12 September is Wêreld Mondgesondheidsdag.  Wat kan ‘n mens doen om die dag te vier?  Fokus op die verskillende dele van die mond:

Hoeveel tande het ‘n baba? ‘n kleuter? ‘n grootmens?  Watter tipe tande kry jy? Waarvoor gebruik ‘n mens dit?  Hoe borsel ek my tande?

Tande knersers Nie-tandeborselaars (eish)

mondtande

Tande:

  • Maak appelmondjies 
  • Maak ‘n tandmuissakkie:  Sny twee tande uit wit viltlap en werk die kante toe.  Los die bokant (kroon) van die tand oop en verbind dié kante met ‘n mooi stukkie lint (soos ‘n handvatsel).  As die kinders dit self gaan maak, kan ‘n mens sterk gom gebruik om die nate toe te werk en ‘n gesiggie met swart veselpen (dun koki) te teken.  Gebruik beweegbare ogies om dit ekstra oulik te maak.  Nou kan die tand op ‘n spesiale plek vir die tandmuis gehang word.
  • Gebruik wit vetkryt om ‘n stel tande (druk hard) en rooi om die lippe in te kleur.  Verf dit met effens verdunde voedselkleursel en sny uit sodra dit droog is of hou die bladsy in die A4-formaat.  Hang die monde aan ‘n tou of vislyne op vir ‘n gangversiering.
  • Maak gipstande deur die onderkant van ‘n 500ml-koeldrankbottel daarmee te vul en te laat stol.  Die holtes van die bottel vorm dus ‘n kiestand as dit om gedraai word.  As dit droog is, kan ‘n mens dit wit verf en op ‘n dik karton monteer/plak.  Die holte in die middel van die tand kan as ‘n bêreplek gebruik word, totdat die tandmuis die tand kom haal.

Lippe:

  • Teken (of druk) lippe (en miskien ‘n snor) en verf dit rooi.  Knip dit uit en plak op ‘n roomys- of sosatiestokkie.  Dit kan gebruik word vir oulike, verspotte foto’s.
  • Maak lipdiertjies:  Maak ‘n lipstiffie-afdruk of doen drukwerk met ‘n lipstempel (sny uit ‘n halwe aartappel of uitveër) en voeg die res van die lyfie by.

Tong:

  • Maak ‘n masker met ‘n opening in die mond vir die tong.  As julle lus het, kan ‘n mens ‘n gleufie in die mond sny en ‘n tong daardeur steek.  (Die tong kan uit rooi of pienk vilt gesny word.)

Ander:

  • Sny ‘n mond uit die kant van ‘n groot doos.  Verf lippe rondom en siedaar! ‘n Teiken vir gooiwerk (gebruik boontjiesakkies).
  • Tandeborsel:  Ouer kinders kan die dae van die week op ewe groot reghoeke skryf en dit in die korrekte volgorde rangskik.  Plak die kaartjies soos die hare van ‘n tandeborsel aan die agterkant van die tandeborselraampie.  Gebruik ‘n wasgoedpennetjie om die dag aan te dui waarop die outjie sy tande borsel.  As mens klein pennetjies (verkrygbaar by kunsvlytwinkels) gebruik, kan jy een vir die oggend- en een vir die aandborsel gebruik. [dae]

Tik gerus ook soekterme soos “higiëne, liggaam, skelet, tandmuis” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.