Na aanleiding van Boendoe se navrae, gaan ek so ‘n stukkie plaas oor die taalkwessie.  Verskoon asseblief indien dit hoogdrawend is.  Dit was ‘n navorsingstuk en is dalk meer gemik op die etniese tale.  Praat gerus as dit Grieks klink.  Ek “vertaal” graag.

Wanneer ‘n leerder in ‘n tweede taal leer is hy / sy nie noodwendig leergestremd nie, maar eerder leergeremd ten opsigte van woordeskat, taalkennis en die belangrikste aspek seker – begrip.  ‘n Persoon wat nog nie die basiese strukture en vaardighede van ‘n taal teen die ouderdom van sewe jaar (die primêre vormingsjare) baas geraak het nie, sal in werklikheid altyd ‘n agterstand hê.  Taal vorm tog die belangrikste basis en medium van kommunikasie en is nodig om inligting oor te dra en ook om inligting in te neem en te verwerk.

Om die volle omvang van die akademiese vordering van ‘n kind te begryp, moet ‘n mens eers terug gaan na die leerder se agtergrond (en ook taal agtergrond) om die oorsake en invloede op die leerder se leerprosesse te bepaal.  In Suid-Afrika (soos in baie ander wêreldmoondhede) bepaal die Grondwet dat daar elf amptelike landstale moet wees, maar word baie leerders steeds in hul tweede taal (meestal Engels) geskool.  Hierdie besluit word aan die ouers oorgelaat en daar bestaan geen duidelike wetgewing wat ouers verplig om hul kinders in hul moedertaal te laat onderrig nie. Alle Suid-Afrikaners het egter ‘n grondwetlike reg om in ‘n moedertaal onderrig te word.

In baie gevalle waar leerders swak presteer, is die oorsaak dikwels dat hulle in ‘n tweede taal skool gaan.  Hierdie feit is seker nie genoeg rede om bekommerd te wees nie aangesien daar baie gevalle is waar leerders goed tweetalig is en dus goed in ‘n tweede taal presteer.  Die probleem ontstaan egter wanneer ‘n leerder in ‘n huis groot word waar daar meer as een taal gebruik word en waar die tale ook dikwels gemeng word.  As die kwaliteit van die woordeskat en grammatika veel te wense oorlaat, sal die leerder ‘n swak taalbasis hê en hom- / haarself nie goed kan handhaaf in enige van die tale nie.  Só ‘n kind ontwikkel dus ‘n leergeremdheid weens ‘n onderontwikkelde taal.

Volgens Rodriguez, benodig ‘n kind ‘n goeie selfbeeld om sukses te behaal en om sy / haar volle potensiaal te verwesenlik op skool.  ‘n Kind wat besef dat sy taalgebruik nie op dieselfde standaard as sy klasmaats s’n is nie, kan maklik selfbewus en minderwaardig voel en dus ook swakker presteer as sy maats.

As ‘n kind in beide sy moedertaal én tweede taal kan leer, verhoog dit die kind se selfbeeld en voel só ‘n kind trots daarop dat hy twee tale kan praat en in twee verskillende kulture kan funksioneer (i.e. die kultuur eie aan sy moedertaal en ook die kultuur eie aan die tweede taal).

Rodriguez sê ook dat ‘n persoon wat tweetalig is beter kognitiewe vermoëns het, respek by ander kulture afdwing, trots is op die spesiale talent en ook beter toegerus is vir die lewe buite die klaskamer.

Dis sou dus wenslik wees indien ‘n kind aan ‘n tweede taal bloot gestel kon word in ‘n klaskamer waar beide sy / haar moedertaal en tweede taal gebruik word.  Só word die kind stelselmatig aan die vreemde taal blootgestel en kry hy / sy die geleentheid om mettertyd genoeg selfvertroue op te doen om die tweede taal te gebruik.

Volgens die NAEYC (National Association for the Education of Young Children) in die VSA, behoort die ouers die kind se moedertaal te ontwikkel tesame met die tweede taal.  Die moedertaal word gekoppel aan die kind se kultuur, sosiale agtergrond en identiteit en daarom moet die fasiliteerder ook die kind se moedertaal en kulturele agtergrond in ag neem tydens onderrigtye

Net soos wat leerders teen verskillende tempo’s ontwikkel, beklemtoon die NAEYC dat tweede taal leerders hul tweede taal op dieselfde wyse bemeester volgens die individuele potensiale.  Sommige leerders sal vir ‘n ruk lank swyg, ander sal sinsnedes en woorde oefen, ander sal hul moedertaal en die tweede taal meng en ‘n vierde groep kan selfs die taal op ‘n geradbraakte wyse met vertroue gebruik.  Al hierdie voorbeelde vorm deel van die individuele ontwikkelingsfases van die onderskeie leerders se tweede taal.  Die fasiliteerder moet dit in gedagte hou dat dit normaal is om deur hierdie fases te gaan en die kind met begrip begelei tot die ontwikkeling van goeie taalgebruik.

Watter nadele is daaraan verbonde om ‘n leerder in ‘n tweede taal te onderrig?

Na aanleiding van navorsing het NAEYC bepaal dat jonger kinders groter probleme ondervind om die oorgang vanaf die huis na die skoolomgewing te maak as die taal vreemd is.  Die nuwe omstandighede en vreemde taal kan baie intimiderend wees en die kind emosioneel labiel (deurmekaar) laat.

‘n Kind wat uit ‘n vreemde kulturele agtergrond kom, kan soms deur sy klasmaats bespot word en dít kan daartoe lei dat die leerder selfs sy moedertaal kan prysgee om sodoende sosiaal aanvaarbaar te wees.  Dít sal weer daartoe lei dat die kind se band met sy / haar kultuur verbrokkel en dat gesinsverhoudinge ook kan skade lei.

Advertisements