‘n Goeie algemene woordeskat is belangrik. Dit vergemaklik die leesproses en verbreed die leerder se algemene kennis (verwysings raamwerk).
Hoe kan ek tuis help?
- Verkeerde taalgebruik behoort reg gestel te word. Help jou kind subtiel reg indien hy byvoorbeeld ‘n item verkeerd benoem. “Ek wil sweets koop.” – “Watter soort lekkers gaan jy koop?”
- PRAAT, PRAAT, PRAAT! Kinders leer baie deur die voorbeeld na te volg.
- Praat soveel as moontlik oor dinge wat vir jou kind belangrik is en luister na wat jou kind sê.
- Praat stadig en duidelik.
- Leer jou kind om te luister na wat ander mense sê.
- Werk daaraan om spraakprobleme reg te stel. As ‘n kind klanke of woorde verkeerd uitspreek, kan dit dalk later probleme veroorsaak wanneer hy / sy lees en skryf. (Dink aan die outjie wat “l” in plaas van “r” sê…Die lok is looi.)
- Lees gunstelingstories voor en neem dit op ‘n kasset op. Dan kan jou kind oor en oor daarna luister.
- Bou ‘n prentewoordeboek op of koop een. Dit sal van groot waarde wees. Skryf moeilike of nuwe woorde daarin en plak of teken ‘n prent daarby.
- Skryf nuwe woorde
- met kolletjies, sodat jou kind daaroor kan skryf. Bv. Soos… dot-to-dot
- in verskillende kleure
- met ‘n stokkie in nat sand
- Soek klanke in tydskrif-opskrifte en bou die nuwe woorde met die los klanke.
- Maak ‘n verspotte sin met die nuwe woorde.
- Skryf ‘n sin met die nuwe woord. Kan die sin dalk uitgebrei word?
Bv. “Die man sing.”
“Die vriendelike man sing ‘n mooi liedjie.”
Belangrik: Hou hierdie tipe aktiwiteite prettig en informeel…en kyk hoeveel sintuie jy kan betrek by hierdie tipe aktiwiteite…
Gaan lees gerus ook ‘n bietjie hier vir verdere oefeninge.
Sep 17, 2008 @ 09:34:38
Juffer, kom ek stel jou voor aan my laatlam, Pieter. Hy word 5 in November. Ons het vir 28 maande in Angola gebly, waar hy die enigste kind was. Ek is nou 4 maande terug in die land, en hy is vir die eerste keer kleuterskool toe. Met ‘n gesukkel het hy darem aangepas. Ek het teruggekom omdat hy mos in 2010 moet skooltoe, maar die kleuterskool-juffrou reken dat ek hom eers in 2011 kan stuur. (omdat hy eers in November 2010 7 gaan word.) Omdat ek nou twee jaar het om mee te speel, gaan ek in Januarie weer terug, vir ten minste ‘n jaar.
My vrae:
1. Alhoewel ons Afrikaans is, praat hy meer Engels. Seker agv die baie Engelssprekende mense in Angola, en tv. Sy Engels is ook baie duideliker as sy Afrikaans. Moet ons hom eerder Engels grootmaak? Mens moet nogal mooi luister om hom te verstaan as hy Afrikaans praat!
2. Hy kan nie ‘n “r” uitspreek nie. Dit word “l”. Hoe kan ek hom help? Hy lispel ook oor die esse, maar as mens hom daarop wys en hy kyk na jou mond, spreek hy dit wel reg uit. Of moet ek hom eerder spraakterapeut toe vat? Wanneer begin mens bekommerd raak oor spraak?
Weereens dankie vir jou blog. Net as jy dink jy het die ouerskap ding onder die knie, duik iets op wat jou ernstig laat wonder! 😉
LikeLike
Sep 17, 2008 @ 19:19:16
Hello, Boendoe
Ek is so bly jy noem hierdie geval. Ek sien dit só baie in die praktyk – veral in die gemeenskap waar ek skool hou. Baie ouers gaan vir ‘n paar jaar na die buiteland toe om ‘n neseier bymekaar te maak en die kleinding bou dus sy basis in daardie kultuur. Daar is geen fout daarmee nie en is eintlik fantasties – verryking.
Pieter hoor vermoedelik net Afrikaans tuis – behalwe as hy na die televisie kyk. Kinders meng nogal dikwels hul tale, juis omdat hulle so baie aan Engels blootgestel word. Dit is egter belangrik om ‘n basis in een taal vas te lê sodat hy ‘n goeie verwysingsraamwerk kan opbou. Die aanleer en gebruik van ‘n tweede taal vind dan met meer gemak plaas. Dis natuurlik ook die beste om die moedertaal (dit wat hy in die huis hoor en mee groot word én Ma se taal) as die voertaal te vestig. Dus kan julle daarop klem lê om suiwer Afrikaans te praat met en voor hom. As hy die Engelse woorde gebruik, kan ‘n mens net terloops die Afrikaanse term of woord herhaal (“Check” hoe hardloop die kind…Ek sien, ja…).
Hierdie besluit lê egter by julle as ouers.
“[A]n additive approach to bilingualism is to be seen as the normal orientation of our language-in-education policy. With regard to the delivery system, policy will progressively be guided by the results of comparative research, both locally and internationally (Clause 4.1.5 ‘Language in Education Policy’ 1997).
The right to choose the language of learning and teaching is vested in the individual. The right has, however, to be exercised within the overall framework of the obligation on the education system to promote multilingualism (Clause 4.1.6, ‘Language in Education Policy’ 1997).”
Wat die ouderdom aanbetref…uit ondervinding weet ek dat seuntjies anders ontwikkel as dogters. November- en Desember-baba’s is ook emosioneel jonger as klasmaats wat in Januarie en Februarie reeds verjaar het – veral in die Suid-Afrikaanse opset waar die skooljaar in Januarie begin. In Amerika sou hierdie kinders weer die bevoordeeldes gewees het. Dis belangrik om Pieter se vaardighede steeds op dieselfde wyse te ontwikkel as die ander kinders in sy klas. ‘n Kan net “meer tyd” gegun word om “ryper” te word vir sy Graad 1-jaar. Outjies wat so ‘n meer tyd-jaar kry, floreer gewoonlik daarna.
Oor die uitspraak…Laat Pieter sy tong oplig. Soms is ‘n kind se tongvliesie – daardie stukkie wat die tong aan die “tongbedding” heg – te kort. Dit veroorsaak dat hy baie lomp en mompelagtig praat. ‘n Dokter kan dit knip en die tong dus “verlos”. Dit sal goed wees om Pieter vir ‘n evaluasie na ‘n spraakterapeut te neem. Sy sal vir julle kan help om Pieter se taaldominansie te toets (Afrikaans of Engels…) en om te kyk of sy uitspraak werklik problematies gaan wees vir sy “leer lees en spel-jare”.
Dis belangrik om te onthou dat julle ‘n aansoek om kwytskelding sal moet indien, indien julle sou besluit om Pieter ‘n jaar langer uit die skool te hou. Dit word gewoonlik met die hulp van sy Graad R-opvoeder gedoen. ‘n Motivering sou byvoorbeeld wees dat Pieter laat in die jaar verjaar. Baie ouers laat hul kleingoed deur ‘n opvoedkundige sielkundige evalueer om te bevestig dat ‘n “meer tyd-jaar” voordelig sal wees. Doen dit gerus as julle twyfel.
LikeLike
Sep 17, 2008 @ 19:54:10
Ons gaan Vrydag vir 3 weke in Angola kuier, maar ek sal hom daarna na ‘n spraakterapeut neem. Baie dankie vir jou antwoord, ek waardeer dit baie!
LikeLike
Sep 17, 2008 @ 20:02:56
Ag lekker! Geniet dit
LikeLike
Sep 25, 2008 @ 10:35:45
More Juffrou. Hoop jy kan my help. My seuntjie het in Aug 4 jaar oud geword. Sy spraak is nie op standaard nie. Hy sê die k klank nie altyd reg nie. Van die woorde sê hy reg en ander vervang hy weer met ‘n t. As hy opgewonde raak struikel hy baie oor sy woorde. Dis mos nie hakkel nie.Ek het hom nou al so jaar by ‘n spraakterapeut gehad, waar ons omtrent net geblaas het met bubbels en sy het sy mondjie gevibreer met so ander speelding. Het ook ‘n balon onder sy ken vasgedruk en dan sy koppie stilgehou en dan sy mond oop en toe gemaak. Ens. Ek het hom weggevat by haar, want volgens haar maak hy nie vordering nie, want sy sien hom te min, sy kan hom ook nie meer sien nie, want sy het nie oop plek nie. Is toe na ‘n ander spraakterapeut toe, maar is ook nou nie seker van haar nie. Sy laat hom nou woorde soos ka, oka, aika ens sê terwyl hy iets soos ‘n beansakkie oor sy skouer moet gooi na agter toe, dit gaan help met die keelklanke. Verduidelik net asseblief vir my wat is die agtertoe gooi met spraak uittewaai en dan moet hy sy arms in die ronde swaai terwyl hy die woorde sê.
LikeLike
Sep 25, 2008 @ 20:21:27
ghmm Hierdie prentjie wil my nogal ‘n giggel gee.
Ek het al met kleintjies gewerk wat die “k” en “t” verwar het. Die spraakterapeut het gewoonlik aanbeveel dat die woorde (soos kas, tas, kol, tol) duidelik uitgespreek word terwyl die kind na jou mond kyk. Dan moet hy die woord herhaal en in die spieël kyk om te kyk hoe sy mond die klank vorm. ‘n Spieëltjie kan teen sy lippe gehou word wanneer die “t” gesê word, sodat hy sien hoe hy lug uit forseer. (‘n Bietjie wasem vorm op die spieël.)
Jong kinders is soms geneig om te stotter as hulle opgewerk of opgewonde raak. Moedig hom aan om diep asem te haal en weer te begin met sy storie – “sodat die woordkabouters wat in sy kop is, kans kan kry om tot op sy tong te hardloop”. Daardie prentjie werk met sommige outjies.
Ek sou aanraai dat ‘n mens die outjie weekliks na iemand neem om te verseker dat hy nie tegnieke vergeet nie. Kinders sukkel nog baie met die vorming van klanke (in uitspraak) tot op die ouderdom van 6 of 7. Gee Kleinman nog kans om te ontwikkel, maar as die probleme nie verbeter teen die begin van Graad R nie, sal ek spraakterapie aanbeveel…ek hoop dit help.
LikeLike
Jun 17, 2009 @ 11:39:15
Dagsê Juffer, ek wonder of jy my kan help, my seuntjie Juandrè word volgende maand 3, en met geborte was sy tong op die punt vas, ons het hom verlede jaar geneem om die tongvliesie te laat knip, want hy het gesukkel met spraak. Hy sukkel nog steeds daarmee en wil glad nie sy tong op lig nie, en steek dit ook nie vêr uit nie, so hy kan glad nie woorde met klanke soos L, D, N, R, T in sê nie, hy praat ook baie onduidelik, vreemde mense kan hom glad nie verstaan nie. Dink jy ek moet hom na \’n spraak terapeet neem? Nog iets ons woon tans saam met my skoon ouers en julle praat engels met hom, kan dit hom dalk omkrap dat hy nie weet was is reg of verkeerd nie of dalk die tale probeer meng.
LikeLike
Jun 17, 2009 @ 16:10:21
Hello Ronel….oooeee die taalkwessie 😉
Dis nie verkeerd dat jou skoonmense Engels met Juandré praat nie. Ek stel voor dat julle net die huismense sal vra om goeie Engels te praat as hulle in Engels kommunikeer en goeie Afrikaans sal praat as hulle in Afrikaans wil gesels. Miskien veroorsaak dit ook minder verwarring as hy besef dat die een taal by ouma en oupa hoort en die ander by mamma en pappa. Dan word daar klem geplaas op een taal op ‘n slag (vermenging veroorsaak taalgogga’s). Moedertaal onderrig is egter ‘n groot kwelpunt in die onderwys. Mamma se taal is volgens my die taal waarin huiswerk en praatwerk tog gedoen word tuis. Daarom moet dit soveel as moontlik ontwikkel word. Skole onderrig tweede tale reeds van Graad 1 af en kinders kan in Graad 3 reeds oulike stories in die tweede taal skryf. Dit sal nie afgeskeep word nie.
In terme van die uitspraak…spraakterapeute het soms baie waardevolle en oulike raad oor die ontwikkeling van mond- en tongspiere. Dis nie altyd nodig om vir intensiewe terapie te gaan op so ‘n jong ouderdom nie. Staatshospitale se spraakterapeute is dikwels vars uit die universiteit en besig met hul “Zuma-jaar”. Vind gerus uit of hulle gratis sessies aanbied vir voorskoolse kinders. Indien daar ‘n universiteit op julle dorp is, kan ‘n mens selfs ‘n spraakterapie student nader vir ekstra sakgeld.
‘n Voorstel: As julle lekker gemaklik is en sommer verspotte liedjies sing, kan julle met ekstra groot monde die liedjie se woorde met la-la-la vervang. Hou sommer lekker lank aan sodat Juandré spontaan sal saam la-la-la. As julle vir hom ‘n borrelbad tap, kan jy pypies en strooitjies in ‘n sterk seepbad gooi. Wys dan vir hom hoe ‘n mens lekker borrels blaas en dat ‘n mens meer en groter borrels kry as jy harder blaas. ‘n Ander vorm hiervan is om ‘n bekertjie vol skottelgoedseep en water aan te maak. Gooi voedselkleursel by en blaas met ‘n strooitjie totdat die borrels welig bo-oor die rand stand. Laat sak ‘n papier liggies tot teen die borrels, lig en siedaar! ‘n Borrelpatroon! Julle kan ook verskillende glase en kleure gebruik en die hele papier versier. Later kan dit as geskenkpapier, tekenpapier of kaartjiepapier gebruik word. Koop ook goedkoop fluite, panfluite en bekfluitjies by julle plaaslike Crazy Store of R5-winkels…en oorpluisies vir die grootmense. Tel ook kamma julle eie tande deur met die tong aan elke tand in die boonste en onderste kaak te raak. Maak dit ‘n speletjie “om te voel of elke tand” geborsel is. Die gedagte is dat hy gemaklik moet raak met die aksies en gebruike van sy mond en dat hy besef dat hy maar die tong mág beweeg :wink:.
Neem eerder vir Juandré na ‘n terapeut toe vir ‘n opinie. As hy teen die ouderdom van 5 / 6 steeds sukkel met klankvorming, sal ek definitief spraakterapie voorstel.
LikeLike
Jul 20, 2009 @ 16:20:32
hai.
ek is `n graad 10 leerder van hoerskool piet potgieter in mokopane. ons is tans besig met `n lewensorientering taak oor beroepe. my kleinsus moes onlangs vir draadjies gaan en na die narkose het sy dit maar moeilik gevind om te praat. my ma was verbaas toe ek kon verstaan wat sy se maar haar eie ma nie. my ma maak toe `n voorstel, spraakterapie as loopbaan. ek het die onderwerp heel interessant gevind en het besluit om dit op die internet op te soek. ek is op soek na universiteite naby my waar ek dit sal kan gaan swot maar meer belangrik, die verpligte vakkeuses. ek doen nogal goed op skool en kan vinnig my werk inhaal indien dit nodig is om my huidige vakke te verander. enige hulp???
anyafor@gmail.com – enige voorstelle welkom!
LikeLike
Jul 20, 2009 @ 18:39:16
Hello Anya
Dis nogal ‘n oulike keuse. Spraakterapie is een van die “kliniese” rigtings en spraakterapeute werk baie nou saam met arbeidsterapeute, skole, sielkundiges, ens. Daar is dus altyd werk iewers beskikbaar en die kans vir ‘n eie praktyk is altyd daar – werk aanvanklik eers saam met ander terapeute totdat jy ondervinding opgedoen het…maar van die os op die jas. Die terapeute wat ek ken, het almal op Stellenbosch geswot. Ek stel voor dat jy ‘n paar plaaslike spraakterapeute sal kontak en uitvra oor hul studiejare. Gewoonlik kan iemand in die praktyk vir jou beter raad gee oor die onderskeie universiteite.
As ek so na jou vertelling kyk, kan jy dalk ook oudiologie probeer. Verskeie spraakterapeute is ook opgelei om gehoortoetse te doen. René Visagie en Assosiate is ‘n praktyk met oudioloë/spraakterapeute in die Boland. Hier is sommer 2 nommers om te skakel vir navrae: (021) 887-1305 en (021) 852-7404
As ek reg ge”google” het, bied die Univ. van Witwatersrand en Stellenbosch die kursusse aan. As ek reg gekyk het is daar ‘n Estelle Geerkens, Geyser straat 19, Mokopane (015 49 111 90)
Baie voorspoed! 😆
LikeLike
Aug 06, 2009 @ 14:50:23
Goeie dag.
Ek het laasjaar aan jou geskryf, so September maand rond en ‘n baie goeie antwoord van jou terug ontvang. Gerhard is op die oomblik by ‘n spraakterapeut, maar ek wil ook graag ‘n 2de opinie kry. Kan ek die verslag wat die spraakterapeut aan my gestuur het deurstuur na jou toe.
LikeLike
Aug 06, 2009 @ 20:28:17
Ek lees graag 😉 en antwoord jou binnekort.
LikeLike
Des 14, 2009 @ 20:18:57
Jun 03, 2010 @ 08:12:29
Goeiedag
My dogtertjie is 2 jaar oud en sê net woordjies soos Mamma, Pappa, Oupa, Ouma, eina, myne. Sy verstaan wel elke woord en opdrag. As sy aan ons iets wil sê trek sy jou aan die mou en gaan wys wat sy wil hê. Is sy net lui of moet ons haar na spraakterapeut toe neem? Hoe leer ons haar? Wat doen of doen ons nie? Help asb. Dankie
LikeLike
Jun 03, 2010 @ 19:52:30
Hello, Hantie en welkom 😉 Jong, dis ‘n bietjie klein of jonk vir my kennisvlakke 😆 Ek weet dat indien ‘n outjie teen 2 jaar nog nie begin praat het nie, gaan daar so ‘n vraagtekenvlaggie/-liggies by ons op. Skole gee dikwels ‘n ontwikkelingsvraelys met vrae soos “wanneer het jou kleintjie begin kruip…loop…praat?”. Dit kan ‘n aanduiding gee vir algemene ontwikkeling later…
Jy kan dalk in jou plaaslike biblioteek vir Martie Pieterse se boek soek. Ek het dit destyds gekoop en die inligting met die Graad R-ouers gedeel. Daar is oulike idees vir die ontwikkeling van spraakvaardighede (van baba tot kleuter).
Jou dogtertjie het reeds begin praat en wys dat sy jou verstaan. Dus klink dit nie asof daar ‘n probleem is nie. ‘n Mens kan dalk dinge doen soos haar behoeftes stadig verwoord sodat sy jy mond se bewegings kan dop hou. As jou dogtertjie wys dat sy wil koekies eet. Kan jy vir haar vra “Wil jy ‘n koekie eet? Watter koekie wil jy eet? Wil jy hierdie koekie eet?…” Dit is effens oordoen, maar die kleintjies moet immers die voorbeeld kan sien en duidelik kan hoor om die woorde self te kan gebruik. (Maak dus oogkontak en maak seker dat sy jou mond kan sien.) Gee eers kans voordat jy na ‘n spraakterapeut toe gaan.
Intussen kan julle BAIE stories lees, rympies opsê en liedjies sing. Hoe meer prettig die taal is, hoe meer sal jou meisiekind dit geniet en wil deelneem…:wink:
LikeLike
Jun 17, 2010 @ 15:47:19
Goeie Dag,
In sak en as, dit is waar ek sit met my dogtertjie, Beverley. Sy is nou 6 jaar oud. Ons is van 3 jaar al besig met spraakterapie, maar volgens ons Neuroloog is ons spraakterapeut nie besig om Beverley te help nie. Wat die probleem is is haar konstruksie van haar sinne. Kan u my asseblief help. Ek kan aan u al haar verslae stuur as dit sal help. Ons het in Ermelo net 2 spraakterapeute. (Die een is ons spraakterapeut, die ander is ‘n engelse jong dame.)
LikeLike
Jun 19, 2010 @ 09:57:58
Beste, Rhoda
Ek sal graag die verslae wou sien om ‘n beter opinie te lewer en om te kyk of ek ‘n volledige beeld kan kry. Kan jy dit dalk vir my aanstuur? (remediering@hotmail.com of faks: 086 566 1926) Is Beverley in Graad 1 of in Graad R? Ek sou bitter baie voorleeswerk voorstel. Gediggies, liedjies en stories is baie belangrik en hoe meer die kleintjies die korrekte patrone en voorbeelde hoor hoe beter. Daar mag dalk ander aspekte betrokke wees. Ek sal vir jou beter antwoord kan gee as ek die verslaggies lees 😉
LikeLike
Aug 16, 2010 @ 13:28:27
Ons soek ‘n spraakterrapeut vir ‘n downsindroom seuntjie van 10 jaar oud in die Wesrand. Indien moontlik kan iemand vir my name aanstuur.
Baie dankie.
Marietjie
LikeLike
Aug 16, 2010 @ 16:44:45
Hi, Marietjie…Dalk kan een van die terapeute onder die verwysings-hofie jou help. 😉
LikeLike
Des 01, 2010 @ 07:02:10
Goeiedag ek het ‘n klein seuntjie van 2 jaar en 4 maande maar die kind wyer eenvoudig net om te praat hy kan sy baba woordjies gebrui vir mamma en pappa maar ongekukkig is sy woordeskating nie groot nie het al so baie hom probeer om nuwe woorde te leer maar hy weier volsterk wat kan u voorstel hoe ek hierdie saak nader asb ek klim al die mure uit. verstreurd.
LikeLike
Des 01, 2010 @ 14:30:50
Hello, Riana 😉 Ek sou voorstel dat julle met ‘n gerekende spraak- en taalterapeut in aanraking kom. Neem jou seuntjie vir ‘n konsultasie / evaluasie sodat die terapeut ‘n volledige toetsing kan doen. Hulle behoort vir jou ook baie goeie idees te gee om hom te help en om sy taalontwikkeling te verbeter. Ongelukkig val die aanleer van spraak buite my veld 😉
LikeLike
Des 01, 2010 @ 19:37:22
Baie dankie sal kyk wat ons uit gerig kan kry, het gewonder as ek maklike flits kaarte maak of dit dalk kan help.
LikeLike
Des 02, 2010 @ 15:26:03
Hello, Riana 😉 Jong, vir die heel kleintjies werk aanraking en sintuiglike ervaring gewoonlik beter as ‘n twee dimensionele voorstelling. Hulle wil nog vat en voel…en sal ‘n hand teen die mond of nek hou om die dreunings en trillings te “ervaar”. Nie alle kinders leer so nie…Baie sterkte met die konsultasie 😉
LikeLike
Des 02, 2011 @ 15:20:30
Middag Juffrou
Baie bly om op u webblad af te kom. Ek het dringend hulp nodig met my 7 jarige dogter. Sy sukkel so bietjie met fyn motories, lees en wiskunde. Hoe kan ek haar help by die huis? Ons doen reeds ekstra werk by die huis, maar op hierdie stadium sukkel sy nog baie. Sy gaan volgende jaar graad 2 toe, en ek wil haar voorberei daarop. Ek weet die pas gaan baie vinniger wees…
LikeLike
Des 07, 2011 @ 18:41:03
Middag, Nickey 😉
Hier is verskeie oefeninge op my blog. Jy kan soekterme soos fynspier, handspier, skryf, skrif, abc, sigwoorde, klanke, lees, wiskunde, Graad 1…by die bruin soekblokkie aan die regterkant intik om die verskillende artikels te kry. Lekker oefen 😉
LikeLike
Jul 25, 2012 @ 14:43:53
Hi ek sukkel met my kind en ek vra help
LikeLike
Jul 25, 2012 @ 16:36:20
Middag, Bianca 😉 Laat weet wat die probleem is sodat ek kan help 😉
LikeLike
Nov 06, 2013 @ 05:03:30
Beste Juffer,
My dogter is 6 jaar oud. Sy is in n Engelse pre-primere skool (graad R) en sal volgende jaar oorskakel na n Afrikaanse graad 1. Die rede waarom sy in n engelse pre-primer is, is agv die swak kwaliteit van die Afrikaanse pre-primer op ons dorp.
Sy is nou al amper 3 jaar by n spraakterapeut, waar sy regtig goed gevorder het. Sy het al die s, l, k, g, gh, z, ch, th, en engelse r bemeester, maar kom net nog nie reg met hasr afrikaanse r nie. Haar spraakterapeut is engels en ek wonder tog of dit nie n rol speel hierin nie. Die spraakterapeut wil haar nou op n tuisprogram sit ” it is only the afrikaans r and if she hasn’t acquired it by age 8, you can consider speech therapy again”. Ek kan nie toekyk hoe my kind sukkel en net niks doen daaromtrent nie. Ek soek drasties na n afrikaanse spraakterapeut in Durba (ons bly in Amanzimtoti), en kon n oulike een opspoor so 45 km van my af, maar sy het n waglys van 60!
Ek was self eers 8 voor ek my eie naam kon se (k en r klanke) en wou bitter graag gehad het dat my kind haar r kon se voor sy grootskool toe gaan. Ek weet hoe dit voel om gespot / geterg te word hieroor en wou dit nie vir my kind gehad het nie.
Asb gee raad?
Dankie.
LikeLike
Nov 10, 2013 @ 14:31:12
Hallo, Carin 😉 Ek weet dat die uitspraak van die r-klank soms eers later ontwikkel. Ge eers kans met die oorgang na Afrikaans en kyk of die daaglikse gesprekke die probleem kan oplos. As sy dan steeds na sowat ‘n maand probleme met die uitspraak ervaar, kan ‘n mens die laerskool vra vir ‘n verwysing na hul plaaslike spraakterapeut. Intussen kan jy die huidige terapeut vir ‘n tuisprogram (vir die vakansie) vra of die afgelope maande se tuiswerk hersien.
Tik gerus ook soekterme soos “liedjie” en “rympie” hier aan die regterkant in vir lekker verrykende, saamsê rympies 😉
LikeLike
Feb 06, 2014 @ 15:16:10
Goeie Middag
My Seuntjie is nou 2jaar en 5 maande. hy is vir die eerste keer in ‘n kleuter skool. Die juffrou se daar is vout met sy spraak omrede hy net so 2 woord sinne gebruik en nie volle sinne nie. sy begin ook nou op hom te pik oor sy taal.
wat staan ek te doen en moet ek bekommerd wees oor sy taal?
LikeLike
Feb 08, 2014 @ 08:17:18
Môre, Zildari 😉
Ek werk ongelukkig nie met die heel kleintjies nie. Indien die juffrou optel dat die outjie nie volgens die verwagting ontwikkel nie, kan ‘n mens beslis ‘n spraakterapeut skakel om te hoor of julle rede tot kommer het :wink:. Loer gerus na hierdie en hierdie artikels vir verdere idees.
LikeLike
Mei 24, 2015 @ 10:50:27
Hallo Juffer
Ek het pas jou blog ontdek en geniet jou idees en voorbeelde. Dit is baie aanvullend tot my twee webtuistes http://www.klaskenades.wordpress.com en http://www.t2klaskenades.wordpress.com
Ek laai jou beslis as een van my skakels!
Groete
LikeLike
Mei 25, 2015 @ 16:08:31
Baie dankie, Dr. Kruger 😉
LikeLike
Aug 19, 2015 @ 11:49:07
Goeie dag juffer
Ek het n seuntjie in Gr 1, ek weet nie meer hoe om hom te help met sy huiswerk nie. hy hou NIKS daarvan nie en as hy besluit hy wil nie tel of skryf nie dan WIL hy nie. Op sy goeie dae leer hy mooi, skryf mooi maar ons sukkel om sy aandag op sy werk te hou, hy vroetel aan sy oor, wieg sy bene, trek sy hemp… Dit lyk of hy luister maar niks sink in nie. As dit kom by toetse dan kry hy nul vir sy toetse. Ek is raadop!!!! Asb help my, den ek iets verkeer? moet ek hom op n sekere manier leer hoe moet ek maak?
Groete
LikeLike
Aug 21, 2015 @ 19:46:00
Hallo, Rusaan 😉
‘n Mens kan belonings aanbied of hom op ander manier motiveer.
Soms is die leerproses net oorweldigend en kort ‘n outjie iemand buite die gesin (bv. ‘n een-tot-een les by ‘n remediërende opvoeder/tutor) om te help. Dit help om die spanning weg van die huis af te neem.
Ek sou graag ‘n gesprek met ‘n gesoute opvoedkundige sielkundige voorstel om te kyk of daar probleme elders lê. (Kinders gee soms uiting aan spanning, hindernisse, ens. deur gedrag.) So ‘n evaluasie sal fokus op aspekte soos wiskunde, tale (spel, lees, begrip…), VMI, emosionele welstand, aandagspan, ens.
Ek hoop dit kan help.
LikeLike
Apr 06, 2016 @ 19:10:10
Goeie dag Juffer.
My dogtertjie het sopas 3 geword. Sy het ‘n goeie woordeskat en sê die “r” al mooi, maar ruil die “t” en “k” om. Ek prober haar gereeld korigeer. Kan jy moontlik help met oefeninge? Baie dankie
Estelle
LikeLike
Apr 13, 2016 @ 02:05:46
Hallo, Estelle 😉
Dit is dalk meer ‘n spraak en taalterapeut se veld. Sy is nog baie jonk, maar dalk kan van hierdie speletjies help.
LikeLike
Jun 26, 2016 @ 09:00:36
My kind is nou 6 word einde Oktober 7 hy sukkel net om die r te se as hy hom nie sien as hy hom sien se hy dit in sy keel. Wat sal jy aanbeveel nou al spraakterepeut of nog wag. Het op getel hy se die r in engelse woorde reg.
LikeLike
Jun 26, 2016 @ 17:01:13
Middag, Hanna 😉
‘n Mens kan ‘n spraakterapeut kontak vir raad in die r dalk soos ‘n h klink, maar indien hy brei sien ek geen probleme nie. Wanneer die outjie sy klanke met ander klanke verruil/verwar (soos r/h), kan dit later dalk spelprobleme veroorsaak. ‘n Mens kan ook wag tot Januarie en terapie begin wanneer die formele skoolwerk begin.
LikeLike
Jun 26, 2016 @ 17:19:50
Dankie, hy is reeds in graad 1 se soms vir die r ‘n l ek het gedink om tot die vierde kwartaal te wag vit spraak terepie as nie verbeter (hy is nog jonk) as jy vat op sy verjaarsdag
LikeLike
Jun 26, 2016 @ 18:25:26
Hy mag dalk spelfoute weens die uitspraak maak. Indien nie, kan ‘n mens dalk wag 😉
LikeLike