Is daar tema’s wat jou soms uitboul? Is daar soms ‘n leemte of ‘n gaping vir ‘n interessante aktiwiteit? Probeer gerus iets kreatiefs soos om bruikbare items uit gebruikte produkte te skep.

herwinning

 

1. ‘n Pennetjiesak: Soek ou hand-naaimasjiene in die skool se stoor, stof hulle af en gee ‘n naaldwerkles. Vra dat die outjies ou, gebruikte kleintydrokkies of -hempies bring. Hang die kledingstuk op ‘n klein hangertjie (dalk een wat self van draad gebuig is), werk die onderste soom en moue toe en siedaar!

2. Bekerrokkies of servetringe: Hierdie is iets wat ‘n mens as ‘n geskenk vir ‘n juffrou of mamma kan maak. Gebruik oorskietwol om ‘n breë strook te hekel of te brei (dik materiaal soos denim behoort ook te werk… dalk afgesnyde some). Sny ‘n hartjie, lippe of ‘n blom uit vilt en werk dit op die strook vas (met borduurgare). Dit kan nou as ‘n beskermer dien teen ‘n warm koffiebeker. Indien jy die strokie kleiner maak, kan dit as ‘n servetringetjie dien. ‘n Paar ringetjies in ‘n oulike verpakking sal ‘n oulike geskenk maak.

3. Kaartjies: Teken die buitelyne van ‘n groot varingblaar op die teksgedeelte van ‘n koerantartikel. Indien die vryhandmetode ‘n bietjie moeilik is, kan jy die blaar vooraf teken, vergroot en op ou x-straalplate afteken. Knip dit uit en gebruik dit as ‘n stensil. Om te verseker dat dit nie skuif nie, kan jy haarsproei agterop spuit of wondergom gebruik.
As die buitelyne op die koerantpapier getrek is, kan jy ‘n kartelrandskêr gebruik om die blare uit te knip. (Maak kepe van buite na binne.) Dit sal help om die kaartjie sommer baie spesiaal te laat lyk. Verf die blaar met ‘n ligte vernis of ‘n verdunde voedselkleursel voordat jy dit op ‘n harde agtergrond plaas.

4. Musiekjuffrou: Vra sommer vir ‘n paar vriende om al die ou kaarte uit hul beursies te haal vir hierdie projek. Ek sien jaarliks projekte waar die kinders musiekinstrumente uit afvalprodukte moet skep. Sny jou eie kitaar “pick” (plektron) uit ou krediet- en winkelkaarte. Hou die lekker bont oogplesiertjie in ‘n glasfles vir daaglikse gebruik of gee dit vir die kitaarfundi’s.

5. Goudvis: Soek na speelgoedvissies of lamineer en knip ‘n getekende goudvis uit. Plaas die vissie binne-in ‘n plastieksakkie en gebruik gesmelte, kleurlose seep (buise is by kunsvlytwinkels beskikbaar) om die sakkie halfpad te vul. Uit ondervinding het ek geleer om 2cm skywe in ‘n ou maatbeker te smelt (30 sek.). Die seep smelt vinnig en set ook redelik gou as jy dit in die ys- of vrieskas bêre. Die sakkie-idee is nog onbeproef, maar lyk oulik. Ek sou voorstel dat ‘n mens ‘n beker met die sakkie sou uitvoer (soos ‘n drommetjie) om te help met die warm seepgooi slag. Sodra die vissie en die seep in die sakkie is, kan jy dit toe bind met lap lintjie. Wanneer die seep gebruik moet word kan jy die sakkie afskil.  Hierdie vissies kan oulike markdagprodukte maak.

6. Maak speelgoed van kurkproppe.