Vind hiermee ‘n paar goedjies waarmee jy jou klas kan optof. Vir werk en ander hulpmiddels, kan jy soekterme soos “klanke, lees, hersien, verwarring, flitskaart, sigwoord, lees, leesreeks, leeslys, stories, liedjies, rympies, wiskunde huiswerk, woordsom, meer en minder, voor en na, breuke…hulpmiddels, beplan…” by die soekblokkie aan die regterkant in tik. Loer ook na die “Drukbare Bladsye”- en “Produkte“-hofies.
Klaskamer Dekor: Temas: ‘n Verjaarsdagkalender, Vlaggies, Kalenderwoorde (dae, maande en 31 syfers) in flitskaartvorm…soms ‘n bietjie meer 😉
Bene: Druk die bene uit en skryf sigwoorde of klanke daarop. Gebruik dit as flitskaarte of vir speletjies soos ‘n geheuespel of “snap”. Jy kan selfs somme daarop skryf en die antwoorde agterop skryf, sodat die kleingoed hulself kan toets.
Bak-en-brou: Maak heilsame hondebeskuitjies vir die DBV.
Maak ‘n katkaartjie. Dit hoef nie op swart papier gedoen te word nie. Gebruik ‘n papboks en pastelle of vetkryt met voedselkleursel (eiergeel werk goed).
Deurkaartjie: Maak ‘n papierkat om aan die deur se handvatsel te hang of versier ‘n houertjie vir katkos.
Sny katstensils uit, trek dit af op ‘n ou x-straalplaat, knip uit en gebruik vir
spuitverfwerk,
spat verf met ‘n tandeborsel daaroor,
doen patroonwerk op ‘n vel papier (in helder kleure) en plak ‘n kat uit swart of bruin papier daarop.
Sny die buitelyne van ‘n vis op karton (of ‘n x-straalplaat stensil) uit. Maak twee identiese visse. Pons dan gate rondom die buiterand en ryg wol of tou daardeur. Teken patrone met vet- of uitdraaikryte op die visse (soos skubbe) en verf met voedselkleursel. Gebruik sommer verskillende blerste kleursel. Sodra die vis droog is kan jy dit met ou koerant of watte op stop. Hang dit naby ‘n venster sodat die vissie in die lug kan swem. Maak ‘n hele akwarium van die plafon.
Knip ook ‘n paar vissies uit en hang hulle aan ‘n vislyn op (in ‘n ry). Skryf dan sommer getalle, veelvoude, ens. daarop sodat die outjies die huidige relevante werk kan oefen.
Voëls:
Maak ‘n houer vir ‘n saadbederfie. Afhangende van die ouderdomsgroep, kan dit met skeur-en-plak werk of gom en blinkertjies versier word.
Sny voëls uit eenkleurige of “scrap book” papier en hang aan droë, skoon takkies.
Gebruik vilt of velt om kleurvolle voëltjies te maak. Gebruik dit later op die voorkante van Moedersdagkaartjies.
Hou ‘n troeteldierdag: Elkeen kan ‘n troeteldier – indien moontlik – of ‘n foto van ‘n troeteldier bring. Laat die outjies dan dinge oor die diere vertel (mondeling / “show and tell”).
Gebruik gesigverf en maak die gesigte soos honde, katte, ens. op. Dit behoort ‘n groot lekkerte te wees tydens fantasiespel (kleintjies).
Besoek ‘n troeteldierwinkel. Gaan vooraf na die winkel toe en kyk na die verskeidenheid diere sodat jy takies en vragies daaroor kan opstel. (Bv. Watter diere word in die winkel verkoop? Teken jou gunstelingvis…)
Maak rye voëls, katte en honde onderskeidelik. Vra dan vragies soos Hoeveel bene het 2 voëls? Hoeveel katte het ‘n bont pels? Hoeveel katte kyk na links? Hoeveel honde kyk na regs? Hoeveel honde staan? lê? Hoeveel ore het vier honde? Hoeveel diere is hier altesaam?
Betrek die gepaste woordeskat vir die onderskeie diere: kieue, vinne, werpsel, snor, blaf, miaau, spin, grom, poot…Wat beteken troeteldier? (Gebruik ‘n eenvoudige, groot skets ter toeligting – soos ‘n wetenskapprent.)
Kyk na die tuistes, gewoontes en versorging van die diere. Bv. die voël woon in ‘n hok of ‘n kou, die hond in ‘n hok en die vis in ‘n visbak of akwarium. Waar beweeg die diere? (land, lug, water) Hoe beweeg die diere? (swem, kruip, loop, hardloop, bekruip, vlieg, fladder…) Hoe eet die diere? (pik, sluk, skeur, byt, kou)
Onthou altyd om lekker kleurryke muur- of tema-plakate te maak en om konkrete items uit te stal. Die plakate kan op A4-karton gemaak word om later in jou lêer te pas. Gebruik die diere waaroor julle gaan praat en stal van elkeen se items (gegroepeer) uit.
Woorde