Ek moes die afgelope tyd my gedagtes weer reg aanskroef om ‘n jong leerder met fyn motoriese vaardighede en oog-hand koördinasie te help. Hier is sommer so ‘n paar foto’s en oefeninge uit ons leersessies…
- Die outjie sukkel met skrif en daarom het ek byvoorbeeld sy naam en syfers met kolletjieskrif getik en uitgedruk. Die naam is met breë kleeflint oorgetrek en kan hergebruik word. Hy skryf met ‘n witbordpen en dit kan herhaaldelik skoon gevee en weer gebruik word.
- Druk die naam groot uit en skryf bo-oor die letters met ‘n gomstiffie. Strooi of sprinkel blinkertjies, sand of poeier bo-oor. Sodra dit droog is, kan ‘n mens met die vinger bo-oor voel.
- Dan het ons ‘n plastiese sakkie met loperige seep gevul en deeglik geseël. (Die seperigheid loop en gee mee terwyl hy skryf). Hy het eers met sy vinger op die sakkie geskryf, maar nou plaas ons dit bo-op sy naam en trek hy sy naam daarop. Sommige dae word die witbordpen ook ingespan.
- Ek het ‘n oulike idee by Renee Lighton gesien – waar die outjies in room skryf. Daar is mos maar altyd ‘n bietjie ou handeroom iewers in die huis en ons het lekker daarin geoefen. Dan het ons sommer ook in sand geskryf. Al hierdie sintuiglike ervaring het tot dusver gehelp dat die outjie met meer gemak skryf. Ons hou die skrif egter groot.
- Ons het ‘n gaatjiedrukker ingespan om gate om die rand van manilla / karton te druk en beoog om sommer ou polistereenbakkies vol gate te maak. ‘n Mens kan die gate soos ‘n dot-to-dot takie inspan – eers met ‘n kryt verbind en dan knip om die knip aksie te verbeter. As jy lus het kan ‘n mens wol, tou of lint deur die gate ryg.
- Ons het lang wurms uit stywe klei gerol en sommer blinkertjies op die tafel gestrooi – vir die mooi. Hierdie blink wurms is in spirale opgerol en kan as ‘n plekmatjie gebruik word. ‘n Mens kan natuurlik die wurm met ‘n skêr knip – vir ‘n bietjie weerstand.
- Rol klei in ‘n balletjie en druk dit plat. Skryf en teken daarin. Ons het ook die klei in ‘n slangetjie gerol en dan bo-op groot gedrukte syfers laat lê. Daarna was dit makliker om die syfers oor te skryf. As jy vas haak en vergeet, kan ‘n mens gou vinnig bo-oor die klei voel en weer probeer.
- Los vorms is gesorteer volgens grootte, vorm en kleur. Daarna het ons patrone na gebou en toe probeer teken. Later het ons die vorms op ‘n pennetjiebord probeer bou en die fyn knypwerk was nogal rede vir groot inspanning. Dan het ons sommer die los vorms met behulp van ‘n wasgoedpennetjie op getel en in die bakkie gebêre – omtrent ‘n storie!
- Vir nog oog-hand koördinasie oefening het ons eenvoudige doolhoftake voltooi. Die lynspasies was redelik reguit, eenvoudig en breed. Die outjie het ‘n klein magneetjie bo-op die bladsy met behulp van ‘n metaalstukkie onderkant geskuif. Na ‘n paar probeerslae is kryte in gespan.
- Skryf syfers en klanke of teken vorms op polistereenbordjies en gee vir die outjie iets soos ‘n stomp borduurnaald om gate al op die lyn langs te druk. As ‘n mens gate reg deur die bordjie kan kry, kan julle selfs later borduurgare daar deur ryg en eenvoudige prente maak.
- Die stempels is gebruik om visuele oefeninge te voltooi. Ons het die prentjie wat anders as die eerste een lyk met ‘n stempel gemerk. ‘n Mens kan stempels vir patroonwerk ook gebruik en hoef nie gekooptes te hê nie. Kurkproppe en knope werk net so goed.
- Die vingerpoppie kom uit ‘n ou boek genaamd Doen dit vandag en is basies ‘n mannetjie sonder bene. Jy kan enige mannetjie teken en gate vir vingers daarin knip. Ons het sommer ons reeds voltooide doolhowe met dié mannetjie gevolg. Dit gee die vingertjies lekker oefening en een van die dae gaan ons die lengte van die klas plat draf.
Ten laaste is daar verskeie ander idees en oefeninge op hierdie blog. Loer gerus na die “Drukbares” hofie of tik soekterme soos abc, skryf, skrif, syfers, patrone, vorms, fynspier, handspier…by die soekblokkie in. Lekker oefen!
Nov 25, 2011 @ 13:32:23
Hallo Juffer!
Ek het ‘n outjie is graad 3 wat ek sien vir remediering, hy druk baie hard as hy skryf en breek gereeld die potlood se punte, ek het al verskeie fyn-motoriese oefenige gedoen om beheer te versterk oor sy spiertjies is sy hande en veral vingerpunte. Ek sal nou tydens die volgende sessie mooi dophou hoe hy sy potlood vashou, ek sien jy se dat dit ook belangrik is. Het jy enige ideees hoe ek hom kan help om nie so hard te druk nie. Ek dink dit plaas baie stremming om sy hande en vingers en dit bemoeilik ook die skryfproses.
Baie dankie byvoorbaat, jou blog is waarlik inspirerend.
LikeLike
Nov 27, 2011 @ 19:28:00
Middag, Suz 😉 Het jy al die outjie na ‘n arbeidsterapeut verwys? Dit kan dalk waardevol raad en hulp bied. Teen Graad 3 is baie van die “verkeerde metodes” bykans vasgelê en behoort ‘n mens vir ou laas te probeer om die greep te verbeter. As juffrou gebruik ‘n mens soms allerhande oefeninge en kreatiewe idees om die kinders te help, maar dit is eenvoudig nie so effektief soos die arbeidsterapeut se hulp nie.
Hier is verskillende inskrywings oor skrif, skryf en handspier ontwikkeling op die blog. Tik gerus soekterme soos skrif, skryf, handspier, fynspier…by die soekblokkie in om verskillende idees te kry. Baie sterkte!
LikeLike
Nov 28, 2011 @ 14:47:38
Baie baie dankie, dit help vreeslik baie en sal alles probeer om hom te help.
LikeLike
Des 22, 2011 @ 10:43:41
Hi Juffer!
Nog ‘n idee wat jy kan inspan is om die kleintjie eers op ‘n spiëel / venster met skeerroom te laat skryf (spuit die skeerroom op die venster en laat hom dit eers rondsmeer vir ‘n ‘skryfoppervlak’). Hierdie is baie goed vir kokontraksie van sy skouergordel en dus as ‘n voorbereidingstaak vir verdere fyn motoriese take. En jy kan regtig AL die konsepte op ‘n vertikale vlak oefen, en sommer ook spons vorms / getalle / letters vasplak op die skeerroom.
En aan Suz – probeer laat jou Graad 3 outjie met ‘n uitdrukpotlood (peiser potlood?) skryf – dit leer hulle om bietjie ligter te druk. Jy kan ook ‘n rekkie om sy pols sit, en dan die potlood soos ‘n figuur-8 daaraan vasmaak, en dan rus die potlood in sy webspasie. Dis ‘n wonderlike manier om potloodgreep te verbeter, asook potloodbeheer! Kontak my gerus (cpswart@geekworld.co.za) as jy nog vashak.
LikeLike
Des 22, 2011 @ 15:02:02
Vreeslik dankie, Ronél! Jy gee my ook nou ‘n paar idees vir die nuwe jaar 😉
LikeLike
Jan 06, 2012 @ 10:18:17
Baie dankie Ronel, dit sal sommer baie help. Ek gaan dit vroeg-vroeg implementeer. Sal jou graag kontak as ek nog vashaak.
LikeLike
Okt 20, 2012 @ 12:38:17
Hai Juffer.
Ek is n Graad : R juffrou. En het vreeslike oulike leerders in my klas… Ongelukkig is daar n paar van hul wat nog glad nie vorder nie… En dis al amper groot skool tyd… Ek het regtig al als probeer om hul te help maar ek is nie suksesvol nie.. Hulle kan nog steeds nie sekere klankies en getalletjies identifiseer nie… En n paar van hul hou daarvan om van regs na links te skryf. Het jy enige idees wat my baas kan maak van die situasie?
Ek is regtig liefvir hul en wil net die beste vir hulle he.
Hoop jy het raad.
Lekker dag!
LikeLike
Okt 22, 2012 @ 18:10:42
Middag, Ronel 😉 Ek het verskeie stukkies vir skoolgereedheid, fynspieroefeninge, klanke en syfers. Tik soekterme soos “abc, klanke, skryf, skrif, syfer, vorms, patrone, Graad R, Graad 1, skoolgereed, handspier, fynspier…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
Baie sterkte!
LikeLike
Apr 29, 2013 @ 20:08:10
Hi Juffer
Hoe en waar begin mens met klanke woorde en sinne vir graad eens?
My kindertjies is baie swak . Daar is geen hulp tuis nie en wat hulle leer is wat hul in die klas kry.
Ek begin met klanke se begin klank en dan teken ons prentjies van die klank dan skryf ons die klank , die volgende dag dan doen ons klamkherkenning oefeninge maar as ons dan weer hersiening doen en eie woordjies bou kan niemand dit reg kry nie . Ag ek’s al moedeloos .
Groete 3Q
LikeLike
Apr 30, 2013 @ 18:30:40
Middag, Driekie 😉 Die nuwe kurrikulum help darem baie…
Ek begin gewoonlik met ‘n klank – wys dit, kyk hoe skryf ons dit (vorm in lug, op die handpalm, met klei…)…Dan doen is ‘n ouditiewe takie (soos hier): Hoor jy bv. a aan die begin van appel? Die outjie omkring en trek deur soos ons saam besluit. ‘n Mens kan dit ook met middelklanke en eindklanke doen. Maak net seker dat die klank wel so klink. Kort woorde wat op klinkers eindig, maak nie die klinker hoorbaar nie (bv. na, ma, so, te). Soek die klank tussen ander uit, soek die klank in ‘n kort paragrafie. Maak ‘n letter mash – waar die outjie die spesifieke klank uit ‘n warboel moet soek. Jy kan die “warboel” moeiliker of makliker maak.
Lees stories oor die klanke (“google” klanke kalante storie thinkonline en jy sal ‘n dokument vol stories kry). Stuur dit huis toe en vra dat die ouers dit saam met die outjies lees. Daar is klanke rympies onder die drukbare hofie wat jy ook kan gebruik.
As die outjies ‘n woord reg kry, kan julle dit op ‘n goue of groen blad aanbring en die probleemgevalle kan ‘n mens op ‘n bv. rooi kaart plaas (hospitaal). Die outjies moet hulle dan oefen totdat hulle dit ken. Kyk of julle prentjies of assosiasies by die woorde kan teken om hulle te help. As hulle dan een van hierdie woorde ken, skuif dit oor na die goue kaart. Vir elke twintig goue woorde kan hulle ‘n prys kry (klein prysie).
Wys vir die outjies dan ‘n mens twee klanke saam kan voeg – soos “ba”. As jy dan ‘n laaste klank byvoeg, maak dit soms ‘n sinvolle woord…soos bak, bas, bal…Sny vir hulle los klanke uit sodat hulle dan self kan speel en pak om sinvolle woorde tuis en onder toesig te kan bou. Hulpbronboeke van gidse soos die Alles-in-Een reeks het dikwels afrolbare klankeblaaie.
As julle sinne bou, probeer ‘n paar herhalende sinne gebruik: Dit is ‘n … Dit is ‘n … Ek sien ‘n…Ek sien ‘n …Ons sien ‘n…
Knip dit op en bou dan ander sinne soos Ek sien dit. Ons sien dit.
Kan dit help 😉
LikeLike
Okt 10, 2017 @ 14:04:44
Middag Juffrou
Ek benodig hulp met my GrRR kleuters sommiges draai hul papier wanneer hul inkleur (middellynkruising??) ander kleur “onderstebo” in , hul draai hul hand amper soos n links handige kind sal werk . Hoe kan ek hul help ? Ek help hul reg maar as ek weer sien dan werk hul weer so
Dankie baie
Engela
LikeLike
Okt 11, 2017 @ 20:28:43
Hallo, Engela 😉
‘n Gesoute arbeidsterapeut gaan waarskynlik die beste raad kan bied, maar die gedraaiery van die lyfie is soms ‘n manier om te kompenseer vir die spiere wat nog onvoldoende ontwikkel het. Doen ‘n bietjie spiertonus oefeninge en speel speletjies waar hulle byvoorbeeld klein emmertjies sand, boontjiesakke of balle in ‘n ry aangee. Sodoende kruis hulle ook die middellyn. Kolfwerk, balskop en -gooiwerk gaan ook hiermee help. Die spiertjies werk vermoedelik nog nie lekker saam om die kryte vas te hou en die inkleurbeweging te voltooi nie.
Praat ook met hulle oor konsepte soos bo, onder, links en regs. As hulle dan die bladsy so kan hou vir bv. 5 minute – dat die naam links-bo is – kan hulle musiek luister vir die res van die “werktyd”. ‘n Mens sal elke dag ‘n stukkie moet oefen.
Ek hoop dit kan help. 😉
LikeLike