Tuis

amper in die groot skool

14 Kommentaar


skoolgereedDit is amper tyd vir die groot skool.  Dit is nou tyd vir ekstra werk en speletjies om die vaardighede op te skerp.   Hiermee ‘n paar aktiwiteite om op ‘n lekker speel-speel wyse te doen.  Hou alle “skool” aktiwiteite  of speletjies lekker en informeel.  Indien die kleinding sukkel, stop die speletjie en gaan oor na iets anders.  Skool moenie met ‘n spanningsvolle ervaring verbind word nie…

Ouditiewe Persepsie

(praat agter ‘n skerm soos ‘n koevert of stuk papier – sodat die lippe nie sigbaar is nie)

  •  Watter klankie hoor jy aan die begin?  Wat hoor jy eerste? (Spreek die “vet” klankie met mening uit.  “Oordoen” dit.)

bal

lap

hap

toon

sit

man

nek

rok

  • Watter klankie hoor jy in die middel?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

mot

kat

sit

rek

bus

Later…(Graad 1, 2 en 3)

(Dubbelklanke)

toon, room, foon…

naam, gaap, laat…

vuur, suur, muur, nuut…

meel, veer, neem…

Nog later…(Graad 1, 2 en 3)

(Tweeklanke)

vuil (met ‘n diep stem)

seil (met “plat” lippe)

boek

koud

deur

  •  Watter klankie hoor jy laaste?  Watter klank hoor jy aan die einde?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

kat

man

bos

bal

stof

  • Noem vier woorde – waarvan drie identies is.  Watter een pas nie?

Bv. nek, man, nek, nek.

Skuif die “ander” woord rond.  Bv. buk, buk, buk, dak.  hak, hak, tak, hak.

  • Sê twee woorde wat óf dieselfde is óf eenders is.  Bv. seep/seep, doek/boek.  Die kind moet sê of die woord dieselfde of anders is.  (‘n Kop-knik of –skud is ook in orde.)

Geheue

  1. Noem 2 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. mat, pen.
  2. Noem 3 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. tas, bed, rok…Vermeerder tot 5 woorde.
  3. Gee ‘n opdrag met een aksie.  Bv. skakel die lig aan…Vermeerder die aksies tot 4 (mettertyd).  Bv. Skakel die lig aan, maak die deur toe, bring die boek en klim op die bed.

VISUELE PERSEPSIE

Gebruik ‘n besige prent of foto.

  1. Soek sekere items.  Bv. Druk met die vinger op al die geel blomme.  Omkring al die driehoeke.  Omkring al die groot bome.
  2. Kyk na twee eenderse prente en soek die verskille (gewoonlik in aktiwiteitsboeke).
  3. Skryf ‘n klomp syfers rond en bont op ‘n bladsy neer.  Omkring al die 2’s / 3’s / 4’s, ens.
  4. Soek takies soos:
  • Watter prentjie lyk dieselfde as die eerste een?
  • Watter prentjie pas nie?
  • Soek die maats.
  • Omkring al die prente wat met ‘n s begin (oorvleuel met ouditiewe takies).

Geheue

  1. Pak drie speelgoed langs mekaar.  Wys aan die kind.  Bedek na 5 tellings.  Die kind moet opnoem wat hy gesien het.  Later moet hy die volgorde herroep of die items self na pak.
  2. Kyk na 3 tot 5 prente.  Bedek.  Wat het jy gesien?  Was jy reg?
  3. Kyk na ‘n besige prent.  Bedek.  Wat het jy alles gesien?  Wys nou vir my waar is die …?  (Wys die genoemde items uit.)
  4. Wys ‘n eenvoudige lynskets.  Neem weg.  Die kind moet dit teken. (Begin by vorms en dan eenvoudige “simbole”.)
  5. Skryf 2 tot 5 syfers in ‘n ry.  Bedek.  Die kind met dit skryf.

Aksies met rigting-woorde, woordeskat en waardevolle konsepte

  • Druk op die blom langs die huis, voor die boom, links van die motor, regs van die hond…
  • Raak aan jou… (liggaamsdele – ook knie, skouer, elmboog, ken, hak…)
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou …
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou linker- / regter-…
  • Gee aksies om te onthou (soos by die ouditiewe afdeling), maar las rigting by.  Bv. Skuif die gordyn na links en maak die venster oop.  Bêre die glas regs van die wasbak en die bord links van die wasbak.
  • Pak speelgoed in ‘n ry en wys uit.  Watter speelding staan eerste?  Laaste? In die middel?
  • Drie tot vyf prente in ‘n ry:  Watter prent is eerste? Tweede? Laaste? In die middel?  Watter prent kom na die …?  …voor die …?
  • Sorteer prente volgens dinge wat in die oggend (borsel tande, trek aan, eet pap…), gedurende die dag (skool toe, speel) of nag gebeur (slaap, bad…).
  • Deel items uit.  Bv. Verdeel die lekkers tussen twee kinders.  Hoeveel kry elkeen?  Hoeveel bly oor?
  • Kyk na versamelings (3 to 4 groepies).  Watter groupie het die meeste / minste items?
  • Tel voorwerpe.  Skryf die syfer (tot 10).  [Gebruik die regte skrif.]
  • Volg die stippellyn.  (bv. van die kat tot by die muis)
  • Volg die doolhoof.
  • Knip op die lyn (reguit lyne, effense kurwes…)
  • “Lees” logo’s soos die name van bekende winkels, eetgoed, koeldrank, padtekens…
  • Bou legkaarte.
  • Lees BAIE stories, sing liedjies, sê rympies op…maak stories op, maak gediggies op…

Rig ‘n hoekie vir “lekker werk” iewers in die huis in.  ‘n Hoekie in die slaapkamer sal fantasties wees. ‘n Spesiale houer vir kryte, potlode en veselpenne (koki’s) kan op die “lessenaar” staan – met baie afvalpapier (ou blaaie met skoon agterkante is ideaal). Knip verskillende vorms uit x-straalplate of skaf stensils (selfs ou deksels, plekmatjies…) aan. Hou ‘n verskeidenheid “teken-” of “verfgoed” aan. ‘n Mens hoef nie net met ‘n kwas te verf nie. ‘n Ou skeerkwas, sponsie, oorstokkies en vingers is fantasties. Hou maar altyd ‘n ou lappie (die dun, blou kombuislappies is baie handig) naby om die vingers skoon te hou. Indien daar nie ‘n voorskoot naby is nie, kan gate uit ‘n inkopiesak geknip word vir die kop en arms. Siedaar! ‘n Weggooibare voorskoot. ‘n Tafeldoek kan uit ‘n swartsak geprakseer word. Pep het egter rolle plastiek (in oulike ontwerpe) om spesiale en goedkoop tafeldoeke te maak.
Stempels hoef nie duur en gekoopte items te wees nie. ‘n Een-sessie stempel kan uit aartappels gemaak word. Sny die aartappel in die helfte, “teken” jou ontwerp met die mespunt en kerf rondom. Dit gee dieselfde effek as ‘n stempel en is sommer “personalised” vir die kleinding. Groter kinders kan natuurlik woorde stempel – indien iemand 26 klanke wil kerf 😉 Vra ook vir vriende of daar nie ongebruikte, ou stempel by die kantoor lê nie – vir ‘n skenking. Kantore en fabrieke het dikwels ou afvalmateriaal, plakkers en diesmeer wat kleingoed op kreatiewe wyses kan gebruik.
Gebruik gemorspos, ou koerante en tydskrifte:
Maak klein winkeltjies in die kamer (woordeskat ontwikkeling)…
Gebruik gemorspos om die logo’s uit te knip en plak dit teen die muur vas. Hoeveel selfone is daar in jou winkel? Watter selfoon is die grootste? Kleinste? Wat verkoop jy in hierdie winkel? Waar gebruik ek hierdie items? Sorteer prente van meubels en elektriese apparaat volgens vertrekke. Waarvan hou jy?
Gebruik die prente in gemorspos om ‘n huis te versier. Gebruik ‘n ou doos (of verskeie) om “pophuise” te maak – met meubels, matte, mense, ens. Wees lekker kreatief, maar doen hierdie aktiwiteite SAAM MET die kleinding. Die doel van hierdie kreatiewe werk is om baie te gesels, om woordeskat aan te leer en te ontwikkel, om die handjies besig te hou en om die verhouding tussen ouer en kind te versterk.
Lekker speel!

lees, leer en die ogies

17 Kommentaar


Visuele oefeninge speel ‘n groot rol tydens die leerproses. Daarom maak arbeidsterapeute en opvoedkundige sielkundiges spesifieke melding van die VMI – ‘n telling wat bepaal of die kind se visueel perseptuele ontwikkeling op die korrekte vlak is. Dit is ‘n goeie indikasie of die outjie sukkel of sal sukkel met sy werk.

Dikwels word ‘n spesifieke leesprobleem ook aan ‘n lae VMI gekoppel.  Indien die VMI onder die kind se kronologiese ouderdom is, word daar gewoonlik aanbeveel dat die kind terapie ontvang.

Kla jou kleintjie as hy moet lees? Is lees vermoeiend? Dan is daar ‘n moontlikheid dat die probleem by die ogies lê. Die oogspiertjies beweeg dalk nie egalig nie en veroorsaak spanning. Die ogies raak dus gou moeg en die leesproses bly ‘n pyn. Dit sal wenslik wees om die ogies te laat toets vir visie én vir onegalige oogbewegings.

Om die oogbewegings tuis te ontwikkel, kan jou kind Eye Can Learn se oefeninge volg. Die kop moet stil gehou word en slegs die ogies moet beweeg. ‘n Paar minute per week help reeds.

Indien jy herhaalde uitvalle soos die omkering vir syfers en getalle (bv. b/p/d, n/u, getalle in die spieëlbeeld) of die omruiling van posisie opmerk (bv. ou/uo, oe/eo), sou ‘n oogtoets wenslik wees om die oogbewegings en visie te toets.  Skakel ‘n paar oogkundiges en optometriste in jou omgewing voor jy ‘n afspraak maak.  Sommiges toets kinders jonger as 12 se oë gratis.

Opvoedkundige aspekte om te ontwikkel vir skoolgereedheid

13 Kommentaar


Bilaterale integrasie

Die vermoë om albei kante van die liggaam saam te koördineer. Bv. Wanneer ‘n mens loop of hardloop

Deel / geheel konsep

Die dele van ‘n voorwerp wat, as hulle saam gebruik word, ‘n geheel vorm, bv. ‘n vliegtuig en sy vlerk wat weg is

Emosionele bewustheid

Die vermoë om jou gevoelens uit te spreek en te herken

Fynmotoriese vaardighede

Die ontwikkeling van die klein spiere van die liggaam, veral die hande, vingers, tone en tong om take soos skryf, teken, knip, lek en praat uit te voer

Grootmotoriese vaardighede

Die ontwikkeling van die groot spiere van die liggaam, veral die arms en bene om take soos die gooi en vang van ‘n bal akkuraat uit te voer

Kategorisering

Die vermoë om dinge in ‘n groep of klas te plaas

Kognitiewe vaardighede

Denkvaardighede wat ‘n mens help om doeltreffend te leer

Kritiese denkvaardighede

Die vermoë om versigtig te oordeel en vir jouself te dink

Lae spiertonus

‘n Subnormale tonus in die spiere wat byvoorbeeld ‘n swak postuur, swak balans sowel as ontoereikende ooghandkoördinasie veroorsaak

Middellyn

Dit is die denkbeeldige vertikale lyn wat die linker- en regterkant van die liggaam verdeel, asook die horisontale lyn wat die boonste en onderste deel van die liggaam verdeel

Middellynkruising

Die vermoë om die vertikale lyn van die liggaam met die oë, die hande of die voete te kruis, bv. om die linkerhand te gebruik om aan iets aan die regterkant van die liggaam te raak

Oog-handkoördinasie

Die geïntegreerde werking van die oog en die hand om take met gemak uit te voer (soos om ‘n pen vas te hou terwyl jy teken of skryf)

Oorsaak en gevolg

Die vermoë om die redes te verstaan waarom iets gebeur en wat die uitslag daarvan gaan wees

Pas lettervorms

Die vermoë om die ooreenstemmende vorms van letters by mekaar te pas as voorbereiding vir lees

Persepsievaardighede

Waarnemingsvaardighede; die vermoë van die brein om via die sintuie – sien, hoor, proe, ruik, voel – die buitewêreld te ervaar

Postuur

Die vermoë om die liggaam regop te hou terwyl jy sit, staan of stap

Potloodbeheer

Die vermoë om ‘n potlood of ander skryfimplement korrek vas te hou en te gebruik

Probleemoplossingsvaardig-hede

Die vermoë om oplossing vir porbleme en vrae te vind

Rigting

‘n Begrip vir waarheen ‘n voorwerp beweeg en waarvandaan dit kom

Ruimtelike verhoudings

Die vermoë om die posisie van twee of meer voorwerpe in verhouding tot mekaar waar te neem, bv. voor, agter, langs

Sekwensie

Om dinge of prente in ‘n logiese volgorde te rangskik, bv. 1, 2, 3, eerste tot laaste, van die grootste tot die kleinste

Selfbeeld

Die algemene idee wat ‘n mens van jouself het, wat positief of negatief kan wees

Sortering

Weet hoe om dinge volgens hul eienskappe te orden, bv. hoe om die ronde lekkers in een houer en die vierkantiges in ‘n ander te sit

Visuele diskriminasie

Die vermoë om ooreenkomste en verskille raak te sien

Visuele motoriese koördinasie

Die manier waarop die oë gedurende beweging met die ander dele van die liggaam koördineer en saamwerk;bv. die proses waartydens dinge soos vorms gesien word en dit met die hand nageteken en die brein ingespan word

Voorbereidende leesvaardighede

Vaardighede wat die jong kind vir lees voorberei voordat hy of sy werklik kan lees

Voorgrond-agtergrond-diskriminasie

Die vermoë om op ‘n spesifieke item te fokus en dit op die voorgrond te plaas en waar te neem terwyl ander items op die agtergrond verdwyn

%d bloggers like this: