Tuis

eerste dag

6 Kommentaar


skool

Die eerste dag van Graad 1 is baie spesiaal, want hierdie jaar gaan die outjies leer lees en dus is daar groot opgewondenheid.  Wat kan ‘n juffrou doen om die outjies te verwelkom?

  • Stel ‘n pakkie met inligting saam (oor die skool se geskiedenis, akademie, sport, kulturele bedrywighede, gemeenskapswerk en reëls) om aan die ouers te oorhandig.  Só kan hulle na afloop van die eerste dag reeds bewus wees van belangrike reëlings voordat jy dit by die eerste oueraand kan oordra.
  • Besluit hoe geld (bv. snoepie, fooie) hanteer sal word.  Gebruik die outjies beursies of gemerkte banksakkies?  Word dit in die tasse gehou of het die klas ‘n kluis?
  • Wat gebeur met verlore items?  Word daar ekstra skryfbehoeftes by die skool gestoor indien ‘n potlood sou breek of iets aan gevul moet word?
  • Maak inligtingstukkies vir die kennisgewingsbord met goeie gewoontes vir die skooljaar.  Bv.  foto’s van gesonde kosblikke (“Lekkers slegs op Vrydae”), netjiese potloodblikkies (“My skryfbehoeftes is gemerk”), netjiese skooltasse (“My tas is gereed”), boodskapboekies en die skooldrag (ook foto’s van die sportdrag).  Dít kan in die gang geplak word, sodat die ouers en kinders dit kan raak sien oppad klas toe.  Herhaal dit in die inligtingstuk.
  • ‘n Ander gedagte is om elke klasdeur met ‘n spesifieke kleur te verf.  (Bv. Juffrou D se deur is pers.)  Verf dan baksteengrootte stippellyne (of ‘n soliede lyn) in die gang en merk dit met pyle en klein fototjies van die klasjuffrou.  As die outjie dan verdwaal, volg hy net die lyn en foto’s tot by sy juffrou.  ‘n Mens kan ‘n rigtingbordjie buite kernklasse (of die badkamers) aan bring om hiermee te help.  As jy later kinders na ander juffrouens wil stuur, kan jy bloot aandui dat die outjie bv. “die groen lyn” moet volg.

aanwys1

  • Dit is belangrik om vir die outjies te gaan wys waar al die belangrikste plekkies is en ook hoe om daar te kom (bv. die badkamer en sekretaresse).
  • Indien daar ‘n goeie fotograaf in die skool is, kan dié persoon van elke kind ‘n foto neem vir die skool se webtuiste of vir die koerant.  Dit kan nogal baie tyd in beslag neem en daarom sal hierdie fotosessies vroeg reeds moet begin.
  • Stel ‘n fotohoekie of twee op waar ouers en kinders “eerste dag van skool” foto’s kan neem:
    • ‘n versierde muur of swartbord
    • ‘n gang
    • die klimrame behoort oulike agtergronde te bied
    • Leen ‘n poppekasraam om deur te loer.
    • Groot, ou rame
    • Skryf ‘n boodskap op ‘n klein swartbordjie wat die outjies kan vas hou.
    • Stapel ou boeke op en plaas ‘n rooi appel daarop.
    • Gee groot, los letters of syfers (bv. R, 1, 2, 3) om vas te hou.
    • Boublokkies met letters (bou byvoorbeeld abc, Graad 1, groot skool…)

Kaartjies vb

  • Verseker dat elke kind ‘n spesifieke staanplek vir sy tas het.  ‘n Tydsame, maar effektiewe manier om alles uniek te merk (naamkaartjie, sitplek, stoel, tasrak…) is om ‘n unieke prent aan elke leerder toe te ken.  Bv. Jana Louw het ‘n krimpvarkie en Jayda Van Wyk het ‘n flamink.  As ‘n mens dit lamineer, kan jy die kaartjies later rond skuif en behoort dit heel jaar te hou.  [kaartjies met prente]
  • Kies ‘n tema vir die klas en gebruik dit in boodskapbriefies, naamkaartjies en versierings.  Versier die klasdeur met kindervriendelike prente of gebruik selfs ‘n toegangslengte/-maatstok om “slegs kinders” toe te laat (amper soos by pretparkritte).
  • Dit is baie spesiaal om by ‘n klas in te stap waar die juffrou verrassings op die tafels gepak het.  Soek storieboekie oor die eerste dag van skool, sodat die ouers en kinders dit kan lees terwyl jy ander kinders by die deur ontvang.  Verskaf groot velle papier waarop die outjies kan teken of inkleurprente.  Wat van ‘n lekkernytjie en snesies?
  • Plaas ‘n unieke naamkaartjie op elke tafel – waarop die ouers hul nuutste kontakbesonderhede kan skryf en voorsien ‘n blik of “posbus” daarvoor by die deur.  Indien daar ‘n noodsituasie sou op duik, kan jy die kaartjie vinnig trek en die ouers kontak.
  • Jy kan die kinders betrek om saam met jou die klas te versier.  Gee byvoorbeeld vir elkeen ‘n groot vorm (nie net driehoeke nie) om te versier en uit te knip.  Jy kan karton, scrapbook papier, tafeldoek plastiek of selfs lap gebruik (as jy self wil sny).  ‘n Eenvormige kleur, verf en ‘n groot stempel (soos potlode of appels) kan baie effektief wees op hierdie tipe “bunting” of vlaggies.
  • Met groepwerk kan jy kunsdoeke voorberei en vir die outjies haardroëers gee om vetkryte daarop te laat smelt.  Gebruik dit as deurversiering (fotoraam met ‘n lawwe, eerste dag klasfoto) of hang verskeie kunsdoeke in die gang op.  As jy lang stroke lap só (of met spatsels onverdunde voedselkleursel) kan versier, kan ‘n mens rame vir die aansteekbord maak.  Onthou om voorskote te dra!
  • Boekmerk:  Gee roomys- of tongstokkies met ‘n “inkleurprent” wat die outjies met veselpenne of verf kan versier.  Hoe groter die stokkie, hoe netjieser kan hulle werk.  Elkeen kan sy eie naam agterop skryf en die boekmerkies huis toe neem of in die klas gebruik.
  • Maak ‘n spesiale bak-en-brou happie om huis toe te neem of voorsien dit aan die einde van die dag.

aanwys2

[dagprogram] [uiltjies-dagprogram] [bytjie-dagprogram]

[volstruis-dagprogram] [liewenheersbesie-dagprogram]

[olifant-dagprogram]

welkomdagprogram

welkomby

volstruisdag

liewenheersbesie

welkomolifant

Vir hulpmiddels, tik gerus soekterme soos “muurprent, abc, klanke, syfer, engels, hulpmiddels, flits…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.

herverbruik

Lewer kommentaar


Is daar tema’s wat jou soms uitboul? Is daar soms ‘n leemte of ‘n gaping vir ‘n interessante aktiwiteit? Probeer gerus iets kreatiefs soos om bruikbare items uit gebruikte produkte te skep.

herwinning

 

1. ‘n Pennetjiesak: Soek ou hand-naaimasjiene in die skool se stoor, stof hulle af en gee ‘n naaldwerkles. Vra dat die outjies ou, gebruikte kleintydrokkies of -hempies bring. Hang die kledingstuk op ‘n klein hangertjie (dalk een wat self van draad gebuig is), werk die onderste soom en moue toe en siedaar!

2. Bekerrokkies of servetringe: Hierdie is iets wat ‘n mens as ‘n geskenk vir ‘n juffrou of mamma kan maak. Gebruik oorskietwol om ‘n breë strook te hekel of te brei (dik materiaal soos denim behoort ook te werk… dalk afgesnyde some). Sny ‘n hartjie, lippe of ‘n blom uit vilt en werk dit op die strook vas (met borduurgare). Dit kan nou as ‘n beskermer dien teen ‘n warm koffiebeker. Indien jy die strokie kleiner maak, kan dit as ‘n servetringetjie dien. ‘n Paar ringetjies in ‘n oulike verpakking sal ‘n oulike geskenk maak.

3. Kaartjies: Teken die buitelyne van ‘n groot varingblaar op die teksgedeelte van ‘n koerantartikel. Indien die vryhandmetode ‘n bietjie moeilik is, kan jy die blaar vooraf teken, vergroot en op ou x-straalplate afteken. Knip dit uit en gebruik dit as ‘n stensil. Om te verseker dat dit nie skuif nie, kan jy haarsproei agterop spuit of wondergom gebruik.
As die buitelyne op die koerantpapier getrek is, kan jy ‘n kartelrandskêr gebruik om die blare uit te knip. (Maak kepe van buite na binne.) Dit sal help om die kaartjie sommer baie spesiaal te laat lyk. Verf die blaar met ‘n ligte vernis of ‘n verdunde voedselkleursel voordat jy dit op ‘n harde agtergrond plaas.

4. Musiekjuffrou: Vra sommer vir ‘n paar vriende om al die ou kaarte uit hul beursies te haal vir hierdie projek. Ek sien jaarliks projekte waar die kinders musiekinstrumente uit afvalprodukte moet skep. Sny jou eie kitaar “pick” (plektron) uit ou krediet- en winkelkaarte. Hou die lekker bont oogplesiertjie in ‘n glasfles vir daaglikse gebruik of gee dit vir die kitaarfundi’s.

5. Goudvis: Soek na speelgoedvissies of lamineer en knip ‘n getekende goudvis uit. Plaas die vissie binne-in ‘n plastieksakkie en gebruik gesmelte, kleurlose seep (buise is by kunsvlytwinkels beskikbaar) om die sakkie halfpad te vul. Uit ondervinding het ek geleer om 2cm skywe in ‘n ou maatbeker te smelt (30 sek.). Die seep smelt vinnig en set ook redelik gou as jy dit in die ys- of vrieskas bêre. Die sakkie-idee is nog onbeproef, maar lyk oulik. Ek sou voorstel dat ‘n mens ‘n beker met die sakkie sou uitvoer (soos ‘n drommetjie) om te help met die warm seepgooi slag. Sodra die vissie en die seep in die sakkie is, kan jy dit toe bind met lap lintjie. Wanneer die seep gebruik moet word kan jy die sakkie afskil.  Hierdie vissies kan oulike markdagprodukte maak.

6. Maak speelgoed van kurkproppe.

%d bloggers like this: