Tuiste

ABC’s – skryf

56 Kommentaar


abcskryf

This slideshow requires JavaScript.

Die voorlopers vir formele skrif is gewoonlik in verskeie dele verdeel.  (Dit sluit skribbel in.)  Om ‘n kind gereed te maak vir skrif, word verskeie handspieroefeninge gedoen.  Ure en ure word spandeer aan patrone en die kind maak later patrone in elke prentjie wat geteken word.  Dit is alles belangrik om te “oefen” vir die “groot” skryfproses.

Dinge om te onthou:

  1. begin gewoonlik met ‘n groot, dik kryt of verfkwas en ‘n groot vel papier (koerantpapier werk goed)
  2. dik vetkryte en dik veselpenne (koki’s) kan volg
  3. driehoekige potlode en vetkryte volg – daarom gebruik baie Graad 1-klasse uitdraaikryte (MonAmi)
  4. potlode volg eers baie later
  5. gebruik aanvanklik net klein letters
  6. hoofletters kan vir name gebruik word

Vorming van letters en patrone:

a, d, g, c, o, q, s begin by ‘n denkbeeldige “twee uur” op die horlosie en die hand beweeg anti-kloksgewys om die letter te vorm.  Moenie die hand lig voordat die hele letter voltooi is nie.  Maak ‘n groen kolletjie waar die letter begin en ‘n rooie waar die skryfaksie (karretjie se roete) moet stop.  Die brandertjie patroon (soos ‘n “c” in lopende skrif) word gewoonlik hier gebruik.

v, w en k se patroon is die wolftand patroon (zig-zag).

h, p, b, m, n, r se patroon is die hasie hop (lyk soos ‘n klomp n’e teen mekaar).

u, y, g se patroon is die Tarzan patroon (lyk soos ‘n klomp u-klanke teen mekaar).

a = om die piering, op en af(ek gebruik ‘n ou CD teen die bord)

b begin bo, b – vir bal:  Los die bal…die bal bons, rol en lê.

d begin in die draai, d – vir draai:  om die piering, op en óp en af

e = Die motor ry reguit en stop by die stopstraat.  Moenie jou hand lig nie, want ‘n motor kan nie vlieg nie.  Draai dan links om die piering en stop.

f = Staan op ‘n duikplank en duik met ‘n boog tot onder in die swembad.  ‘n Voëltjie vlieg van links na regs verby.

g = Om die piering, op en af…en swaai die stert.

h = Los die bal. Die bal hop en gaan lê.

i = Die man staan regop soos ‘n reguit liniaal en sit ‘n hoed op sy kop – ‘n dotjie – nie ‘n donga nie!

j = Lyk soos i, maar glip verby en krul sy stert.

k = In die Kaap:  Twee droë stokkies word opgetel.  Die een lê ons reguit neer en die ander een knak ons met ‘n “k”-geluid sodat dit soos ‘n “v” lyk.  Sit nou die hoekie teen die langbeen.  Reguit af… lig die hand…skuins af, skuins af en op.

l = reguit en lank soos ‘n liniaal

m en n = Die haas hop met ‘n boog (af, hop, hop en af, hop)

o = om en om die piering

p = aaaaf, ôôôp en om

r = af, hop en hang

s = begin by twee uur – sê “ssss” terwyl dit gemaak word – soos ‘n slang

t = ‘n sambreel se steel kan geteken word – af, krul en ‘n voëltjie vlieg verby

u = af, om, op en af

v + w = skuins af, skuins op en stop / skuins af, skuins op, skuins af, skuins op en stop

y (Die Kaap gebruik die geronde een – ‘n kruising tussen “u” en “g”.) = af, om, op en af en krul die stert

Tik gerus soekterme soos “tuis idees, abc, skryf, skrif, klanke, syfers, patrone, potloodgreep, font, perseptuele, knip, robotkaart, Teacha” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

Aandagafleibaarheid

198 Kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

Onthou asseblief dat die volgende inligting nie ‘n mediese kundige se skrywe is nie en slegs as ‘n inligtingstuk dien.  Raadpleeg asseblief ‘n pediater indien aandagafleibaarheid vermoed word.

ADHD is die term wat onderwysers die meeste gebruik om ‘n aandagafleibaarheid te beskryf.  (Dit staan eintlik vir Attention Deficit and Hyperactivity Disorder.)  Dit dui gewoonlik daarop dat die kind nie op ‘n gegewe taak kan fokus nie.  Aandagafleibaarheid kan met Hiperaktiwiteit (geweldig woelig) of Hipo-aktiwiteit (dagdromerigheid) gepaard gaan en word eintlik deur ‘n pediater gepeil en behandel.

Bekendes met ADHD/AAHS sluit Bill Cosby, Cher, Dustin Hoffman, Jim Carey,Kirk Douglas, Robin Williams, Steve McQueen, Sylvester Stallone, Will Smith, Leonardo da Vinci, Galileo, Albert Einstein en Benjamin Franklin in.

Die simptome van aandagafleibaarheid word gewoonlik deur middel van ‘n Connors vraelys beskryf en gepeil.  Die vorm lyk soos ‘n table en word gewoonlik in vyf dae opgedeel – met ‘n skaal van geensins, in ‘n mate, redelik baie en baie.  Van die aspekte uit so ‘n vraelys sluit die volgende in:

  • Vroetel gedurig
  • Neurie en maak ander geluide
  • Eise moet dadelik bevredig word, maklik gefrustreerd
  • Swak koördinasie
  • Rusteloos of ooraktief
  • Prikkelbaar, impulsief
  • Onoplettend, aandag maklik afleibaar
  • Onvermoë om take te voltooi, kort aandagspan
  • Oormatig sensitief
  • Oormatig ernstig of treurig (“sad“)
  • Dagdroom
  • Somber of nors
  • Huil maklik en dikwels
  • Steur ander leerders
  • Twissiek (stry graag)
  • Gemoedstemming verander vinnig en drasties
  • Tree gevat op (acts “smart”)
  • Vernielsugtig
  • Steel
  • Vertel leuens
  • Woedebuie, opvlieënd en onvoorspelbare gedrag
  • Sonder homself af van ander kinders
  • Kom voor asof hy nie deur die groep aanvaar word nie
  • Skyn maklik voorgegaan te word (easily led)
  • Geen sin vir regverdigheid
  • Toon geen leierskap
  • Kom nie oor die weg met die teenoorgestelde geslag nie
  • Kom nie oor die weg met eie geslag nie
  • Terg ander of meng in
  • Houding teenoor gesag:
  • Onderdanig
  • Uitdagend
  • Parmantig
  • Skaam
  • Beangs
  • Oordrewe eise vir onderwyser se aandag
  • Koppig
  • Oormatig gretig om tevrede te stel

noodconnors

As die antwoord op die meeste vrae in die redelik baie en baie afdeling val, dui dit gewoonlik op ‘n probleem.  Die pediater of opvoedkundige sielkundige sal kan sê of die kind se optrede en gedrag werklik ‘n probleem is wanneer die skale bestudeer word.

Indien jy vermoed dat ‘n kind aandagafleibaar is:

  • Verminder die suikerinname en moenie soetgoed inpak skooltoe nie (sugar rush!)
  • Verseker dat die outjie ‘n goeie roetine én slaaproetine volg
  • Struktuur en reëls is belangrik
  • Omega 3 olies word gewoonlik aanbeveel en kan in sommige supermarkte en apteke gekoop word.
  • Praat voortdurend met die opvoeder en vra dat ‘n Connors vraelys voltooi word.  Neem die vorm saam na die pediater toe.
  • As medikasie (skedule tablette) aanbeveel word – doen navorsing daaroor en vra soveel vrae as wat jy kan.  (Kinders kla soms gedurende die eerste week of wat van maag- of hoofpyn terwyl die liggaam aanpas.)  Sodra die aanpassingstydperk verby is kan ‘n opvolg Connors deur die opvoeder voltooi word.  Gewoonlik kan die verskil dadelik opgemerk word.  Indien nie – raadpleeg dadelik weer die pediater.
  • Soek gerus Dr. Christopher Green se boek UNDERSTANDING ADHD op.  Dit het oulike leesstukke in.
  • Volg ADDitude Magazine se nuusbriewe.  Dit is nogal interessant.  (Voorbeeld van raad vir die Klaskamer)

…in die klas…

Na aanleiding van vele navrae het ek die volgende vir die klas saam geflans…Wat werk in jou klas?

Probeer gerus die skakels oor spiertonus…In die klas is die spasie beperk en al sê dokters en sielkundiges dat hiperaktiewe outjies voor en in die middel van die klas moet sit, werk dit nie altyd nie.  Daarom kan ‘n mens probeer om die outjies teen die kant en langs ‘n stiller maatjie te laat sit, sodat die versoeking vir klets en die ontwrigting minder is.  Jy kan ook vir die outjie “vroetel-speelgoed” gee om hom besig te hou.  Gee byvoorbeeld stresballetjies of rubber pypies sodat die outjie nie met ‘n liniaal of potlood sal sit en tik nie.  Sommige juffrouens gee vir hierdie outjies ‘n groot plastiek bal (“gym” bal) of ‘n rubber kussinkie om op te sit.  Dit veroorsaak dat die outjie moet fokus op die balansering en dus nie tyd kry vir kriewel nie.  Hierdie gedeelte vloei nogal redelik sterk saam met die behandeling vir ‘n lae spiertonus
Soms stuur die juffrouens die outjies met boodskappe, om vir Juffrou water te gaan haal en om voorwerpe te dra.  Arbeidsterapeute kan gerus gekontak word oor die proprioseptoriese sisteme.  Dit het te make met die sensoriese* stimulasie en oor die uitwerking van drukking en sintuiglike stimulasies.  Soms is dit goed om vir ‘n woelige outjie te vra om die meubels reg te skuif of om die stofsuier nader te bring.  Die bietjie weerstand of drukking het ‘n positiewe uitwerking om die lyfie.
‘n Mens kan die hele klas laat opstaan en ‘n beweging laat doen. Jy kan selfs ‘n klokkie lui of ‘n geluid maak waarna die hele klas ‘n ritme klap of ‘n dans-aksie uitvoer – net om die kop weer gefokus en wakker te kry.  Braingym het oulike oefeninge om net weer die lyfies gereed te kry vir leer…
Dan kan jy ook versoek dat die hele klas suikervry bly deur die week en ‘n lekkertjie vir Vrydae toe laat.
Juffrouens en ouers:
Loer gerus ook by die webwerf, ADDstudent, in.  Die leuse is ADD + school = success…’n webwerf met ‘n positiewe ingesteldheid.

Dan is daar ook een vir mammas – ADDmoms – met idees oor alternatiewe hulp.

*Sensoriese Integrasie probleme kom moontlik voor as die outjie sensitief lyk vir sintuiglike ervaring soos aanraking, harde geluide, smake of teksture…Kontak ‘n SI gekwalifiseerde arbeidsterapeut indien so iets vermoed word.  

%d bloggers like this: