Advertisements
Tuiste

f- en v-reëls en b/d?

29 Kommentaar


Ek het gevind dat die meerderheid kinders worstel met omkerings (spieëlskrif) en lettergreepverdeling.  Dit is natuurlik ‘n veralgemening, maar as ‘n mens so deur hul boeke blaai…word die veralgemening ‘n werklikheid.

Die volgende omkerings vind baie plaas:

  • b / d / p / 9 (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
  • u / n (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
  • t / j

Dan kry ons ook die volgende vervangings of verwarrings:

  • h / j
  • m / n
  • f / v

In uitsonderlike gevalle verwar kinders ook b en w.  Hierdie is egter (soos h / j) ‘n ouditiewe diskriminasie uitval.

b / d (ook van toepassing op b / d/ p / 9)
Vir hierdie verwarring is ‘n groot hoeveelheid visuele diskriminasie oefeninge nodig.  Byvoorbeeld:

  • soek die b of d in die ry langsaan
  • watter prentjie begin met ‘n b of d?
  • watter prentjie begin nie met ‘n b / d nie?
  • omkring die woord wat met ‘n b / d begin
  • soek die b / d in die koerant artikel, tydskrif opskrif, ensovoorts

Taktiel (voel):

  • maak ‘n lang, dun, opgestopte skrifslang en buig dit in die vorm van die klanke
  • vorm die klank met klei
  • skryf die klank in sand – met die vinger
  • skryf die b met jou vinger teen ‘n boom se stam
  • skryf die d met jou vinger op die deur
  • doop jou vinger in water en skryf die klanke op sement of teen die bord
  • voel oor die klanke op ‘n robotkaart
    • maak dus ‘n vergroting van die klank
    • plak ‘n groen kol waar die klank begin en ‘n rooi kol waar dit eindig
    • b begin bo en d begin in die draai
  • lê op die mat en probeer om die letter met die lyf te vorm
  • staan en vorm die letters met die liggaam

Ouditief (gehoor):

  • noem drie woorde en vra “wat hoor jy eerste?”…bos, bak, buk…of…das, dek, dit
  • noem ‘n paar woorde op en vra aan die kind om ‘n spesifieke gebaar te maak as die woord met b of d begin (steek hand op, snap vingers, knip oë, ens.)

f en v
Hierdie is een van die “gewildste” verwarrings.  Dit is egter makliker om te remedieer as baie van die ander verwarrings.  Na aanleiding van ‘n paar opgemaakte reëls, oorkom heelwat kinders die uitval.

f

  • flamink is die enigste voël (waaraan ons kan dink) wat met ‘n “f” begin.  Ons teken gewoonlik ‘n strepie in sy nek en siedaar!  Sy kop en nek vorm sommer ‘n “f”.
  • Dinge wat stukkend of verniel beteken soos fyn, flenters, fraaiings, frommel…(*)
  • Dinge waaraan ‘n mens kan vat of wat ‘n mens kan sien – mensgemaak – soos fabriek, fiets, flits…(*)
  • Dinge wat ‘n mens kan wees soos fraai, flou, fier, familie…(*)
  • Aan die begin, einde of in die middel van woorde

v

  • Dinge wat vlieg of vinnig is soos vlieg, vlerk, vuurpyl, vuur (brand vinning), vlam, vlooi, viool (speel vinnig anders slaap ek)
  • Dinge wat met my lyf te make het soos vel, vingers, voete, vryf
  • Dinge wat met diere – veral plaasdiere – te doen het:  soos vark, vul, vee, vos, vleis, volstruis, voer, vreet
  • As ‘n woord met “ver” begin, skryf ek altyd v-e-r.
  • Nooit aan die einde van woorde nie.

f-en-v-oefen

Werksvelle

(‘n toep)

Tik “b en d” of “omkering” by die soekblokkie in vir nog idees.

Advertisements

Wat is ‘n “VMI”?

Lewer kommentaar


Dié van julle wat al ‘n verslag van ‘n arbeidsterapeut of ‘n opvoedkundige sielkundige onder oë gehad het, sou ‘n verwysing na die kind se VMI gesien het. Dit staan vir Visual-Motor Integration en het te make met die kind se vermoë om beelde te interpreteer en weer te gee.  As die outjie se VMI telling baie laag is teenoor die kronologiese ouderdom, beteken dit dat hy ‘n bietjie gaan klei trap met dinge soos skrif en afskryf van die bord af.  Daarom beveel die kundiges hulp soos arbeidsterapie aan…en dit wérk

Baie outjies se prestasies styg as die VMI styg.  Hulle is dus nie net eenvoudig oorgelaat aan ‘n “swak uitslag” op ‘n verslag nie.  Daar is ‘n uitweg.

Tesame met die kundige raad en hulp van ‘n arbeidsterapeut, is daar ‘n paar oefeninge om tuis te probeer. Probeer baie oefeninge wat die Visuele Persepsies, Middellynkruising en Fynmotoriek ontwikkel.

Eye can learn gee aanlyn oefeninge en oulike idees.

http://www.wired.com/images_blogs/photos/uncategorized/2007/03/26/beery4.jpg

b en d verwarrings

17 Kommentaar


b-en-d

Ek het gister geantwoord op ‘n vraag oor b en d verwarrings.  Ek plaas dit hier as ‘n artikel en las ‘n paar dinge by…

Die belangrike ding van b en d is om dit afsonderlik te verduidelik. b begin altyd bo en beweeg dan af. Jy verbeel jou dat jy baie lekkers voor jou op die tafel het en dat jy gulsig is 😉 Trek die lekkers nader…en strooi dan ‘n paar vir die ander maats om die tafel (kloksgewys). Jy trek die b dus denkbeeldig met die gryp en uitdelery. Praat saam as jy die b maak. “b begin bo…b is vir beer…b is vir bal…b is vir bak…en dis nie al…”

Speel dan “Ek sien met my klein ogie…iets wat begin met ‘n b…”

Maak b bladsye….soek prente wat begin met b in ou tydskrifte en plak dit op ‘n papier…laat die kleinding ‘n b langs elkeen skryf. Plak dit iewers vas waar sy baie daarna kan kyk.  Iemand het elders ‘n (engelse) liedjie op die wyse van “My Bonnie lies over the ocean” op gemaak…Probeer myne…

“My juffrou het prente van die b-klank,

van bere, van boeke en blou.

My juffrou het prente van die b-klank…

b b b b b b b b…

Bring jou hand af,

bring jou hand af,

bring af en bons op en om…bons om

bring jou hand af, hand af…

bring af en bons op en om…”

Maak die skryf-aksie na terwyl jy die refrein sing – asof jy op ‘n denkbeeldige bord skryf.

d begin op dieselfde plak as a – in die draai (2 pm op die horlosie en anti-kloksgewys na links)…”om die piering op-en-oooop en af…”

Doen dieselfde tipe aktiwiteite as met die b... Soek prentjies…soek d-dinge in die vertrek…

Skeur stukkies blou of bruin papier (uit ou tydskrifte) en plak dit op ‘n groot b. Doen dieselfde met ‘n donker groen op die d….Maak ‘n b uitstalling dalk op die linkerdeur van Poplap se kasdeur en ‘n d uitstalling op die regterdeur…oefen oefen oefen 😉

Gebruik die “doo wa di di”-liedjie hier…

doo wah diddie, diddie dam diddie doo

Gaan om die piering en dan op en da-han af…

sing dan doo wah diddie, diddie dam diddie doo…”

‘n Mens kan nie die geskrewe aspekte alleen hanteer nie.  Tesame met die verwarring van die klanke, moet jy aandag skenk aan aspekte soos lateraliteit (die begrip vir links en regs), visuele diskriminasie (die uitkenning van b of d tussen ander klanke)…

b & d

‘n Video om te help – speel deur die Tiny Tap Toep/App

Screen Shot 2015-03-27 at 6.18.33

amper in die groot skool

12 Kommentaar


skoolgereedDit is amper tyd vir die groot skool.  Dit is nou tyd vir ekstra werk en speletjies om die vaardighede op te skerp.   Hiermee ‘n paar aktiwiteite om op ‘n lekker speel-speel wyse te doen.  Hou alle “skool” aktiwiteite  of speletjies lekker en informeel.  Indien die kleinding sukkel, stop die speletjie en gaan oor na iets anders.  Skool moenie met ‘n spanningsvolle ervaring verbind word nie…

Ouditiewe Persepsie

(praat agter ‘n skerm soos ‘n koevert of stuk papier – sodat die lippe nie sigbaar is nie)

  •  Watter klankie hoor jy aan die begin?  Wat hoor jy eerste? (Spreek die “vet” klankie met mening uit.  “Oordoen” dit.)

bal

lap

hap

toon

sit

man

nek

rok

  • Watter klankie hoor jy in die middel?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

mot

kat

sit

rek

bus

Later…(Graad 1, 2 en 3)

(Dubbelklanke)

toon, room, foon…

naam, gaap, laat…

vuur, suur, muur, nuut…

meel, veer, neem…

Nog later…(Graad 1, 2 en 3)

(Tweeklanke)

vuil (met ‘n diep stem)

seil (met “plat” lippe)

boek

koud

deur

  •  Watter klankie hoor jy laaste?  Watter klank hoor jy aan die einde?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

kat

man

bos

bal

stof

  • Noem vier woorde – waarvan drie identies is.  Watter een pas nie?

Bv. nek, man, nek, nek.

Skuif die “ander” woord rond.  Bv. buk, buk, buk, dak.  hak, hak, tak, hak.

  • Sê twee woorde wat óf dieselfde is óf eenders is.  Bv. seep/seep, doek/boek.  Die kind moet sê of die woord dieselfde of anders is.  (‘n Kop-knik of –skud is ook in orde.)

Geheue

  1. Noem 2 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. mat, pen.
  2. Noem 3 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. tas, bed, rok…Vermeerder tot 5 woorde.
  3. Gee ‘n opdrag met een aksie.  Bv. skakel die lig aan…Vermeerder die aksies tot 4 (mettertyd).  Bv. Skakel die lig aan, maak die deur toe, bring die boek en klim op die bed.

VISUELE PERSEPSIE

Gebruik ‘n besige prent of foto.

  1. Soek sekere items.  Bv. Druk met die vinger op al die geel blomme.  Omkring al die driehoeke.  Omkring al die groot bome.
  2. Kyk na twee eenderse prente en soek die verskille (gewoonlik in aktiwiteitsboeke).
  3. Skryf ‘n klomp syfers rond en bont op ‘n bladsy neer.  Omkring al die 2’s / 3’s / 4’s, ens.
  4. Soek takies soos:
  • Watter prentjie lyk dieselfde as die eerste een?
  • Watter prentjie pas nie?
  • Soek die maats.
  • Omkring al die prente wat met ‘n s begin (oorvleuel met ouditiewe takies).

Geheue

  1. Pak drie speelgoed langs mekaar.  Wys aan die kind.  Bedek na 5 tellings.  Die kind moet opnoem wat hy gesien het.  Later moet hy die volgorde herroep of die items self na pak.
  2. Kyk na 3 tot 5 prente.  Bedek.  Wat het jy gesien?  Was jy reg?
  3. Kyk na ‘n besige prent.  Bedek.  Wat het jy alles gesien?  Wys nou vir my waar is die …?  (Wys die genoemde items uit.)
  4. Wys ‘n eenvoudige lynskets.  Neem weg.  Die kind moet dit teken. (Begin by vorms en dan eenvoudige “simbole”.)
  5. Skryf 2 tot 5 syfers in ‘n ry.  Bedek.  Die kind met dit skryf.

Aksies met rigting-woorde, woordeskat en waardevolle konsepte

  • Druk op die blom langs die huis, voor die boom, links van die motor, regs van die hond…
  • Raak aan jou… (liggaamsdele – ook knie, skouer, elmboog, ken, hak…)
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou …
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou linker- / regter-…
  • Gee aksies om te onthou (soos by die ouditiewe afdeling), maar las rigting by.  Bv. Skuif die gordyn na links en maak die venster oop.  Bêre die glas regs van die wasbak en die bord links van die wasbak.
  • Pak speelgoed in ‘n ry en wys uit.  Watter speelding staan eerste?  Laaste? In die middel?
  • Drie tot vyf prente in ‘n ry:  Watter prent is eerste? Tweede? Laaste? In die middel?  Watter prent kom na die …?  …voor die …?
  • Sorteer prente volgens dinge wat in die oggend (borsel tande, trek aan, eet pap…), gedurende die dag (skool toe, speel) of nag gebeur (slaap, bad…).
  • Deel items uit.  Bv. Verdeel die lekkers tussen twee kinders.  Hoeveel kry elkeen?  Hoeveel bly oor?
  • Kyk na versamelings (3 to 4 groepies).  Watter groupie het die meeste / minste items?
  • Tel voorwerpe.  Skryf die syfer (tot 10).  [Gebruik die regte skrif.]
  • Volg die stippellyn.  (bv. van die kat tot by die muis)
  • Volg die doolhoof.
  • Knip op die lyn (reguit lyne, effense kurwes…)
  • “Lees” logo’s soos die name van bekende winkels, eetgoed, koeldrank, padtekens…
  • Bou legkaarte.
  • Lees BAIE stories, sing liedjies, sê rympies op…maak stories op, maak gediggies op…

Rig ‘n hoekie vir “lekker werk” iewers in die huis in.  ‘n Hoekie in die slaapkamer sal fantasties wees. ‘n Spesiale houer vir kryte, potlode en veselpenne (koki’s) kan op die “lessenaar” staan – met baie afvalpapier (ou blaaie met skoon agterkante is ideaal). Knip verskillende vorms uit x-straalplate of skaf stensils (selfs ou deksels, plekmatjies…) aan. Hou ‘n verskeidenheid “teken-” of “verfgoed” aan. ‘n Mens hoef nie net met ‘n kwas te verf nie. ‘n Ou skeerkwas, sponsie, oorstokkies en vingers is fantasties. Hou maar altyd ‘n ou lappie (die dun, blou kombuislappies is baie handig) naby om die vingers skoon te hou. Indien daar nie ‘n voorskoot naby is nie, kan gate uit ‘n inkopiesak geknip word vir die kop en arms. Siedaar! ‘n Weggooibare voorskoot. ‘n Tafeldoek kan uit ‘n swartsak geprakseer word. Pep het egter rolle plastiek (in oulike ontwerpe) om spesiale en goedkoop tafeldoeke te maak.
Stempels hoef nie duur en gekoopte items te wees nie. ‘n Een-sessie stempel kan uit aartappels gemaak word. Sny die aartappel in die helfte, “teken” jou ontwerp met die mespunt en kerf rondom. Dit gee dieselfde effek as ‘n stempel en is sommer “personalised” vir die kleinding. Groter kinders kan natuurlik woorde stempel – indien iemand 26 klanke wil kerf 😉 Vra ook vir vriende of daar nie ongebruikte, ou stempel by die kantoor lê nie – vir ‘n skenking. Kantore en fabrieke het dikwels ou afvalmateriaal, plakkers en diesmeer wat kleingoed op kreatiewe wyses kan gebruik.
Gebruik gemorspos, ou koerante en tydskrifte:
Maak klein winkeltjies in die kamer (woordeskat ontwikkeling)…
Gebruik gemorspos om die logo’s uit te knip en plak dit teen die muur vas. Hoeveel selfone is daar in jou winkel? Watter selfoon is die grootste? Kleinste? Wat verkoop jy in hierdie winkel? Waar gebruik ek hierdie items? Sorteer prente van meubels en elektriese apparaat volgens vertrekke. Waarvan hou jy?
Gebruik die prente in gemorspos om ‘n huis te versier. Gebruik ‘n ou doos (of verskeie) om “pophuise” te maak – met meubels, matte, mense, ens. Wees lekker kreatief, maar doen hierdie aktiwiteite SAAM MET die kleinding. Die doel van hierdie kreatiewe werk is om baie te gesels, om woordeskat aan te leer en te ontwikkel, om die handjies besig te hou en om die verhouding tussen ouer en kind te versterk.
Lekker speel!

arbeidsterapie

98 Kommentaar


Indien u kind baie van die volgende uitvalle openbaar en indien die klasopvoeder dit as ‘n probleem ervaar, kan ‘n evaluasie deur ‘n arbeidsterapeut waardevol wees. Hierdie diens is aftrekbaar van die meeste mediese fondse.

Tasdefensief:

Die kind hou nie van fisieke kontak nie en vermy aanraking.

Vermy spel met liggaamskontak (bv. rugby, aan-aan).

Wil nie vuil word nie.

Wil nie kaalvoet loop nie.

Wil nie haarkapper of tandarts toe gaan nie.

Hou nie van hare of gesig was nie.

Hou nie daarvan as sy naels gesny word nie.

Lae spiertonus / spier uithouvermoë:

Die kind kom lomp voor of val baie.

Sukkel om regop te sit (gly af in die stoel of lê vooroor).

Kan nie lank stil sit nie en kriewel.

Ondersteun kop met die arm.

Die kind het ‘n swak postuur.

Raak gou moeg.

Aandagspan:

Kan nie op die werk fokus nie.

Voltooi werk baie stadig.

Vroetel en kriewel

Voltooi nie take nie.

Dagdroom

Fyn motoriese probleme (handspierbeheer en –koördinasie):

Sukkel om te knip.

Sukkel om veters en knope vas te maak.

Kleur nie netjies in nie en skryf slordig.

Skryf stadig.

Skryf met verkeerde potloodgreep.

Grof (groot) motoriese probleme:

Die kind sukkel om bewegings met die groter spiere uit te voer.

Huiwerig om groot speelapparate in ‘n speelpark te gebruik (glyplank, swaaie, klimrame).

Kom lomp voor en val gereeld.

Kan nie op een been balanseer nie.

Vind balspele moeilik (gooi en vang).

Swak postuur as hy op die mat of by die tafel moet sit.

Het nie gekruip nie.

Het laat begin rol, sit, kruip of loop.

Visuele persepsie:

Die kind sukkel om sin te maak uit dit wat hy sien.

Vermy aktiwiteite soos inkleur, teken of legkaart bou.

Sukkel om ‘n mannetjie volledig te teken.

Sukkel om vorms en kleure te identifiseer.

Sukkel met begrippe soos voor, agter, bo, onder, links, regs…

Sukkel om ‘n patroon te pak en te voltooi.

Wissel die kryt tussen hande terwyl hy of sy teken.

Ruil letters en syfers om.

Skryf letters en syfers in die spieëlbeeld.

Verloor plek wanneer hy of sy lees.

Ruil die orde van letters in ‘n woord om.

skryf verkeerd van die bord af.

Vorm letterformasies lomp of skryf verkeerd.

Sukkel om teen die kantlyn te begin en om korrek tussen lyne te werk.

[Bron: plaaslike arbeidsterapeut]

%d bloggers like this: