Dit is Biblioteekweek vanaf 15 tot 19 Maart. Wat kan jy doen om hierdie week te vier?
- Indien jou skool ‘n biblioteek het, kan jy individuele foto’s van die kleingoed (veral Graad R of 1) neem. Die gedagte is dat jy die foto in of voor die biblioteek neem – met ‘n boek of lidmaatskapkaartjie in die hand.
- Druk dit dan op ‘n A4-vel uit (“print” in die middel) en help die outjies om ‘n raam rondom te teken met helder uitdraaikryte of pastelle. Maak letterpatrone, skryf woorde of ‘n slagspreuk (bv. “Ek kan lees.” “Lesers is oulik.”) in die raam. Verf ‘n verdunde voedselkleursel lagie bo-oor en siedaar! Nou kan jy ‘n uitstalling in die gang maak om te wys hoe oulik jou lesertjies is. Blok dit op ‘n aansteekbord of maak ‘n lang lyn (op die outjies se ooghoogte), sodat die ander maats die slim lesers kan raak sien.
- Reël ‘n ouer, ‘n ouma of iemand uit die gemeenskap om oulike kinderboeke vir die kleingoed te kom lees. Die persoon moet darem so ‘n bietjie met gevoel kan lees en weet hoe om met kleingoed te kommunikeer. Wat van ‘n Graad R-juffrou? Die kinders sal dit geniet om hul ou juffrou weer te sien en om met hul uniforms te spog. Dalk kan een van die groter grade se juffrouens kom inloer of selfs die skoolhoof.
- Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n spreker reël. Dalk is daar ‘n kinderboekskrywer of –illustreerder in jou omgewing. Lees van die persoon se boeke en doen ‘n bietjie navorsing. Stel ‘n paar vrae op wat die kinders tydens ‘n onderhoud of vraag-antwoord sessie moet beantwoord.
- Maak julle eie boeke en plaas dit in die klas se leeshoekie / bibliotekie – vir die hele klas se leesgenot. (Bv. My boekie oor vorms. My boekie oor sjokolade. My boekie oor die skoolhoof. Juffrou se boekie oor dinge waarvan sy hou.) Kry dan ‘n ander opvoeder om die boekies te lees. Dit behoort ‘n aardigheid te wees vir die kleingoed 😉
- Ouer grade kan vir die kleintjies gaan lees of tydens ‘n leesles vir die kleingoed help met hulle leeswerk…
- Wat van ‘n biblioteek “make over”? Die moontlikhede is legio.
Woorde