Advertisements
Tuiste

Ondersteuning

Lewer kommentaar


Van my leerders benodig alternatiewe hulpmiddels en idees om hul skooldag makliker te maak.  Sommige outjies is tasdefensief en hou nie van sekere teksture nie (bv. etikette in klere, growwe papier, klei), ander hou nie van sekere geluide nie (bv. skril skree geluid van ‘n foutiewe klankstelsel of interkom), ander sukkel om te fokus, party benodig speelgoed om mee te vroetel, party kort bewegingsbreuke, ens.  Wat kan ‘n mens doen om die dag meer suksesvol te maak?

Heelwat kinders gebruik ‘n vroetelspeelding om die hande besig te hou.  Vir die outjies wat nie van sekere teksture hou nie, het ons slym of flubber gemaak en binne-in ‘n geseëlde sakkie* gebêre.  Hulle speel dus met die sakkie – eerder as met die slymerigheid self.  Soms lees die outjies die resep voor en ander kere gooi hulle die droë bestanddele by, maar hoe dit ookal sy…daar is blootstelling.  Die slym of flubber is ‘n snaaksigheid en die outjies geniet dit om die resepte vir die ander maats te maak.  Ons het onlangs ‘n druppel vanieljegeursel, kaneel, skeerroom en haaropknapper liggies of bietjie-vir-bietjie by onderskeie mengsels gevoeg en die outjies het beslis meer aandag aan die mengsels geskenk.  Nie net is die spelery ‘n goeie fynspier aktiwiteit nie, maar hou dit hulle gefokus tydens luistertake.  Elkeen kry ‘n stukkie om mee te speel.

‘n Mens kan natuurlik koekiedrukkers betrek, woorde met lettervorms bou of somme met syfervorms uitlê.  Indien die outjie lang wurms vorm, kan ‘n mens spesifieke letters, vorms, syfers, ens. probeer vorm. 

In plaas van die slym of flubber, kan ‘n mens meel met ‘n tregter in ‘n ballon ingooi en die ballon toeknoop.  Die outjie gebruik dit dan soos ‘n stresballetjie.  Gebruik ook gladde of stekelrige rubberballetjies, ryg krale aan ‘n tou-armband, rubber potloodgrepies of gebruik stukkies mediese/chirurgiese pyp of buise.  Die mediese pyp/buise kan ook om stoel- of tafelpote gebind word om teen te skop of om die voete op te rus – indien theraband nie beskikbaar is nie.

Jelliekrale is baie gewild.  Ons meng soms gelyke dele mielieblom en haaropknapper in ‘n kleinerige, waterdigte sakkie en voeg slegs ‘n paar jelliekrale by.  ‘n Mens kan ook ‘n doolhof buite-op ‘n groot seëlbare sak teken of met stroke maskeerband plak.  Maak dan slym met kleurlose gom en beweeg ‘n jelliekraal binne-in die mengsel en binne-in die sakkie deur die doolhof.

Vir die outjie wat gril vir die tekstuur van sekere boeke se blaaie, gee ons handskoene (met of sonder vingerpunte), ‘n knipbord om die boek mee vas te hou of ons plaas die los bladsye in ‘n lêersakkie.

Vir die outjie wat sensitief is vir harde of skril geluide, hou ons oorbeskerming naby of ons laat hom ver van die interkom af sit.

‘n Hangmat werk goed vir ‘n paar minute se eie tyd en werk soms goed as ‘n binneshuise swaai.  Sommige outjies geniet ‘n hop– of ‘n groot jogabal (om oor te lê, te bons, op en af teen die muur te rol…) en ander wil net vir ‘n paar minute eenkant sit.  Die vollengte spieël kry baie aftrek en een outjie geniet dit om op ‘n balanseerbord te staan terwyl hy gesels.

Hierdie spesiale speeltye word gewoonlik beperk tot ‘n paar minute (2 – 5) wanneer die skoolwerk (of afdelings) klaar is.

Gesels gerus met ‘n arbeidsterapeut om idees nommerpas vir jou klas te beplan.  Watter idees gebruik julle?

*As die sluitaksie lek, vou dit om en seël met duct tape.

 

Advertisements

tuis idees in beeld

12 Kommentaar


Ek moes die afgelope tyd my gedagtes weer reg aanskroef om ‘n jong leerder met fyn motoriese vaardighede en oog-hand koördinasie te help.  Hier is sommer so ‘n paar foto’s en oefeninge uit ons leersessies…

  • Die outjie sukkel met skrif en daarom het ek byvoorbeeld sy naam en syfers met kolletjieskrif getik en uitgedruk.  Die naam is met breë kleeflint oorgetrek en kan hergebruik word.  Hy skryf met ‘n witbordpen en dit kan herhaaldelik skoon gevee en weer gebruik word.
  • Druk die naam groot uit en skryf bo-oor die letters met ‘n gomstiffie.  Strooi of sprinkel blinkertjies, sand of poeier bo-oor.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens met die vinger bo-oor voel.
  • Dan het ons ‘n plastiese sakkie met loperige seep gevul en deeglik geseël.  (Die seperigheid loop en gee mee terwyl hy skryf).  Hy het eers met sy vinger op die sakkie geskryf, maar nou plaas ons dit bo-op sy naam en trek hy sy naam daarop.  Sommige dae word die witbordpen ook ingespan.
  • Ek het ‘n oulike idee by Renee Lighton gesien – waar die outjies in room skryf.  Daar is mos maar altyd ‘n bietjie ou handeroom iewers in die huis en ons het lekker daarin geoefen.  Dan het ons sommer ook in sand geskryf.  Al hierdie sintuiglike ervaring het tot dusver gehelp dat die outjie met meer gemak skryf.  Ons hou die skrif egter groot.
  • Ons het ‘n gaatjiedrukker ingespan om gate om die rand van manilla / karton te druk en beoog om sommer ou polistereenbakkies vol gate te maak.  ‘n Mens kan die gate soos ‘n dot-to-dot takie inspan – eers met ‘n kryt verbind en dan knip om die knip aksie te verbeter.  As jy lus het kan ‘n mens wol, tou of lint deur die gate ryg.
  • Ons het lang wurms uit stywe klei gerol en sommer blinkertjies op die tafel gestrooi – vir die mooi.  Hierdie blink wurms is in spirale opgerol en kan as ‘n plekmatjie gebruik word.  ‘n Mens kan natuurlik die wurm met ‘n skêr knip – vir ‘n bietjie weerstand.
  • Rol klei in ‘n balletjie en druk dit plat.  Skryf en teken daarin.  Ons het ook die klei in ‘n slangetjie gerol en dan bo-op groot gedrukte syfers laat lê.  Daarna was dit makliker om die syfers oor te skryf.  As jy vas haak en vergeet, kan ‘n mens gou vinnig bo-oor die klei voel en weer probeer.
  • Los vorms is gesorteer volgens grootte, vorm en kleur.  Daarna het ons patrone na gebou en toe probeer teken.  Later het ons die vorms op ‘n pennetjiebord probeer bou en die fyn knypwerk was nogal rede vir groot inspanning.  Dan het ons sommer die los vorms met behulp van ‘n wasgoedpennetjie op getel en in die bakkie gebêre – omtrent ‘n storie!
  • Vir nog oog-hand koördinasie oefening het ons eenvoudige doolhoftake voltooi.  Die lynspasies was redelik reguit, eenvoudig en breed.  Die outjie het ‘n klein magneetjie bo-op die bladsy met behulp van ‘n metaalstukkie onderkant geskuif.  Na ‘n paar probeerslae is kryte in gespan.
  • Skryf syfers en klanke of teken vorms op polistereenbordjies en gee vir die outjie iets soos ‘n stomp borduurnaald om gate al op die lyn langs te druk.  As ‘n mens gate reg deur die bordjie kan kry, kan julle selfs later borduurgare daar deur ryg en eenvoudige prente maak.
  • Die stempels is gebruik om visuele oefeninge te voltooi.  Ons het die prentjie wat anders as die eerste een lyk met ‘n stempel gemerk.  ‘n Mens kan stempels vir patroonwerk ook gebruik en hoef nie gekooptes te hê nie.  Kurkproppe en knope werk net so goed.
  • Die vingerpoppie kom uit ‘n ou boek genaamd Doen dit vandag en is basies ‘n mannetjie sonder bene.  Jy kan enige mannetjie teken en gate vir vingers daarin knip.  Ons het sommer ons reeds voltooide doolhowe met dié mannetjie gevolg. Dit gee die vingertjies lekker oefening en een van die dae gaan ons die lengte van die klas plat draf.

Ten laaste is daar verskeie ander idees en oefeninge op hierdie blog.  Loer gerus na die “Drukbares” hofie of tik soekterme soos abc, skryf, skrif, syfers, patrone, vorms, fynspier, handspier…by die soekblokkie in.  Lekker oefen!

Leer speel-speel

2 Kommentaar


Ek het onlangs ‘n navraag oor die volgende aspekte gekry.  Die antwoorde en idees is gemik op Graad R- en 1-outjies.  Dit kan daagliks in gespan word en is nie noodwendig harde werk nie.  Loer asseblief ook na die lysie aan die regterkant (blogroll) vir skakels na oulike werwe.

Vir spiertonus en balans is daar ‘n paar speletjies wat julle kan probeer.  Is daar ‘n parkie naby?

  • Probeer gerus die wipplank.  Dit forseer die kleintjie om regop te sit en om die lyfie te balanseer vir die hop-aksies.
  • Sommige parkies het sulke half-begraafde motorbande wat ‘n heininkie vorm.  Laat Poplap daarop loop.  Die bande gee gewoonlik effens mee en forseer die lyfie om te konsentreer op balans.  Gee ook raad dat die arms parallel met die skouers moet wees en die koppie regop moet bly…
  • Gaan stap en speel “follow the leader” deur op ‘n randsteen of ‘n lae muurtjie te loop.  Indien die hoogte ‘n bietjie ongemaklik is, kan ‘n mens sommer ‘n springtou in verskillende vorms (driehoek, sirkel, vierkant…) drapeer en daarop loop…
  • Gebruik ou koffieblikke: dop dit om, trek ‘n tou deur gate aan weerskante en gebruik dit as handvatsels om mee te loop…

Oogbewegings is nogal belangrik en ‘n mens moet verseker dat die ogies egalig oor die bladsy kan beweeg.

  • Lê langs mekaar op die mat en speel met ‘n flitslig teen die dak.  Lê stil met die kop en hou die liggie dop…hersien vorms, syfers, klanke…(maak die simbool en laat die kleinding raai wat dit was)…
  • Neem ‘n bal saam parkie toe (sommer die gewone plastiekballe wat in die meeste supermarkte verkrygbaar is).  Vra vir Poplap om loodreg teenoor die swaai te sit (op die bal).  Sy moet so ‘n bietjie fokus op haar postuur deur op die bal te bly, haar kop stil te hou en vir Mamma te volg – wat swaai!  ‘n Mens maak natuurlik beurte om te kyk of die ou op die swaai “dit reg doen”…Indien Ma nie wil swaai nie, kan julle ‘n pop of ‘n kussing op die swaai stoot.
  • Doolhoftakies (mazes) in aktiwiteitsboeke forseer ook die ogies om egalig en sistematies te beweeg.
  • Indien daar ‘n stuk deursigtige pyp of halwe geut in die motorhuis is, kan ‘n mens die kante toeplak en ‘n tennisbal of ‘n albaster daarin plaas.  Kyk hoeveel keer Poplap die bal heen en weer kan rol sonder om die kante te raak.  ‘n Kort stukkie pyp (so 40 – 50cm) is oorgenoeg.

Oog-hand koördinasie gaan dikwels gepaard met balspeletjies.

  • Indien jy iets soos “swing bat” het, kan Poplap vir ure oefen om die bal dop te hou en raak te slaan.
  • Soek ook vir die klein ping-pong spane wat ‘n balletjie en ‘n rekkie het.  Dit is minder frustrerend as ‘n bal wat meters ver spat en rol.
  • Nog ‘n gedagte in die “oog-stal”, is speelgoed waar jy ‘n kraletjie of ‘n balletjie moet beheer om in ‘n teiken of ‘n gatjie te val.  Dink maar aan iets soos “pinball”, “bowling” en daardie klein plastiek-outjies wat ons ook kleindag gebruik het.
  • Teken groot doolhowe, motorbane of paaie op ‘n oop gevoude vel koerant.  Hou ‘n yskasmagneet onder die vel en heg ‘n metaal skyfspeldjie aan ‘n getekende motortjie.  Volg die roete deur die magneet onder die vel papier te skuif.
  • Grawe in die kombuislaaie vir stewige strooitjies of ou sosatiestokkies.  Heg ‘n stuk wol of tou met ‘n magneetjie daaraan vas.  Teken ‘n paar visse, knip uit en skuif skuifspelde oor die bekkies.  Vir die heel kleintjies bestaan die speletjie bloot uit hengel.  Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n kleeflintlagie agter-op die visse plak en woorde daarop skryf met witbord veselpenne.  Hulle kan bloot die visse vang en eenvoudige woorde (wat van vakansie lekkertes?) lees na elke vangs of hulle moet ‘n som bereken.  Indien jy lus het, kan jy ‘n sinnetjie of ‘n geheime boodskap beplan en na afloop van die vangste help om die sin te skommel.
  • Neem ‘n ou eierdoospalet (tray) en plaas ‘n kraletjie in die linker boonste hoek.  Kleinding moet dat probeer om die kraletjie (of albaster) te laat rol van bakkie tot bakkie en van links na regs.  ‘n Vlakkerige, leë ysbakkie behoort ook te werk.
  • Gebruik ‘n leë ysbakkie of ‘n eierdoospalet.  Skryf klanke op stukkies papier en plaas rond en bont in die holtes of skryf dit met ‘n witbordpen in die plastiekbakkies.  Gebruik ‘n klein lekkertjie of enige tipe skuiwertjie om gegewe klanke raak te gooi.  Kies ‘n klank en kyk of julle die skuiwertjie in daardie bakkie kan gooi.  As julle goed op dreef is, kan julle kort woordjies probeer spel.  ‘n Mens kan natuurlik ook besluit om getalle te skryf en kan dan sommetjies doen.  Ma gooi byvoorbeeld ‘n 4 en ‘n 5…en Kleinding bereken dat 4 en 5 gelyk is aan 9.  Vir Graad 1’s sou ek ‘n bakkie tellers (soos knopies) byderhand wou hou om die somme te bereken.  Op ‘n ander dag kan julle aftrekking aandurf (7 en 3…7 neem weg 3 is gelyk aan 4….7 minus 3 is gelyk aan 4).  Onthou om al die juffrou se bewerkingswoorde te gebruik en om die bewerking op ten minste twee verskillende wyses te verwoord.  Ons moet die breinratte darem geolie hou…:lol:

Bal vang…Begin eers met ander items.

  • Sit kruisbeen teenoor mekaar en gooi ‘n boontjiesakkie – of ‘n sagte speelding – vir mekaar.  Die idee is om gemaklik te raak met die dophou en vang-aksie.  Baie kinders is bang vir die enorme missiel wat op hulle afstorm.  Dus moet die vang-item nie vrees ontlok nie.  ‘n Mens kry dikwels rubberballe met sulke stekeltjies in baba- of in speelgoedwinkels.  Dit is sag en gryp maklik vas.
  • Indien Mamma nie ‘n los hand het nie, kan Poplap die bal teen ‘n buitemuur gooi en vang.  Merk die plekke (maskeerband) waar die voete moet wees en waar die bal moet tref.  Aanvanklik staan die kleintjies nogal na-aan die muur (1 tot 1,5 m)…(Maak asseblief net seker dat die bal skoon is en dat daar geen merke teen die muur sal oorbly nie!) Later kan julle opgradeer na ‘n goedkoop plastiekbal – nie tennis-, krieket- of netbalballe nie.
  • Leen of skaf ‘n verskeidenheid balle aan.  Die gedagte is dat wanneer ‘n verskeidenheid balle beskikbaar is vir eksperimentering, sal die kleinding meer gemaklik daarmee raak.  Rubber hopballetjies, groot Mamma-se-tuis-oefeningballe, Pappa se ou rugbybal, Oupa se vergete gholfbal, Ouma se tennisbal…Stel ‘n ou hoepel of ‘n wasgoedmandjie iewers op as teiken en probeer self eksperimenteer met die gooie en krag wat benodig word om die balle in te skiet.

“Skolerige / Akademiese dinge”

Beginklanke is ‘n tameletjie vir baie kleingoed.  Speletjies soos “ek sien met my klein ogie…” werk goed.  Begin eers deur items op die lyfie te “sien”, dan op die bed of bank en later in die wyer vertrek.  As julle stories lees kan jy eers iets ooglopends in die prent “sien” – soos ‘n boom of ‘n huis.  Om sukses te verseker, kan jy die prent bespreek voordat jy die meegaande teks lees.  Wanneer julle die items benoem kan jy die beginklanke met ekstra mening en woema uitspreek (harder en duideliker).  Baie skole vra dat die outjies die klanke visueel kan identifiseer, skryf dus sommer die klankie wat julle hoor met ‘n vinger in die palm van die hand.  Maak seker dat jy op die regte plekke begin en kleinletters gebruik.  ‘n Plaaslike mamma het ‘n blanko-bladsy boek gebruik om die klankies te ontwikkel.  As ‘n klankie uitgesonder is, het hulle na die storietyd die klank op ‘n bladsy geskryf en die betrokke prent geteken.  Indien die klank later weer na vore gekom het, het hulle ‘n prent bygevoeg en sodoende ‘n prentewoordeboek gebou.  Begin maar eers met die kleinletters en voeg later die hoofletters by.  Die heel kleintjies praat dikwels van die “Grootmensletters”.  Hulle word aanvanklik slegs vir die begin van name gebruik.

Gesyferdheid of ‘n begripvolle omgang met syfers…

Skaf ‘n goedkoop, eenvoudige slangetjies-en-leertjies-bord aan.  Speletjies waar ‘n mens besef dat die kolle getel word en ‘n sekere uitwerking (skuiwe) teweeg bring, demonstreer die “hoeveelgevoel” verbonde aan die nommers of aantal kolle.

Hou inventaris of sensus.  Vou ‘n groot vel koerantpapier in kwarte of selfs agstes.  Besluit op iets wat van toepassing is op julle huishouding…mense.  Teken die hoeveelheid mense in die huis en skryf die syfer daarby.  Drie mensies =  3.  ‘n Ander blok verteenwoordig waslappe – teken dit.  Vier waslappe = 4…Borde…Ses borde = 6.  Plak julle plakaat teen ‘n deur of muur op en vertel vir ‘n ouma of pappa wat daar aangaan en tel elke keer lekker hardop saam.  Hoeveel messe is op die tafel?  Hoeveel blompotte is in die son?  Hoeveel blompotte staan in die skadu? (Raak aan die items terwyl julle tel sodat die afmeting en aftellery akkuraat gedemonstreer word.)…

Die belangrikste aspekte van hierdie ekstra vakansiewerkies is om alles lekker te hou, klein beloninkies in te werk, te wys dat selfs groot mense soms foutjies oorkom (as ons foute maak, kan ons weer probeer) en om met die harde werk te spog (selfs al is dit luidrugtig teenoor die hond).

Lekker speel!

Hand- of vingeroefeninge as deel van ‘n skrifles

14 Kommentaar


new-index_12

Ek het hier onder vir jou skakels geplaas waar daar “skrifferige” dinge bespreek word. Afhangend van die ouderdomsgroep kan jy ook die volgende doen as alternatiewe of as deel van die skrifles:

  • Oefen skrif op groot ongedrukte koerantpapier – in gekleurde styselpap. Die kinders smeer die papier met ‘n dun lagie stysel en doen die patrone en skryfwerk met ‘n wysvinger. As dit droog is, kan dit teen die muur op geplak word. …of jy kan na aanleiding van jou tema (bv. Die see) groot vorms (bv. visse, seesterre…) op x-straalplate afteken en uitknip.  Die kinders kan dan op dag 2 die vorms op hul droë stysel-oefening aftrek en uitknip! Maak een groot muur collage teen die einde van die week van almal se skrif!
  • Verf met ‘n skoon kwas en water op die bord of plaveisel om die letterformasies te oefen (Gr. 1).
  • Skeur blaaie uit ‘n ou telefoongids en plaas twee voor elke kind. Hy moet dan eers die een hand in die middel sit, terwyl die voorarm plat op die tafel lê. Dan word net die handspiere en vingers gebruik om die papier nader te trek en te frommel in ‘n balletjie. As die balletjie gereed is, mag die outjie vanaf ‘n gegewe punt “doel skiet” na die drom. Doen met beide hande as opwarmingsoefening.
  • Speel kamma klavier in die lug, op die maat langsaan se rug, op die tafel, ens. Gebruik spesifieke opgeruimde musiek om almal gefokus te hou op ‘n ritme – anders is dit nag
  • Druk ‘n groot letter alleen op die bladsy. Sit ‘n magneet onder die papier en ‘n metaalskyfie bo-op. Die kind moet dat die letter “oefen” deur die skyfie rond te skuif met die magneet. Dit help ook met die aandagspan en hand-oog koördinasie.
  • Knip die letters uit gekleurde karton en druk gaatjies reg rondom (mooi gespasieerd). Laat die kind ‘n veter daardeur ryg om die klankie te versier.
Sien ook perseptuele ontwikkeling, abc skryf, my kind skryf stadig…of tik soekterme soos handspier, skrif, skryf en potloodgreep by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
 

ABC’s – skryf

54 Kommentaar


 

This slideshow requires JavaScript.

Die voorlopers vir formele skrif is gewoonlik in verskeie dele verdeel.  (Dit sluit skribbel in.)  Om ‘n kind gereed te maak vir skrif, word verskeie handspieroefeninge gedoen.  Ure en ure word spandeer aan patrone en die kind maak later patrone in elke prentjie wat geteken word.  Dit is alles belangrik om te “oefen” vir die “groot” skryfproses.

Dinge om te onthou:

  1. begin gewoonlik met ‘n groot, dik kryt of verfkwas en ‘n groot vel papier (koerantpapier werk goed)
  2. dik vetkryte en dik veselpenne (koki’s) kan volg
  3. driehoekige potlode en vetkryte volg – daarom gebruik baie Graad 1-klasse uitdraaikryte (MonAmi)
  4. potlode volg eers baie later
  5. gebruik aanvanklik net klein letters
  6. hoofletters kan vir name gebruik word

Vorming van letters en patrone:

a, d, g, c, o, q, s begin by ‘n denkbeeldige “twee uur” op die horlosie en die hand beweeg anti-kloksgewys om die letter te vorm.  Moenie die hand lig voordat die hele letter voltooi is nie.  Maak ‘n groen kolletjie waar die letter begin en ‘n rooie waar die skryfaksie (karretjie se roete) moet stop.  Die brandertjie patroon (soos ‘n “c” in lopende skrif) word gewoonlik hier gebruik.

v, w en k se patroon is die wolftand patroon (zig-zag).

h, p, b, m, n, r se patroon is die hasie hop (lyk soos ‘n klomp n’e teen mekaar).

u, y, g se patroon is die Tarzan patroon (lyk soos ‘n klomp u-klanke teen mekaar).

a = om die piering, op en af(ek gebruik ‘n ou CD teen die bord)

b begin bo, b – vir bal:  Los die bal…die bal bons, rol en lê.

d begin in die draai, d – vir draai:  om die piering, op en óp en af

e = Die motor ry reguit en stop by die stopstraat.  Moenie jou hand lig nie, want ‘n motor kan nie vlieg nie.  Draai dan links om die piering en stop.

f = Staan op ‘n duikplank en duik met ‘n boog tot onder in die swembad.  ‘n Voëltjie vlieg van links na regs verby.

g = Om die piering, op en af…en swaai die stert.

h = Los die bal. Die bal hop en gaan lê.

i = Die man staan regop soos ‘n reguit liniaal en sit ‘n hoed op sy kop – ‘n dotjie – nie ‘n donga nie!

j = Lyk soos i, maar glip verby en krul sy stert.

k = In die Kaap:  Twee droë stokkies word opgetel.  Die een lê ons reguit neer en die ander een knak ons met ‘n “k”-geluid sodat dit soos ‘n “v” lyk.  Sit nou die hoekie teen die langbeen.  Reguit af… lig die hand…skuins af, skuins af en op.

l = reguit en lank soos ‘n liniaal

m en n = Die haas hop met ‘n boog (af, hop, hop en af, hop)

o = om en om die piering

p = aaaaf, ôôôp en om

r = af, hop en hang

s = begin by twee uur – sê “ssss” terwyl dit gemaak word – soos ‘n slang

t = ‘n sambreel se steel kan geteken word – af, krul en ‘n voëltjie vlieg verby

u = af, om, op en af

v + w = skuins af, skuins op en stop / skuins af, skuins op, skuins af, skuins op en stop

y (Die Kaap gebruik die geronde een – ‘n kruising tussen “u” en “g”.) = af, om, op en af en krul die stert

Tik gerus soekterme soos “tuis idees, abc, skryf, skrif, klanke, syfers, patrone, potloodgreep, font, perseptuele, knip, robotkaart, Teacha” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

Skriflyne

Volg die beskrywing van elke letter se skryfwyse en trek dan die skrifvelle na.
Die beskrywings sluit die verskillende skryfwyses van G, k en y in.

%d bloggers like this: