Soos geplaas op Skool Toe

voorskoolse ideesIn die voorskoolse jare werk ‘n mens voortdurend informeel en soveel as moontlik spelenderwys.  Die leerwerk geskied deur middel van sintuiglike ervaring en papierwerk (takies) word sover as moontlik vermy.  Daar is egter aspekte wat ‘n mens wel deur werksvelle kan vaslê of moet demonstreer.

  • Roetine en struktuur:  Dit skep ‘n bekende verwysingsraamwerk waarin die jong kind veilig en geborge voel.  Gesels oor die roetine van die dag (tuis en by die skool) en wat ‘n mens kan doen om aanpassings te maak.
    • Stel die dag se verloop visueel voor.
    • Wat gebeur as ek klaar ontbyt geëet het en aangetrek het vir skool?  Ek tel my tas op en wag by die deur.  Wie neem my skool toe?  Wie gaan my kom haal?  Wat doen ek as…?
    • Skep ‘n bewuswording van tydsverloop:  Gebruik woordeskat soos “ons gaan eers hande was, dan bid en daarna eet”.  “Ons gaan nou speel en later bad.” 
  • Ouditiewe speletjies:  bv.
    • Rymwerk:  Sê erkende rympies op of maak onsinrympies op.  Begin met ‘n rympie en laat die outjie die raaisel voltooi (bv. “Die bal is rooi en ek kan dit …”).
    • Identifikasie van die aanvangsklank:  Wat hoor jy eerste – aan die begin van…?  Werk aanvanklik met kort woorde wat met ‘n medeklinker begin.  Gebruik die klankname in plaas van die alfabetname (bv. “a” vir appel teenoor A wat soos “aa” klink).
    • Identifikasie van geluide buite en binne die vertrek:  Wat hoor jy buite die huis? Wat hoor jy in die huis?
  • Visuele oefeninge bv.
    • Die uitkenning van ooreenkomste en verskille in prente en simbole.  Aktiwiteitsboeke het dikwels twee byna eenderse prente – waar jy 5 tot 10 verskille moet aandui – of aktiwiteite waar jy ‘n soortgelyke simbool/prent moet soek.
    • Die begrip dat ‘n simbool deel vorm van ‘n geheel – soos ‘n legkaart, embleem, naam of woord):  Hierdie waarnemingsvaardhede help veral met die uitkenning van klanke en syfersimbole en verminder die verwarring van byna eenderse simbole soos b/d/p/q, t/f en h/n/u.
  • Wiskundige konsepte: 
    • Die begrip dat ‘n mens versamelings kan tel en dat die onderskeie woorde hoeveelhede voorstel, dien as die aanvangswerk vir wiskunde (bv. Ek is vyf vingers oud. So lyk 5.  As ek weer verjaar, sal ek ses jaar oud wees.). 
    • Konsepte soos eerste, laaste, voor, na, agter, tussen, baie en min, meer en mindergroot en kleingroter en kleiner en ‘n kennis van basiese vorms gaan baie handig te pas kom.
  • Taal-, spraak- en woordeskatontwikkeling gaan die kind se kennis van konsepte en begrip vir nuwe werk versterk en ook ‘n verwysingsbron skep vir die aanleer van ‘n tweede taal.  Dít kan deur voorlesings, liedjies, rympies en gesprekvoering (korrekte voorbeelde) ontwikkel word.
    • Kan die outjie die Afrikaanse enkelklanke benoem en vorm (gebruik kleiwurmpies)?  Hoe vorm ‘n mens al die klanke in die Wes-Kaap teenoor Gauteng?
    • Fokus op die korrekte woorde, bv. “slaap” in plaas van “noenoes”.
    • Bespreek prente in tydskrifte of storieboeke.  Gebruik beskrywende woorde soos kleure en groottes.
    • Skryf byskrifte by prente.
    • Benoem liggaamsdele.
    • As die outjie sy tale meng, herhaal die korrekte sin of frase terloops.  Bv. Die kind het “geswing”.  Het die kind hoog geswaai?
    • As die outjie ‘n uitspraakfout maak, kan ‘n mens die korrekte voorbeeld soos in die vorige voorbeeld voorhou.  Indien die uitspraak nie in die Graad R-jaar verbeter nie, kan ‘n mens met die klasjuffrou en ‘n gesoute spraak- en taalterapeut gesels.  Daar is egter sekere klanke wat kinders eers op ‘n latere ouderdom bemeester en waaroor ‘n mens nie hoef te kwel nie.
  • Liggaamlike of spierontwikkeling
    • Doen grootspier oefeninge soos
      • skop na ‘n teiken, groot balle en kleiner balle
      • gooi na ‘n teiken, groot balle en kleiner balle
      • vang groter en kleiner balle, boontjiesakkies, ens.
      • klim,
      • kruip,
      • klouter,
      • wip,
      • hop op een been of op ‘n hopbal
    • en ook oefeninge vir die fyner spiere, soos
      • frommelwerk,
      • knypwerk met klampies, wasgoedpennetjies, tangetjies
      • skroef-aksies met moere en skroewe of bottelproppe
      • vleg-aksies,
      • kleispel,
      • knip- en
      • tekenwerk.
    • Die ontwikkeling van die groter spiere help met die versterking van die liggaamsspiere en om die uithouvermoë vir sit- en skryf-aksies te verbeter. 
  • Die voortgesette ontwikkeling van die fyn- (of hand-) en armspiere help die kind om skryfaksies uit te voer en om die potlood met minder inspanning te gebruik.  Vir tekenwerk, gebruik ons aanvanklik dik kryte of veselpenne en later die driehoekige tipe (tri-grip) of ‘n dunner kryt.  Knip aanvanklik kleiwurmpies, snipper papier en knip reguit en kartellyne uit kartonnetjies.
  • Indien die outjie linkshandig is, gaan ‘n mens ‘n paar aanpassings moet maak ter ondersteuning.
  • ‘n Begrip vir rigting (bv. hier, daar, links, regs, bo, onder, middel) gaan beslis help om die kind op die bladsy te oriënteer in terme van waar hy of sy moet begin teken en skryf – asook om omkerings en verwarrings in die latere skryfproses te verminder.  Gebruik die rigtingwoorde tydens gesprekke, maar wys ook wat dit beteken.
  • ‘n Goeie kennis van persoonlike inligting (bv. naam, van, adres, ‘n telefoonnommer, verjaarsdagdatum, ouderdom) is waardevolle vaardighede en kennis om te hê.
  • Die herkenning van sy/haar naam is belangrik en in die voorskoolse fase gaan die outjies die ander inligting mondelings in plaas van skriftelik verskaf.
  • Weet die outjie wat hom/haar uniek maak?  Bv. haarkleur, die kleur van die oë, ens.

Hierdie is slegs ‘n tikseltjie van die aspekte wat in die voorskoolse fase aangespreek word, maar behoort as ‘n goeie wegspringplek te dien.