Tuis

groen

2 Kommentaar


 

This slideshow requires JavaScript.

 

Maak kompos vir die skooltuin op die skoolgrond deur die kinders bewus te maak van herwinning.  Plaas twee (of meer) dromme plek-plek op die skoolgrond sodat die kinders met die projek kan help.  Lamineer Drom etikette of verf die dromme om hiermee te help.

  • Hark die herfsblarebymekaar.
  • Maak die skool se geute skoon en gebruik die verrottende slik.
  • Versamel
    • Koffiereste (gebruik)
    • Papier en gebruikte papierprodukte
    • Papierhouers, karton (gebruik/skoon)
    • Oorskietkos (veral skille, stronke, broodkorsies, ens.)
    • Servette

herwinskool1

Riley & Tiny

Lewer kommentaar


Op Boeke Dag het ek ‘n oulike stel leesboekies gekry vir die jongspan.  Die stel bestaan uit vyf verskillende stories met pragtige illustrasies.  Dit dek temas soos ‘n besoek aan die see, herfs, herwinning, kombuispret (bak en brou) en die dieretuin.

Die stel is ideaal vir voorlesing en ook vir outjies wat self wil probeer (Graad 2 en ouer).  Die reeks is tans net in Engels beskikbaar, maar die skrywer, Melanie Bosman, hoop om dit een van die dae in Afrikaans uit te gee.  Die bedrag is tans R150 vir vyf leesboeke, maar sluit ook ‘n kleurvolle kunsvlytboek (crafts) en posgeld in.

herwin potlode so

4 Kommentaar


As die potlood korter as jou langste vinger raak, kan jy dit herwin!  Maak juweliersware, fotorame, kandelare of lampskerms.  So maklik soos dit!

aarde

Lewer kommentaar


geleen
Op die 26ste Maart, om 20:30, sal die wêreld weer hul ligte afskakel vir Earth Hour.

  • Maak lanterns uit ou plastiekbottels, hou ‘n kersligete op die voorstoep of speel al die bordspeletjies wat iewers in ‘n kas vergete geraak het.
  • Skakel die huis se krag summier vir ‘n uur lank af en gebruik dié stiltetyd om kreatiewe kunswerke uit herwonne materiaal te maak.
  • Maak kershouers of -staandertjies met ‘n boodskappie vir ouma of tannie.  Gebruik ou teekoppies hiervoor of as jy dit tydens die earth hour wil maak, kan jy selfs ‘n vrug soos ‘n appel gebruik.  Indien jy nog van die Kerstyd se sneeu sproei oor het, kan jy enige glas flessie in ‘n indrukwekkende kunswerk omskep.
  • Vir die skool kan ‘n mens dalk ‘n rol swartsakke ooprol en gate daarin maak om ‘n woord of slagspreek uit te stip. Maak ‘n prominente ruit heeltemal donker met nog swart sakke en skakel byvoorbeeld ‘n blou gloeilamp (of flitsende kersligte) aan sodat die bewoording aandag kan trek.

Gaan loer gerus na ‘n paar les-idees vir hierdie spesiale dag.  Intussen kan julle met meer raakvat aksies begin soos om die klas se afvalpapier te herwin, herwinningsdromme op die skoolgronde aan te bring en om goeie gewoontes by die kleingoed te kweek.

herverbruik

Lewer kommentaar


Is daar tema’s wat jou soms uitboul? Is daar soms ‘n leemte of ‘n gaping vir ‘n interessante aktiwiteit? Probeer gerus iets kreatiefs soos om bruikbare items uit gebruikte produkte te skep.

herwinning

 

1. ‘n Pennetjiesak: Soek ou hand-naaimasjiene in die skool se stoor, stof hulle af en gee ‘n naaldwerkles. Vra dat die outjies ou, gebruikte kleintydrokkies of -hempies bring. Hang die kledingstuk op ‘n klein hangertjie (dalk een wat self van draad gebuig is), werk die onderste soom en moue toe en siedaar!

2. Bekerrokkies of servetringe: Hierdie is iets wat ‘n mens as ‘n geskenk vir ‘n juffrou of mamma kan maak. Gebruik oorskietwol om ‘n breë strook te hekel of te brei (dik materiaal soos denim behoort ook te werk… dalk afgesnyde some). Sny ‘n hartjie, lippe of ‘n blom uit vilt en werk dit op die strook vas (met borduurgare). Dit kan nou as ‘n beskermer dien teen ‘n warm koffiebeker. Indien jy die strokie kleiner maak, kan dit as ‘n servetringetjie dien. ‘n Paar ringetjies in ‘n oulike verpakking sal ‘n oulike geskenk maak.

3. Kaartjies: Teken die buitelyne van ‘n groot varingblaar op die teksgedeelte van ‘n koerantartikel. Indien die vryhandmetode ‘n bietjie moeilik is, kan jy die blaar vooraf teken, vergroot en op ou x-straalplate afteken. Knip dit uit en gebruik dit as ‘n stensil. Om te verseker dat dit nie skuif nie, kan jy haarsproei agterop spuit of wondergom gebruik.
As die buitelyne op die koerantpapier getrek is, kan jy ‘n kartelrandskêr gebruik om die blare uit te knip. (Maak kepe van buite na binne.) Dit sal help om die kaartjie sommer baie spesiaal te laat lyk. Verf die blaar met ‘n ligte vernis of ‘n verdunde voedselkleursel voordat jy dit op ‘n harde agtergrond plaas.

4. Musiekjuffrou: Vra sommer vir ‘n paar vriende om al die ou kaarte uit hul beursies te haal vir hierdie projek. Ek sien jaarliks projekte waar die kinders musiekinstrumente uit afvalprodukte moet skep. Sny jou eie kitaar “pick” (plektron) uit ou krediet- en winkelkaarte. Hou die lekker bont oogplesiertjie in ‘n glasfles vir daaglikse gebruik of gee dit vir die kitaarfundi’s.

5. Goudvis: Soek na speelgoedvissies of lamineer en knip ‘n getekende goudvis uit. Plaas die vissie binne-in ‘n plastieksakkie en gebruik gesmelte, kleurlose seep (buise is by kunsvlytwinkels beskikbaar) om die sakkie halfpad te vul. Uit ondervinding het ek geleer om 2cm skywe in ‘n ou maatbeker te smelt (30 sek.). Die seep smelt vinnig en set ook redelik gou as jy dit in die ys- of vrieskas bêre. Die sakkie-idee is nog onbeproef, maar lyk oulik. Ek sou voorstel dat ‘n mens ‘n beker met die sakkie sou uitvoer (soos ‘n drommetjie) om te help met die warm seepgooi slag. Sodra die vissie en die seep in die sakkie is, kan jy dit toe bind met lap lintjie. Wanneer die seep gebruik moet word kan jy die sakkie afskil.  Hierdie vissies kan oulike markdagprodukte maak.

6. Maak speelgoed van kurkproppe.

broodsakkiekaartjie vir ‘n rolstoel

9 Kommentaar


As deel van die herwinningsprojek vir die jaar kan jy en jou gesin (of klas) julle broodsakkiekaartjies versamel vir rolstoelskenkings. (Lees hier of hier.) Maak die klein kaartjies bymekaar wat die sakkie seël en pos dit aan Mary Honeybun of kontak Adri by 012 259 0554 vir verdere besonderhede.  Dis ‘n oulike gedagte, hou die kombuis skoon, hou die kleingoed aan die tel en as hulle briefies by hul posstukkies las – is dit ‘n oulike skryfwerkie.

270 kg kaartjies / 800 000 tot 1 miljoen = 1 rolstoel

Adres: Mary Honeybun, Posbus 215, Noordhoek, 7979

Telefoon: 021 789 1831

herwin

Lewer kommentaar


herwinning

Ek het besluit om vanjaar ‘n herwinningsprojek aan te wakker in my klas.  Die besluit is egter makliker as die “oorgaan in aksie”, maar tog behoort dit die moeite werd te wees om te probeer.

Wat kan ek alles herwin?  Basies alles wat weggooibaar is in ‘n gewone klas.  Kontak die volgende plekke om uit te vind waarheen jy die items kan neem of hou jou plaaslike koerant dop vir herwinningsdepots.  Daar is dikwels fondsinsamelingsopsies betrokke.

Cambriarecyles gee oulike idees en lesse. Daar is selfs ‘n reseppie om jou eie papier te maak.

Vir lesidees en werkvelle is Kidzone, abcteach, mieliestronk en planet pals staatmakers. Ek het ‘n paar blogs en webwerwe raak gelees waar oulike en kreatiewe idees gegee word om te gebruik in leerareas soos tegnologie.

Wat van…?

  1. Snippermandjies van snippertjies…Gebruik die skool se snippers en muurpapiergom. Plak en bou die vorm oor ‘n bestaande drommetjie en siedaar!
  2. Plekmatjies en versierings van ou legkaarte…Grawe in die stoorkamer vir ou en halwe legkaarte. Niemand kan dit tog gebruik as die stukke onvolledig is nie. Teken ‘n vorm, knip dit uit en plaas dit onder ‘n deursigtige stuk plastiek of glas. Pak die stukke legkaarte binne die raampie en bou dit op. Muurpapiergom is ‘n lekker dik pasta en gee ‘n “vernisde” gevoel as jy na die tyd ‘n lagie oor die skepping verf.
  3. Versier die klas met ou potlode en penne…Kies ‘n item en versier dit. Maak byvoorbeeld ‘n raam vir die venster of aansteekbord met die opskrif “Kyk hoe hard het ons gewerk” of “Potloodmuseum”. Ek het iets soortgelyks in ‘n klassie gesien – waar die juffrou potlode korter as die kind se middelvinger summier “afgeskryf” het. Kort potlode is immers nie ‘n goeie ding nie, want die belemmer ‘n goeie potloodgreep en postuur.
  4. Penneblikkies…gebruik ou kosblikkies, versier en gebruik dit op die tafels vir skryfbehoeftes…of laat plak ‘n klomp aan mekaar vas en sit dit vas teen ‘n dun plankie. Hang die plankie teen die muur op, merk die blikkies met die leerders se name en siedaar! Briewebussies vir nota’s, huiswerkvelle, omsendskrywes ensovoorts.
  5. Rol die bladsye van ‘n vernielde storieboek styf op en bind met ou haarnaalde vas.  Maak vorms soos harte – vir vinnige potloodhouers.
  6. Afgeskryfde boeke (veral met die harde omslae) se blaaie kan vas geplak word.  Plak so ‘n paar vas aan mekaar om ‘n stewige eenheid te vorm, plaas ‘n kussinkie bo-op en jy het ‘n oulike stoeltjie vir die leeshoekie.  Jy kan hierdie idee selfs inspan om die deur oop te hou of om jou boeke en lêers teen te rus op ‘n lomp boekrak! …of maak ‘n boekrak
  7. Selfoon of i-pod beskermers? Weef of brei ou wol, repies materiaal, sak of fyn draad om ‘n reghoekie te vorm.  Vou dit om en werk die kante toe.
  8. ‘n Kweekhuis gemaak van ou plastiekbottels…
  9. Herbenutting en so ‘n bietjie “eenvoudige tegnologie
  10. Engelse herwinningswerksvelle

Is daar ‘n paar juffrouens of mamma’s met oulike idees?  Kyk sommer na Strijdom van der Merwe se kunswerke.

%d bloggers like this: