Die nuwe skooljaar begin eersdaags. Hiermee dan ‘n paar idees:
- Bring jou basiese opskrifte en muurprente aan voor die kinders kom en beplan jou riglyne, klasreëls, werkies, ens. sodat jy dit stuk-stuk kan bekend stel.
- Hoe gaan jy jouself bekend stel? Het jy ysbrekers in gedagte?
- Hang Welkom-boodskappe teen die klasdeur en voor teen die skryfbord. Ouers kan die areas dan as vinnige fotohoekies inspan.
- Hou ‘n stapel storieboekie oor skool gereed – genoeg vir elke kind se sitplek of hou hulle gereed vir storietyd.
- Hou gordyne, kussings, ens. eenvoudig totdat jy op ‘n tema of kleurskema besluit het.
- Kry jou kalender en weerkaart op die eerste dag gereed en stel dit bekend. Hang gelamineerde vlaggies onderaan die kennisgewingsborde – al om die rand van die klas. Skryf dan elke dag ‘n syfer op ‘n vlaggie om die skooldae aan te dui. Maak dit die getal van die dag om tydens wiskunde lesse te bespreek en te beloer.
- Kies ballonne om by jou skool of klas se kleure te pas. Laat die outjies dit op blaas, spuit haarsproei liggies van ‘n afstand oor die koepeldeel en doop in blinkertjies. Ryg ‘n tou deur ‘n klein rekkie (loom bands) en glip die rekkie oor die ballon se knoop. Wie hou nou nie van ‘n ballon nie!
- Indien die skool ‘n papierversnipperaar het wat papier in kleinerige stukkies sny, kan ‘n mens verskeie kleure geskenkpapier (die snesieblaaie of papiervelle) versnipper. ‘n Mens kan natuurlik ook ‘n gaatjiepons gebruik. Verf groot syfers, letters of boodskappe met wit gom en strooi die snippertjies bo-oor.
- Neem elkeen se lengte (plak ‘n maatband teen die muur in jonger klasse) en skryf dit neer. Meet die lengtes met ‘n tou of mooi lint en merk dit. Rangskik dit teen die muur en doen dieselfde aan die einde van die jaar (vergelyk). Aan die einde van die jaar, kan dit saam met ‘n geskenkie en ‘n briefie (Kyk hoe lank was ek op my eerste dag in Graad …) huis toe gaan.
- Kerf die syfers 2, 0, 1 en 9 uit ‘n halwe aartappel om ‘n stempel te maak. Laat die outjies die jaartal as patroonwerk op ‘n groot vel papier druk (pastadikte verf werk goed). Gebruik die velle om boeke oor te trek.
- Neem ‘n digitale foto van elke kind (kry ‘n prefek of assistent om te help) – om op die verjaarsdagmuur te gebruik.
- Druk elke kind se foto op A4-grootte uit (swart en wit) en gebruik as boek voorblaaie. Laat die outjies dit met uitraaikryt inkleur en verf met verdunde voedselkleursel. Hulle sal beslis die boeke kan eien.
- As jy elektroniese kommunikasiemiddels (soos SeeSaw) gebruik, kan jy die leerders se profiele voor die tyd laai en die fotos vinnig op die eerste dag byvoeg.
- Gee reghoekige naamkaarte of plakkers en alfabet stempels sodat die outjies hul name self kan aanbring. As die stempels skaars is, kan ‘n mens die name in dik letters verskaf sodat die outjies dit onder ‘n bestaande bladsy kan hou en natrek. Oefen dalk eers ‘n paar maal en gebruik die plakkers dan op hul rakke, tafelblad, ens. As jy lus het, kan ‘n mens die outjies se handskrif skandeer en saam met die foto’s op plakkers druk.
Mag dit ‘n baie voorspoedige jaar wees!
Jan 02, 2019 @ 11:12:40
Hierdie is blink idees! Ek as mamma kan self nou die laaste paar dae voor die skool begin dit met my kinders doen.
LikeLike
Jan 02, 2019 @ 15:03:40
Wonderlik, Sonell! 🙂 Geniet die laaste paar vakansie dae 😉
LikeLiked by 1 person