Visuele oefeninge speel ‘n groot rol tydens die leerproses. Daarom maak arbeidsterapeute en opvoedkundige sielkundiges spesifieke melding van die VMI – ‘n telling wat bepaal of die kind se visueel perseptuele ontwikkeling op die korrekte vlak is. Dit is ‘n goeie indikasie of die outjie sukkel of sal sukkel met sy werk.

Dikwels word ‘n spesifieke leesprobleem ook aan ‘n lae VMI gekoppel.  Indien die VMI onder die kind se kronologiese ouderdom is, word daar gewoonlik aanbeveel dat die kind terapie ontvang.

Kla jou kleintjie as hy moet lees? Is lees vermoeiend? Dan is daar ‘n moontlikheid dat die probleem by die ogies lê. Die oogspiertjies beweeg dalk nie egalig nie en veroorsaak spanning. Die ogies raak dus gou moeg en die leesproses bly ‘n pyn. Dit sal wenslik wees om die ogies te laat toets vir visie én vir onegalige oogbewegings.

Om die oogbewegings tuis te ontwikkel, kan jou kind Eye Can Learn se oefeninge volg. Die kop moet stil gehou word en slegs die ogies moet beweeg. ‘n Paar minute per week help reeds.

Indien jy herhaalde uitvalle soos die omkering vir syfers en getalle (bv. b/p/d, n/u, getalle in die spieëlbeeld) of die omruiling van posisie opmerk (bv. ou/uo, oe/eo), sou ‘n oogtoets wenslik wees om die oogbewegings en visie te toets.  Skakel ‘n paar oogkundiges en optometriste in jou omgewing voor jy ‘n afspraak maak.  Sommiges toets kinders jonger as 12 se oë gratis.