekglasie (of in ysbakkies) en vries. Voeg die gevriesde blokkies in ‘n waterbak en speel daarmee totdat dit smelt. Kyk wat sal gebeur as ‘n mens die krale in ballonne laat swel en vries.
Juffrou T het idees in verband met beroepe (voorskoolse vlak) gevra. Hiermee dan so ‘n paar idees…
As ‘n mens oor beroepe (of werke) praat, kan ‘n mens na die ouers se beroepe kyk of vooraf ‘n opname maak oor wat elkeen wil word “as jy groot is”. Betrek ‘n paar van hierdie beroepe of kies ‘n paar opwindende beroepe.
Dink aan vrae soos:
Onthou dat die besprekingskring ‘n ideale geleentheid is om die woordeskat uit te brei.
Wat sal jy dra? (uniform, gewone klere, kleurskema/kleure)
Sal mense weet wat jou beroep is deur net na jou te kyk? (unieke besonderhede aan die uniform – skoene, stewels, pet, balkies, lapelwapens, spesifieke voertuig…)
Wat doen jy by die werk?
Wat gebruik jy in jou beroep? (rekenaar, toerusting…)
Maak ‘n leeumasker en trek strepies vir snywerk al om die rand van ‘n papierbord. Die outjies teken dan die gevreet, kleur die rand (maanhare) in en sny die strepies al om die rand om wippende maanhare te maak. Vir die jonger outjies, kan ‘n mens die oë, snoet en bek met ‘n swart veselpen teken. Hulle kleur die leeu dan met vetkryt in en verf bo-oor met effens verdunde oranje en/of eiergeel voedselkleursel. Sodra dit droog is, kan hulle die maanhare sny (dalk ‘n tweede dag se ekstra taak).
Groter kinders kan die leeumasker maak deur ‘n sirkel uit karton te sny. Afhangende van hul vaardighede, kan ‘n mens die oë, snoet en bek vooraf binne-in die sirkel teken en afrol. Die outjies sny die sirkel uit en ook die gate vir die oë. Daarna verskaf ‘n mens smal strokies gekleurde papier (dalk vooraf gekleurde papier) om die maanhare te vorm. Wys vir hulle hoe om die repies styf om ‘n potlood te rol, sodat die hare effens krul. Verskaf verskillende kleure en skakerings en wys vir hulle hoe om die kleure al om die rand te herhaal (soos ‘n patroon).
Maanhare kan ook met drukwerk gemaak word. Druk ‘n bladsy vol geelbruin hande. Sodra dit droog is, kan die outjies al om die buiterand knip.
Maak ‘n sebra en ‘n kameelperd deur ‘n handafdruk te maak en die besonderhede by te voeg met druk- of verfwerk.
As julle oor ‘n wildbewaarder praat, kan elkeen ‘n “selfportret”-gesig met ‘n safari-hoed maak. Maak dan ‘n enorme Jeep en gee vir outjies byvoorbeeld groot blare of ‘n savanna-grasveld om te verf. Maak dan ‘n muurtoneel met die hele klas op in die Jeep.
Versier die tafels (of leeshoekie) soos ‘n wildbewaarder se Jeep.
Soms gee dieretuine vir die diere ‘n yshappie. Dalk kan die outjies self ysies deur ‘n stokkie te merk (skryf naam op) en geure te giet.
Koppe en sterte speletjie: Sny alles uit en bedek met breë kleeflint of lamineer die prente. Sny die diere dan middeldeur. Die outjies moet dan die korrekte dele bymekaar pas.
2. Polisie en Veiligheid:
Maak ‘n pet deur ‘n donkerblou bladsy in die helfte te vou en die helfte van die pet met ‘n swart veselpen te teken. Die outjies leer dan van simmetrie as hulle hul geknipte patroon oop vou en ‘n pet sien! Gebruik onverdunde, blou voedselkleursel om die papier te kleur (kinders kan die vorige dag verf). Kies die polisie of verkeersdepartement se kentekens om voor op die pet te plak.
Vir oog-hand koördinasie, kan jy ‘n paar padletters uitsny (kies die korrekte Graad 1-skrif), sodat die outjies met motortjies daarop kan ry.
Graad R: Wys prente van nooddienste en speel die klank van die sirene saam. Dan kan jy dalk ‘n storie soek met nooddienste daarin. Speel later ‘n ouditiewe geheue speletjie. Gee vir elkeen ‘n keuse van nooddiensprente (dieselfde as jou voorbeelde). As jy die sirene speel, moet hulle die korrekte diens of prent herroep en wys. Dalk kan julle die noodnommers in verskillende ritmes sê om dit aan te leer.
Lê daar dikwels skoolskoene en -klere op die vloer? Hiermee dan ‘n paar goedkoop bêre idees om die kledingstukke smiddae op te hang en om die skoene blink te hou.
In die klas…
As jou skool nie hake het nie: Maak eenvoudige klerehake deur stukke ou speelgoed (bv. arms, bene, skaakstukke), ongebruikte deurknoppe of gesaagde takke eenvormig te spuitverf of in die oorspronklike vorm aan ‘n lang houtplank vas te skroef/lym. Hangers of kledingstukke het dan altyd ‘n plek om te hang (veral die fantasiespel klere). Tuis kan die knoppe vervang word soos die outjies ouer word.
As jy nie hake wil gebruik nie, maak ‘n reling, herwin ‘n ou netbalring/hoepel of sit ‘n handdoekreling onderstebo onder aan ‘n raamwerk/balke (as jou Graad R-klas ‘n ekstra vlak het) vas. Hang die klere dan aan hangers op.
Kies eenvormige houers (bv. opvoubare lapsakke, deursigtige plastiek houers met deksels of selfs roomysbakke) om soortgelyke hulpbronne te bêre. Die ideaal is om items vinnig op te spoor en te organiseer. Deksels help natuurlik om stof en moontlike waterskade te vermy.
Gebruik eierdosies of ou ysbakkies vir stempels, skuifspelde, haarknippies en allerlei kleinighede.
Verlore items:
As klere en besittings verlore raak kan ‘n mens dit vinnig aan die eienaar terug besorg. Indien daar geen naam op is nie, kan ‘n mens dit in ‘n algemene houer plaas waar dit geleen kan word.
Vra dat ouers die kinders se name groot binne-in die skoene se skryf. Indien daar vrese is dat die veselpen (koki) op wit sokkies sal afgee, kan ‘n mens op die binnesool skryf of naamplakkers gebruik.
Vra dat alle kledingstukke (selfs swemdrag en onderklere) duidelik gemerk word met lap naamstrokies of spesiale veselpenne vir klere.
By die huis…
Koop ‘n stelletjie hout hangers (gewoonlik in pakke van 5) en merk elkeen met ‘n byskrif of oulike boodskappie of beskrywing (bv. hemp, trui, rok…). As die outjies smiddae tuis kom, kan die klere op gehang word vir nog ‘n draslag.
Vir die dogtertjies se haarknippies, -rekkies en -linte kan ‘n mens ‘n ou pop of lang vlegsels (gevleg uit vol of vals haarinsetsels) aan die klerehaak/-plank vasheg. Só kan die rekkies op ‘n spesifieke plek gebêre word.
‘n Vinnige gedagte om die skoene blink te hou: Maak ‘n oulike kissie om die skoenpolitoer in te hou. Pak kitspolitoer én die poetssoort daarin. Voeg etlike lappe en sagte borsels by om die skoene blink te poets. Plaas dan ‘n groterige, oop dosie (ook ‘n plastiese krat, matjie of selfs koerantpapier) saam met die skoenpoetskissie in die kamer. Só kan die outjies smiddae die skoene bêre, gou afstof en die matte skoon hou.
‘n Mens kan natuurlik ‘n kissie vir elkeen se skoene hê – om aan te trek op pad by die deur uit.
Die eerste dag van Graad 1 is baie spesiaal, want hierdie jaar gaan die outjies leer lees en dus is daar groot opgewondenheid. Wat kan ‘n juffrou doen om die outjies te verwelkom?
Stel ‘n pakkie met inligting saam (oor die skool se geskiedenis, akademie, sport, kulturele bedrywighede, gemeenskapswerk en reëls) om aan die ouers te oorhandig. Só kan hulle na afloop van die eerste dag reeds bewus wees van belangrike reëlings voordat jy dit by die eerste oueraand kan oordra.
Besluit hoe geld (bv. snoepie, fooie) hanteer sal word. Gebruik die outjies beursies of gemerkte banksakkies? Word dit in die tasse gehou of het die klas ‘n kluis?
Wat gebeur met verlore items? Word daar ekstra skryfbehoeftes by die skool gestoor indien ‘n potlood sou breek of iets aan gevul moet word?
Maak inligtingstukkies vir die kennisgewingsbord met goeie gewoontes vir die skooljaar. Bv. foto’s van gesonde kosblikke (“Lekkers slegs op Vrydae”), netjiese potloodblikkies (“My skryfbehoeftes is gemerk”), netjiese skooltasse (“My tas is gereed”), boodskapboekies en die skooldrag (ook foto’s van die sportdrag). Dít kan in die gang geplak word, sodat die ouers en kinders dit kan raak sien oppad klas toe. Herhaal dit in die inligtingstuk.
‘n Ander gedagte is om elke klasdeur met ‘n spesifieke kleur te verf. (Bv. Juffrou D se deur is pers.) Verf dan baksteengrootte stippellyne (of ‘n soliede lyn) in die gang en merk dit met pyle en klein fototjies van die klasjuffrou. As die outjie dan verdwaal, volg hy net die lyn en foto’s tot by sy juffrou. ‘n Mens kan ‘n rigtingbordjie buite kernklasse (of die badkamers) aan bring om hiermee te help. As jy later kinders na ander juffrouens wil stuur, kan jy bloot aandui dat die outjie bv. “die groen lyn” moet volg.
Dit is belangrik om vir die outjies te gaan wys waar al die belangrikste plekkies is en ook hoe om daar te kom (bv. die badkamer en sekretaresse).
Indien daar ‘n goeie fotograaf in die skool is, kan dié persoon van elke kind ‘n foto neem vir die skool se webtuiste of vir die koerant. Dit kan nogal baie tyd in beslag neem en daarom sal hierdie fotosessies vroeg reeds moet begin.
Stel ‘n fotohoekie of twee op waar ouers en kinders “eerste dag van skool” foto’s kan neem:
Boublokkies met letters (bou byvoorbeeld abc, Graad 1, groot skool…)
Verseker dat elke kind ‘n spesifieke staanplek vir sy tas het. ‘n Tydsame, maar effektiewe manier om alles uniek te merk (naamkaartjie, sitplek, stoel, tasrak…) is om ‘n unieke prent aan elke leerder toe te ken. Bv. Jana Louw het ‘n krimpvarkie en Jayda Van Wyk het ‘n flamink. As ‘n mens dit lamineer, kan jy die kaartjies later rond skuif en behoort dit heel jaar te hou. [kaartjies met prente]
Kies ‘n tema vir die klas en gebruik dit in boodskapbriefies, naamkaartjies en versierings. Versier die klasdeur met kindervriendelike prente of gebruik selfs ‘n toegangslengte/-maatstok om “slegs kinders” toe te laat (amper soos by pretparkritte).
Dit is baie spesiaal om by ‘n klas in te stap waar die juffrou verrassings op die tafels gepak het. Soek storieboekie oor die eerste dag van skool, sodat die ouers en kinders dit kan lees terwyl jy ander kinders by die deur ontvang. Verskaf groot velle papier waarop die outjies kan teken of inkleurprente. Wat van ‘n lekkernytjie en snesies?
Plaas ‘n unieke naamkaartjie op elke tafel – waarop die ouers hul nuutste kontakbesonderhede kan skryf en voorsien ‘n blik of “posbus” daarvoor by die deur. Indien daar ‘n noodsituasie sou op duik, kan jy die kaartjie vinnig trek en die ouers kontak.
Jy kan die kinders betrek om saam met jou die klas te versier. Gee byvoorbeeld vir elkeen ‘n groot vorm (nie net driehoeke nie) om te versier en uit te knip. Jy kan karton, scrapbook papier, tafeldoek plastiek of selfs lap gebruik (as jy self wil sny). ‘n Eenvormige kleur, verf en ‘n groot stempel (soos potlode of appels) kan baie effektief wees op hierdie tipe “bunting” of vlaggies.
Met groepwerk kan jy kunsdoeke voorberei en vir die outjies haardroëers gee om vetkryte daarop te laat smelt. Gebruik dit as deurversiering (fotoraam met ‘n lawwe, eerste dag klasfoto) of hang verskeie kunsdoeke in die gang op. As jy lang stroke lap só (of met spatsels onverdunde voedselkleursel) kan versier, kan ‘n mens rame vir die aansteekbord maak. Onthou om voorskote te dra!
Boekmerk: Gee roomys- of tongstokkies met ‘n “inkleurprent” wat die outjies met veselpenne of verf kan versier. Hoe groter die stokkie, hoe netjieser kan hulle werk. Elkeen kan sy eie naam agterop skryf en die boekmerkies huis toe neem of in die klas gebruik.
Ek het ‘n paar navrae in verband met Bybellesse en Sondagskool ontvang. Ek plaas hiermee skakels na baie oulike webtuistes wat idees bied om die lesse vas te lê. Dit is nie ‘n kurrikulum nie en dien slegs as aanvullende hulpmiddels vir die jongspan.
Die CAPS-kurrikulum is aanlyn beskikbaar. Jy kan ook die departementele werkboeke vir gesyferdheid en geletterdheid aflaai. Ons het gemerk dat die dokumente ingewikkelde terme rakende skrif gebruik…”arkade” en “guirlande” patrone. Ek verstaan dit as volg:
Garlands/Guirlande is die rondings soos in ‘n “apieswaai patroon”. Dit sinspeel op die “Garlands”, tinselof kersversierings wat ‘n mens kan drapeer. Die Arkadepatrone is die hoppies van ‘n “hasiehop” patroon (“arches”).
Die Aangepaste CAPS (leerders met spesifieke/spesiale onderwysbehoeftes) – DCAPS:
Ek moes die afgelope tyd my gedagtes weer reg aanskroef om ‘n jong leerder met fyn motoriese vaardighede en oog-hand koördinasie te help. Hier is sommer so ‘n paar foto’s en oefeninge uit ons leersessies…
Die outjie sukkel met skrif en daarom het ek byvoorbeeld sy naam en syfers met kolletjieskrif getik en uitgedruk. Die naam is met breë kleeflint oorgetrek en kan hergebruik word. Hy skryf met ‘n witbordpen en dit kan herhaaldelik skoon gevee en weer gebruik word.
Druk die naam groot uit en skryf bo-oor die letters met ‘n gomstiffie. Strooi of sprinkel blinkertjies, sand of poeier bo-oor. Sodra dit droog is, kan ‘n mens met die vinger bo-oor voel.
Dan het ons ‘n plastiese sakkie met loperige seep gevul en deeglik geseël. (Die seperigheid loop en gee mee terwyl hy skryf). Hy het eers met sy vinger op die sakkie geskryf, maar nou plaas ons dit bo-op sy naam en trek hy sy naam daarop. Sommige dae word die witbordpen ook ingespan.
Ek het ‘n oulike idee by Renee Lighton gesien – waar die outjies in room skryf. Daar is mos maar altyd ‘n bietjie ou handeroom iewers in die huis en ons het lekker daarin geoefen. Dan het ons sommer ook in sand geskryf. Al hierdie sintuiglike ervaring het tot dusver gehelp dat die outjie met meer gemak skryf. Ons hou die skrif egter groot.
Ons het ‘n gaatjiedrukker ingespan om gate om die rand van manilla / karton te druk en beoog om sommer ou polistereenbakkies vol gate te maak. ‘n Mens kan die gate soos ‘n dot-to-dot takie inspan – eers met ‘n kryt verbind en dan knip om die knip aksie te verbeter. As jy lus het kan ‘n mens wol, tou of lint deur die gate ryg.
Ons het lang wurms uit stywe klei gerol en sommer blinkertjies op die tafel gestrooi – vir die mooi. Hierdie blink wurms is in spirale opgerol en kan as ‘n plekmatjie gebruik word. ‘n Mens kan natuurlik die wurm met ‘n skêr knip – vir ‘n bietjie weerstand.
Rol klei in ‘n balletjie en druk dit plat. Skryf en teken daarin. Ons het ook die klei in ‘n slangetjie gerol en dan bo-op groot gedrukte syfers laat lê. Daarna was dit makliker om die syfers oor te skryf. As jy vas haak en vergeet, kan ‘n mens gou vinnig bo-oor die klei voel en weer probeer.
Los vorms is gesorteer volgens grootte, vorm en kleur. Daarna het ons patrone na gebou en toe probeer teken. Later het ons die vorms op ‘n pennetjiebord probeer bou en die fyn knypwerk was nogal rede vir groot inspanning. Dan het ons sommer die los vorms met behulp van ‘n wasgoedpennetjie op getel en in die bakkie gebêre – omtrent ‘n storie!
Vir nog oog-hand koördinasie oefening het ons eenvoudige doolhoftake voltooi. Die lynspasies was redelik reguit, eenvoudig en breed. Die outjie het ‘n klein magneetjie bo-op die bladsy met behulp van ‘n metaalstukkie onderkant geskuif. Na ‘n paar probeerslae is kryte in gespan.
Skryf syfers en klanke of teken vorms op polistereenbordjies en gee vir die outjie iets soos ‘n stomp borduurnaald om gate al op die lyn langs te druk. As ‘n mens gate reg deur die bordjie kan kry, kan julle selfs later borduurgare daar deur ryg en eenvoudige prente maak.
Die stempels is gebruik om visuele oefeninge te voltooi. Ons het die prentjie wat anders as die eerste een lyk met ‘n stempel gemerk. ‘n Mens kan stempels vir patroonwerk ook gebruik en hoef nie gekooptes te hê nie. Kurkproppe en knope werk net so goed.
Die vingerpoppie kom uit ‘n ou boek genaamd Doen dit vandag en is basies ‘n mannetjie sonder bene. Jy kan enige mannetjie teken en gate vir vingers daarin knip. Ons het sommer ons reeds voltooide doolhowe met dié mannetjie gevolg. Dit gee die vingertjies lekker oefening en een van die dae gaan ons die lengte van die klas plat draf.
Ten laaste is daar verskeie ander idees en oefeninge op hierdie blog. Loer gerus na die “Drukbares” hofie of tik soekterme soos abc, skryf, skrif, syfers, patrone, vorms, fynspier, handspier…by die soekblokkie in. Lekker oefen!
T het gevra vir buitespel idees met die tema dokter.
Dokter is ‘n bietjie moeilik as ‘n mens die veiligheids-aspek in ag moet neem. ‘n Mens kon seker lekker spuitwerk met verskillende (naaldlose) inspuitings gedoen het by die waterspelbak, maar dalk gee dit die outjies die verkeerde idee.
Wat van fantasiespel? Gee eenvoudige stetoskope en repe materiaal vir verbande. Gee ‘n matrassie vir die ondersoektafel, handskoene en maskers vir die “kieme”. Jy kan dalk iets soos ‘n botteltjie seep eenkant neersit en dan die belangrikheid van higiëne en higiëniese omstandighede in bring. As die skoolgrond ‘n voertuig of klimraam in die vorm van ‘n voertuig het, kan jy dit met ‘n laken en ‘n rooi kruis in ‘n ambulans omskep.
Wat van ‘n hindernisbaan? Die outjies trek dan doktersjassie aan of sit ‘n stetoskoop om die nek. Dan moet hulle jou getekende aanwysings volg om deur die skool se speelgrond te beweeg tot by die noodsituasie – soos ‘n pop wat seer gekry het. Teken ‘n roetekaart wat byvoorbeeld aandui dat hulle na die swaai moet gaan. Daar moet hulle ‘n uitdaging of ‘n taak verrig soos om hulle hande te was met ‘n higiëniese sepie of om ‘n pop se koors te neem. Daarna kry hulle nog aanwysings tot by die volgende punt – soos in The Amazing Race.
Dink aan dinge wat in ‘n hospitaal te vinde is soos ‘n x-straal masjien. Gryp sommer ‘n ou raam of sny een uit karton – spuit of verf dit met swart verf en span ‘n swart sak in die gat. Siedaar! ‘n X-straal masjien waar agter die outjies moet staan. As jy genoeg tyd het, kan jy ‘n gleuf teen die kant in sny. Verf dan deel van ‘n geraamte (ribbekas, bene…) op verskillende kartonne wat in die raam sal pas. Die outjies skuif dan kamma die gepaste x-straalplaat by die skerm in om te kyk wat fout is. Dalk ken jy iemand wat ou plate kan afstaan vir die doel. Dalk kan jy ‘n uitdaging hê waar die outjies liggaamsdele moet benoem…
Johlene het gevra vir ‘n paar gedagtes oor higiëne. Hiermee dan so ‘n paar idees…(vir voorskoolse kleintjies)
Wat daarvan as julle waslappies met patroonwerk bedruk? Sny ‘n handdoek in blokke op, stik om en bedruk met lapverf. Gee vir die outjies verskillende proppe, doppies en koekiedrukkers om die drukwerk mee te doen. As jy ‘n spesifieke patroon in gedagte het kan jy dit op ‘n papier druk en vra dat hulle dit moet probeer nadruk. As die lappies droog is kan jy dit in ‘n tuimeldroeër uitdroog. Dit is ‘n lekker funksionele “kunswerk” wat hopelik baie gebruik sal word 😆
Doen fynspier of handspier oefeninge deur malvalekkers met skoon skêrre te sny. Probeer ook iets soos malvalekker-glimlagte of
‘n tand-halssnoer uit harde klei…Die klei is gewoonlik beskikbaar by kunswinkels en is meestal verkrygbaar in helder kleure. Jy moet dit behoorlik knie en bewerk om sag te kry, maar as dit sag is kan jy iets soos tande daarmee vorm. Druk ‘n stokkie deur die tand om ‘n gat te vorm en ryg ‘n riempie daardeur as die tand verhard het. Om die tand wit te maak kan jy wit verf gebruik. Indien iemand ‘n pottebakster ken, kan die tande selfs van pottebakkersklei gemaak word. Soutklei werk ook perfek.
Verduidelik die redes waarom ‘n mens jou hande moet was.
Maak ‘n gogga- of kiemmonster: Gooi ‘n paar druppels voedselkleursel by seepwater (skottelgoed wasmiddel werk lekker). Laat die outjies dit met ‘n strooitjie blaas dat die borrels staan. Sodra die borrels lekker oor die rand peul, kan jy die strooitjie verwyder en liggies met ‘n vel papier daarop druk om die borrelpatrone “vas te vang”. Gebruik verskillende glasies met verskillende kleure om ‘n reënboog vel te maak. Gooi nou lekker tandepasta-dik blertse verf in ‘n plat bak. Laat die outjie sy hand daarin druk en uit haal. Druk dit op ‘n vel papier en as dit droog is kan julle dit uitknip en op die borrelpapier plak. Teken ‘n bang of angsbevange gesig op die monster se gesig. Die idee is dat monsters bang is vir seep.
Iemand het my daarop gewys dat hy “glitter” (of blinkertjies) op ‘n tafel sprinkel en los om te kyk hoe dit deur die dag versprei. Dit verteenwoordig die verspreiding van kieme. Dít is nogal ‘n blink idee 😉
Vou ‘n bladsy in die helfte en teken kinders met veselpenne (permanente koki’s) op beide helftes. Kleur hulle in met pastelle, sodat die blinkertjies maklik sal kleef of spuit haarsproei oor die hele bladsy. Sprinkel ‘n “knippie” blinkertjies op een gesiggie. Hou die bladsy effens gevou en hou ‘n strooitjie baie na aan die mond en blaas die blinkertjies rond. Gebruik twee of drie kleure blinkertjies.
Pons ‘n gat in een gesiggie se mond om ‘n hoesie voor te stel. Vou die prent liggies toe. Druk ‘n spuitbotteltjie (soos keelseermedisyne s’n) van agter in die gat en spuit twee of drie spuite flou voedselkleursel (eiergeel of groen) deur die gat. Toets dit net eers om tussen die opsies te kies.
Understanding and developing a sense of left and right is a struggle for many children. When they struggle to discern between the two sides of the bodies, they also tend to have trouble distinguishing between visual symbols such as b / d and p / q. A first step at helping them is to put visual reminders up against the wall.
Print the right hand on red paper and place it in the right-hand corner of the writing board. All the “r”-sounds should help to remember the association of right hand with red. The left hand can be printed on yellow or a colour like light green. These colours and visual prompts can be repeated on a smaller scale on the desks. It can be laminated or simply covered in a colourless, see-through sticky tape (cellotape). Also add the hand with the L near it to show that when you hold your left hand up, it actually forms a capital L in the web space between the thumb and forefinger. If the child is right handed, you can play on alliteration: “You write with your right hand.”
Pages to hand out, to put up against the wall or to stick on desks (resize)…
Woorde