Maak ‘n tandmuissakkie: Sny twee tande uit wit viltlap en werk die kante toe. Los die bokant (kroon) van die tand oop en verbind dié kante met ‘n mooi stukkie lint (soos ‘n handvatsel). As die kinders dit self gaan maak, kan ‘n mens sterk gom gebruik om die nate toe te werk en ‘n gesiggie met swart veselpen (dun koki) te teken. Gebruik beweegbare ogies om dit ekstra oulik te maak. Nou kan die tand op ‘n spesiale plek vir die tandmuis gehang word.
Gebruik wit vetkryt om ‘n stel tande (druk hard) en rooi om die lippe in te kleur. Verf dit met effens verdunde voedselkleursel en sny uit sodra dit droog is of hou die bladsy in die A4-formaat. Hang die monde aan ‘n tou of vislyne op vir ‘n gangversiering.
Maak gipstande deur die onderkant van ‘n 500ml-koeldrankbottel daarmee te vul en te laat stol. Die holtes van die bottel vorm dus ‘n kiestand as dit om gedraai word. As dit droog is, kan ‘n mens dit wit verf en op ‘n dik karton monteer/plak. Die holte in die middel van die tand kan as ‘n bêreplek gebruik word, totdat die tandmuis die tand kom haal.
Teken (of druk) lippe (en miskien ‘n snor) en verf dit rooi. Knip dit uit en plak op ‘n roomys- of sosatiestokkie. Dit kan gebruik word vir oulike, verspotte foto’s.
Maak lipdiertjies: Maak ‘n lipstiffie-afdruk of doen drukwerk met ‘n lipstempel (sny uit ‘n halwe aartappel of uitveër) en voeg die res van die lyfie by.
Tong:
Maak ‘n masker met ‘n opening in die mond vir die tong. As julle lus het, kan ‘n mens ‘n gleufie in die mond sny en ‘n tong daardeur steek. (Die tong kan uit rooi of pienk vilt gesny word.)
Sny ‘n mond uit die kant van ‘n groot doos. Verf lippe rondom en siedaar! ‘n Teiken vir gooiwerk (gebruik boontjiesakkies).
Tandeborsel: Ouer kinders kan die dae van die week op ewe groot reghoeke skryf en dit in die korrekte volgorde rangskik. Plak die kaartjies soos die hare van ‘n tandeborsel aan die agterkant van die tandeborselraampie. Gebruik ‘n wasgoedpennetjie om die dag aan te dui waarop die outjie sy tande borsel. As mens klein pennetjies (verkrygbaar by kunsvlytwinkels) gebruik, kan jy een vir die oggend- en een vir die aandborsel gebruik. [dae]
Tik gerus ook soekterme soos “higiëne, liggaam, skelet, tandmuis” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.
Johlene het gevra vir ‘n paar gedagtes oor higiëne. Hiermee dan so ‘n paar idees…(vir voorskoolse kleintjies)
Wat daarvan as julle waslappies met patroonwerk bedruk? Sny ‘n handdoek in blokke op, stik om en bedruk met lapverf. Gee vir die outjies verskillende proppe, doppies en koekiedrukkers om die drukwerk mee te doen. As jy ‘n spesifieke patroon in gedagte het kan jy dit op ‘n papier druk en vra dat hulle dit moet probeer nadruk. As die lappies droog is kan jy dit in ‘n tuimeldroeër uitdroog. Dit is ‘n lekker funksionele “kunswerk” wat hopelik baie gebruik sal word 😆
Doen fynspier of handspier oefeninge deur malvalekkers met skoon skêrre te sny. Probeer ook iets soos malvalekker-glimlagte of
‘n tand-halssnoer uit harde klei…Die klei is gewoonlik beskikbaar by kunswinkels en is meestal verkrygbaar in helder kleure. Jy moet dit behoorlik knie en bewerk om sag te kry, maar as dit sag is kan jy iets soos tande daarmee vorm. Druk ‘n stokkie deur die tand om ‘n gat te vorm en ryg ‘n riempie daardeur as die tand verhard het. Om die tand wit te maak kan jy wit verf gebruik. Indien iemand ‘n pottebakster ken, kan die tande selfs van pottebakkersklei gemaak word. Soutklei werk ook perfek.
Verduidelik die redes waarom ‘n mens jou hande moet was.
Maak ‘n gogga- of kiemmonster: Gooi ‘n paar druppels voedselkleursel by seepwater (skottelgoed wasmiddel werk lekker). Laat die outjies dit met ‘n strooitjie blaas dat die borrels staan. Sodra die borrels lekker oor die rand peul, kan jy die strooitjie verwyder en liggies met ‘n vel papier daarop druk om die borrelpatrone “vas te vang”. Gebruik verskillende glasies met verskillende kleure om ‘n reënboog vel te maak. Gooi nou lekker tandepasta-dik blertse verf in ‘n plat bak. Laat die outjie sy hand daarin druk en uit haal. Druk dit op ‘n vel papier en as dit droog is kan julle dit uitknip en op die borrelpapier plak. Teken ‘n bang of angsbevange gesig op die monster se gesig. Die idee is dat monsters bang is vir seep.
Iemand het my daarop gewys dat hy “glitter” (of blinkertjies) op ‘n tafel sprinkel en los om te kyk hoe dit deur die dag versprei. Dit verteenwoordig die verspreiding van kieme. Dít is nogal ‘n blink idee 😉
Vou ‘n bladsy in die helfte en teken kinders met veselpenne (permanente koki’s) op beide helftes. Kleur hulle in met pastelle, sodat die blinkertjies maklik sal kleef of spuit haarsproei oor die hele bladsy. Sprinkel ‘n “knippie” blinkertjies op een gesiggie. Hou die bladsy effens gevou en hou ‘n strooitjie baie na aan die mond en blaas die blinkertjies rond. Gebruik twee of drie kleure blinkertjies.
Pons ‘n gat in een gesiggie se mond om ‘n hoesie voor te stel. Vou die prent liggies toe. Druk ‘n spuitbotteltjie (soos keelseermedisyne s’n) van agter in die gat en spuit twee of drie spuite flou voedselkleursel (eiergeel of groen) deur die gat. Toets dit net eers om tussen die opsies te kies.
Woorde