Dit is eintlik alreeds Herfs en ek het nog niks daaromtrent gesê nie. Dis seker omdat dit nog onlangs 40° C in my klas was! Kom ons dink aan ‘n paar gedagtes om die kleurvolle seisoen in te wy. (Dalk meer op Graad R en 1 gefokus.)
Uitstallings:
As juffrou moeite doen en die uitstalling aanloklik maak, sal die werk sommer ekstra lekker wees om te doen. Gebruik ‘n herfstafeldoek of gebruik groot velle bruinpapier – met herfskleur drukwerk daarop. Plaas houers met blare en sade in afsonderlike houers. Die outjies kan hieraan voel, ruik en skud. Dink net aan al die geluide wat sade en peule kan maak. Gebruik dié natuurlike musiekinstrumente sommer tydens sanglessies.
Collage:
‘n Collage word nie in een dag voltooi nie. Dit bou op. Elke takie wat jy elke dag doen, kan op die ou einde ‘n stukkie van die finale kunswerke wees. Jy kan ‘n klassikale werk maak of individuele prente.
- Berei ‘n groot vel papier voor (las dalk so twee A1-velle ongedrukte koerantpapier vir die klas of ‘n A3-vel vir ‘n individu) deur drie tot vier verskillende mengsels verf dikkerig aan te maak. Dit moet soos “tandepasta” wees en kan in kleure soos ‘n gelerige oranje, rooierige oranje en ‘n roesbruin gemeng word. Moet nooit die poeierverf net so uit die potjie gebruik nie – dis vervelig. Plaas ‘n paar sponsies (sommer dié in pillehouertjies en ou kombuissponsies) by elke kleur neer en laat die outjies die verf op die groot vel “spons”. Verduidelik vir hulle dat die sponsies nie moet drup van die verf nie en amper droog moet wees. Hou maar ‘n ogie oor die takie, want die kleur kan dalk op een kol gekonsentreer wees. Versprei die kleure in ‘n lekker bont “blare bed”.
- Maak ‘n krimpvarkie. Jy sal die sjablone moet verskaf of die buitelyne vooraf moet afrol. Verf die verskillende dele met vingerverf, plak bewegende ogies (soos die plastieksoort wat jy in materiaalwinkels se knope-afdeling kry. Onthou dat die buitelyne dik en donker moet wees om die knippery te vergemaklik. In Graad R kan jy dalk die “pelsies” uit watte laat maak en dit met voedselkleursel kleur. Groen en rooi kleursel behoort bruine te maak – voeg geel by en maak dit ligter met water. Die krimpvarkie sal later op die gesponsde agtergrond verskyn.
- Maak ook ‘n eekhoring. Koop A4-velle bruinpapier (die soort waarmee boeke oorgetrek word) en rol die sjabloon daarop af. Die kleingoed knip die eekhoring uit en rol verskillende skakerings bruin verf met ‘n droërige rollertjie daaroor. Hou stukkies bruin gekleurde pypskoonmakers byderhand vir snorbaarde, ‘n swart knopie of bewegende ogie en selfs regte akkers vir die afronding. ‘n Mens moet altyd aan iets dink wat diepte sal gee aan ‘n collage. Indien jy lus het, kan jy ou stukkies lap (monsters) by ‘n mat- of gordynwinkel vra en die lappies in klein blokkies opsny. Dit sal oulike teksture vir die lyfie gee…of ou snippers hare by ‘n haarsalon (siesa!). Wees kreatief en maak die aktiwiteit prettig..
- Plak nou die diere bo-op die agtergrond en gee ekstra stukkies akkerdoppe of boombas om om die voetjies te strooi. Indien jy lus het, kan julle stukkies gom of alkant-kleefkant sponsstrokies onder die diere plak vir ‘n 3D-effek. Stal die prente in die gang uit – op die kinders se ooghoogte.
- Maak eenvoudige sjablone van eikeblare uit x-strale of dik karton. Sny dit uit. Die kleingoed teken dit af met ‘n vetkryt of ‘n dik potlood. Onthou dat die vorm nie te vol detail moet wees vir die kleinste outjies nie. Elkeen kan oor die getekende lyn gaan met ‘n platpunt veselpen (swart koki). Kleur in met vet, Jumbo pastelle (druk hard…oranjes, rooie, bruine) en gebruik die helder blare in ‘n raam vir jou uitstalborde, vir die klas se deur, die vensterrame, ens.
- Maak herfsblaarbrille. Gee ‘n paar bril sjablone, laat dit aftrek op dik karton, knip uit en versier met herfsblare (wat van wingerdblare?). Julle kan ook die pastelblare hiervoor gebruik of die brilletjies in herfskleure spons. Knip die skrefies of kykgleuwe vir die kleingoed uit.
- Maak herfslanterns. Gebruik ou glasflesse (vra vir Puritybottels by dagmoeders) of goedkoop glase. Smeer styselpap of (my gunsteling) muurpapiergom aan beidekante van lekker bont herfsblare EN aan die binnekant van die skoon glas. Plak die blare aan die binnekant van glas en spasieer die blare sodat dit net een lagie maak. As dit relatief droog is, kan die outjies bo-oor verf met nog gom. Was maar die glas buite-om skoon met ‘n bietjie opwasmiddel en skryf die outjies se name onder-aan die klas. Nou kort hulle net ‘n teeligkersie en siedaar! ‘n Oulike geskenk vir Moedersdag.
- Maak ‘n groot boom. Teken die boom se buitelyne op koerantpapier of selfs ‘n oop gerolde vel bruinpapier. Teken duidelike graslyne. Hierdie is ‘n “ekstra tafel” aktiwiteit… Die outjies kry skakering van blou en witterige verwe om die lug mee te verf…of sê bv. dat elkeen 5 drukke met ‘n sponsie mag maak (tel word ook by gewerk). Die gras-deel kan weer met bruine en oranjes bedruk word of met gom en strooiwerk versier word. Gebruik sommer budjiesaad en droë blare vir die grond. Die boom kan met growwe bas en fyn gedukte (“crushed”) akkerdoppe bestrooi word. Sodra dit droog is, kan jy dit agter ‘n deur of op ‘n fokusarea in die gang opplak. Vir ouer leerders kan jy BITTER versigtig wys hoe om herfsblare met was te preserveer. Smelt kerse, knyp die blaarstingels in ‘n pennetjie was en doop dit in die was – 2 tot drie maal. Hang die blare op om droog te word (dit gebeur gou) en plak die blare op die boom. Die blare is veronderstel om die kleur te behou – met ‘n oulike glans. Dalk kan ‘n mens die draadwerkies vir tuisgemaakte oorbelle koop en sulke blare as oorbelle inspan (vir Moedersdag natuurlik).
- Doen “afvryf” werk. Gee vetkryte, houtskool en conté kryte (as julle het). Die kleingoed gaan soek dan oulike teksture, plaas die papier daarop en “vryf” met die lengte van die kryt daaroor. Growwe boombas en blare met prominente are sal goed werk. Laat hulle die bladsy lekker vol maak en gaan bo-oor met ‘n bietjie verdunde voedselkleursel. Eiergeel kleursel gee ‘n warm effek. Jy kan egter flou rooi en geel mengsels met ‘n spuitjie oor die “vryfwerk” spuit. Klad dit met sneesdoekies, handdoekrol of ou lappe. Wees versigtig, want ‘n nat bladsy kan frommel as jy hard vryf. Hierdie blaaie kan as voorblaaie, agtergronde, versierings, ens. ingespan word…of gebruik dit vir skeur-en-plak werk op ‘n volgende Collage.
- Drukwerk…dink aan verskillende kleure…teksture soos bas, sade, blare (dik are!) en selfs halwe appels. Gebruik dik verf (pastarig), kerswas (ouer kinders…smelt afval stukkies) wat met voedselkleursel gekleur is…kleursel in muurpapiergom gemeng – vir glans…wees kreatief.
- Vir Graad 1’s (en ander outjies wat dalk intervensie en ekstra oefening benodig) kan jy selfs letters / klankies met blare en sade laat bou…of strooi dit bo-oor gomletters…Laat die outjie spelwoorde met gom skryf en gee dan budjiesaad of krummelbare droë blare om te sprinkel. Lekker vaslegging en dit ontwikkel sommer die fynspiere ook!
Ander:
Mei 13, 2011 @ 13:59:57
My seun is in Graad 1 en hulle moet ‘n taak doen oor watse effek die herfs op die mens, diere dit tipes kossoorte ens.
Ek het nie ‘n idee oor waar en hoe ek moet begin nie.
Kan jy dalk help!!!!!!!!!!!!!
LikeLike
Mei 16, 2011 @ 18:25:25
Hallo, Christene 😉 Ek is nie seker of ek die opdrag reg lees nie. Die effek van herfs op die mens klink na ‘n sielkunde-opdrag. Ek vermoed dit het seker te doen met wat die mens en dier maak om aan te pas by die nuwe weersomstandighede soos om warmer aan te trek, sekere diere versamel kos voordat hulle hiberneer (eekhorings) en ander ooreet weer vir die hiberneringsperiode (bere). Kyk gerus na hierdie skakels vir ‘n paar idees.
http://www.sciencemadesimple.com/leaves.html
http://www.wxdude.com/autumn.html
http://www.ypte.org.uk/environmental/wildlife-in-winter-adaptations-for-survival/112
http://www.wildlifewatch.org.uk/Explore-wildlife/Season/Autumn
Ek hoop dat die inligting sal kan help 😉
LikeLike
Apr 10, 2012 @ 14:45:08
My kind in gr 2 moet ‘n plakkaat maak van herfs bo aan moet ‘n slagspreuk wees van hefs. Dan praat hul van blare val van bome blare verkleur koeler weer diere maak kos bymekaar help asb asb
LikeLike
Apr 12, 2012 @ 17:37:13
Middag, Michelle 😉 Loer gerus na die kunsvlyt idees hier bo om op die plakkaat te gebruik. Gebruik dalk herfskleure vir die plakkaat en skrif. In terme van die inligting kan julle dink aan wat ‘n mens tydens herfs aantrek (warmer/ekstra klere), dat dit vroeër donker word, dat blare van sekere bome afval, dat eekhorings akkers/kos opgaar vir die winter… 😉
LikeLike
Mei 20, 2013 @ 14:40:23
Goeie dag Juffrou
My seun is in graad 2 en moet n praaitjie doen oor die 4 seisoene. Die volgende riglyne moet in die praatjie wees:
Bespreek die 4 seisoene
Bespreek hoe die seisoene op mekaar volg
Ooreenkomste en verskille
Die invloed van die seisoene op die mens nl: Klere, voedsel, aktiwiteite en sport.
Kan jy asb help met raad. Het geen idee hoe om sulke bewoording aan mekaar te slaan nie.
LikeLike
Mei 20, 2013 @ 18:45:27
Middag, Joy 😉
Ek het stukkies oor die vier seisoene, maar nie ‘n praatjie as sulks nie. Dalk kan die lesidees (lente, winter en somer) vir julle idees gee. 😉
LikeLike
Apr 19, 2016 @ 07:40:39
Goeie more Juffrou ek wonder of jy my kan help. Met ideas vir 2tot4 jaar groete.
LikeLike
Apr 20, 2016 @ 02:24:32
Middag, Annatjie 😉
Ek is ongelukkig nie opgelei in die veld nie, maar het heelwat idees vir tema’s en lesse hier op my blog. Dit behoort vir die jonger outjies ook te werk. Tik gerus soekterme soos “herfs, winter, lente, somer, weer, beroepe, dokter, padveiligheid, vervoer, sokker, rugby, olimpiese spele, waterspel, visuele, ouditiewe, rympies, abc uitspraak, tuis idees, oefen tuis, oefen self, stories, liedjies, Bybel, handspier, knip, woordeskat, taal ontwikkeling, Engels, syfers, vorms, kleur, kleurwiel, ontwikkelingsmylpale, speel-speel, spiertonus, posisie, oogsorg, ogies, middellynkruising, water, grond, liggaam, skelet, gesonde mond, higiëne…” by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir idees (en drukbare bladsye).
Ek hoop dit kan help 😉
LikeLike
Apr 22, 2019 @ 13:23:33
goeie middag my seuntjie graad 4 praaitjie doen oor eninge seisoen help asb
LikeLike
Apr 22, 2019 @ 18:20:05
Hallo, Cathy 😉
Ek het hier verskillende (moontlike) idees oor mondelinge beskikbaar. Loer gerus na die riglyne.
LikeLike
Mei 09, 2023 @ 15:37:04
Goeie midag juffrou, my seun gr 2. Moet n 2 minute mondeling praaitjie uitvoer wat hy die week moet doen en ek het geen idee hoe om te begin nie of wat om alles in te sit nie
LikeLike
Mei 09, 2023 @ 19:51:42
Hallo, Chanel 🙂
Gesels oor die onderwerp en wat julle daarvan weet. Kan jy die sintuie betrek? Bv. die reuk van herfsblare op klam grond, die kleure van die verskillende blare, die geritsel van droë blare…Wat is positief of negatief omtrent die onderwerp?
Dit behoort genoeg idees bymekaar te maak om 2 minute vol te maak. Julle kan dan prente soek of teken wat die vertelling illustreer.
Loer gerus hier na idees in verband met maniere om die mondeling aan te bied:
Ek hoop dit kan help.
LikeLike