Lê daar dikwels skoolskoene en -klere op die vloer? Hiermee dan ‘n paar goedkoop bêre idees om die kledingstukke smiddae op te hang en om die skoene blink te hou.
In die klas…
- As jou skool nie hake het nie: Maak eenvoudige klerehake deur stukke ou speelgoed (bv. arms, bene, skaakstukke), ongebruikte deurknoppe of gesaagde takke eenvormig te spuitverf of in die oorspronklike vorm aan ‘n lang houtplank vas te skroef/lym. Hangers of kledingstukke het dan altyd ‘n plek om te hang (veral die fantasiespel klere). Tuis kan die knoppe vervang word soos die outjies ouer word.
- As jy nie hake wil gebruik nie, maak ‘n reling, herwin ‘n ou netbalring/hoepel of sit ‘n handdoekreling onderstebo onder aan ‘n raamwerk/balke (as jou Graad R-klas ‘n ekstra vlak het) vas. Hang die klere dan aan hangers op.
- Kies eenvormige houers (bv. opvoubare lapsakke, deursigtige plastiek houers met deksels of selfs roomysbakke) om soortgelyke hulpbronne te bêre. Die ideaal is om items vinnig op te spoor en te organiseer. Deksels help natuurlik om stof en moontlike waterskade te vermy.
- Gebruik eierdosies of ou ysbakkies vir stempels, skuifspelde, haarknippies en allerlei kleinighede.
- Verlore items:
- As klere en besittings verlore raak kan ‘n mens dit vinnig aan die eienaar terug besorg. Indien daar geen naam op is nie, kan ‘n mens dit in ‘n algemene houer plaas waar dit geleen kan word.
- Vra dat ouers die kinders se name groot binne-in die skoene se skryf. Indien daar vrese is dat die veselpen (koki) op wit sokkies sal afgee, kan ‘n mens op die binnesool skryf of naamplakkers gebruik.
- Vra dat alle kledingstukke (selfs swemdrag en onderklere) duidelik gemerk word met lap naamstrokies of spesiale veselpenne vir klere.
By die huis…
- Koop ‘n stelletjie hout hangers (gewoonlik in pakke van 5) en merk elkeen met ‘n byskrif of oulike boodskappie of beskrywing (bv. hemp, trui, rok…). As die outjies smiddae tuis kom, kan die klere op gehang word vir nog ‘n draslag.
- Vir die dogtertjies se haarknippies, -rekkies en -linte kan ‘n mens ‘n ou pop of lang vlegsels (gevleg uit vol of vals haarinsetsels) aan die klerehaak/-plank vasheg. Só kan die rekkies op ‘n spesifieke plek gebêre word.
- ‘n Vinnige gedagte om die skoene blink te hou: Maak ‘n oulike kissie om die skoenpolitoer in te hou. Pak kitspolitoer én die poetssoort daarin. Voeg etlike lappe en sagte borsels by om die skoene blink te poets. Plaas dan ‘n groterige, oop dosie (ook ‘n plastiese krat, matjie of selfs koerantpapier) saam met die skoenpoetskissie in die kamer. Só kan die outjies smiddae die skoene bêre, gou afstof en die matte skoon hou.
- ‘n Mens kan natuurlik ‘n kissie vir elkeen se skoene hê – om aan te trek op pad by die deur uit.
Deel gerus ook jou idees.
Woorde