Loer gerus na vorige skrywes en idees.

Paasfees

  • Oefen die outjies se knipvaardighede deur paaseiers of kruise op verskillende teksture soos karton, viltlap, snesiepapier (uit ou geskenkpakkies) en riffelkarton na te trek.  Hulle kan dit dan uitknip om versierings en kaartjies te maak.
  • As julle ‘n groot paaseier uitknip, kan ‘n mens dit met uitgeknipte patrone versier (bv. sirkel, driehoek, sirkel, driehoek).
  • Trek ‘n groot ovaal bo-oor ‘n gelineerde bladsy en rol dit af sodat die outjies hul patrone daarop kan oefen. Trek ligte potloodlyne op ‘n skoon (wit / gekleurde) bladsy of vou die bladsy om lyne te skep.  Doop die duim in pastadikte verf en druk ‘n ry “paaseiers” op elke lyn.  Die kleure kan afgewissel word om patrone to vorm.  Knip die patrooneiers uit en plak dit op die kleurvolle agtergrond, sodra die verf droog is.
  • PaasfeesOefen patroonwerk met uitdraaikryte (druk hard), verf dit met effens verdunde voedselkleursel en sny die eiers uit sodra dit droog is.  Plak twee eiers rug-teen-rug en hang dit aan ‘n lintjie of ‘n toutjie op.
  • Deel ‘n bladsy in vier gelyke blokke.  Skryf Bybelverse op ‘n eiervorm in elke blok en sny dit uit.  Trek patrone met blinkertjiegom op die keersy en gebruik dit as versierings wanneer die tafel gedek word.
  • Gom geknipte viltletters op viltpaaseiers en -kruise om as boekmerke te gebruik.
  • Tel droë takkies op en gebruik verpakkingstou om kruise te maak.  Los dit so of verf dit met wit gom en besprinkel met blinkertjies.  Hou dit vir die Kersboom.
  • Sny ‘n kruis of ‘n groot Paaseier versigtig in die middel van ‘n karton-/manillavel uit.  Sny dan lang stroke snesiepapier uit en plak dit dwars oor die gaping totdat die eier of kruis gevul is.  Hang dit voor ‘n lig of voor ‘n venster.
  • Sny ovaalvorms of kruise uit ou snesiepapier.  Verf dit liggies met olie en versier ‘n sonnige ruit.  Indien die olie ‘n bietjie grillerig klink, kan ‘n mens ‘n groot vel boekplastiek voor die ruit span en die versierings dan daarop plak.
  • Sny die geponsde rand van ‘n papierdoilie af en doop dit in ‘n vlak bakkie met effens verdunde voedselkleursel.  Sodra dit droog is, kan die dele effens oorvleuelend op ‘n kruis of ‘n paaseier geplak word.  Gebruik een kleur of verskillende kleure.  Draai die paaseier of kruis om wanneer dit droog is en knip dan die dele wat oorhang af.
  • Doop wit hoendereiers in asyn vir ‘n minuut en haal uit.  Smeer Orley Whip (of room in ‘n spuitkannetjie) in blertse oor ‘n bakplaat en drup helder voedselkleursel rond en bont daaroor.  Trek die wit eiers versigtig deur die mengsel, rol liggies of skep lepelsvol room liggies daaoor sodat dit heeltemal bedek is en laat dit net so op die plaat in die yskas staan vir ‘n halfuur tot ‘n uur.  Was die room af en gebruik die prettige eiers gedurende die Paasnaweek vir ontbyt en dies meer.
  • ‘n Mens kan ‘n leë hoender eier met wit gom of muurpapiergom verf en dan die gekleurde doiliepapier daaroor plak.  ‘n Lagie gom oor die droë eier sal help om ‘n glans effek te gee.  Vul ‘n klein mandjie vir die Paastafel.

‘n Geseënde Paastyd!