Dis een van die dae Onbaatsugtigheidsdag – ‘n dag waarop ‘n mens ekstra deernis teenoor jou medemens kan toon sonder om ‘n teenreaksie te verwag.

‘n Mens sal vanjaar baie vindingryk moet wees, maar dink aan maniere om jou medemens te help sonder om die insluitings- of grendeltydreëls te oortree.

Skakel gerus organisasies of instansies wat dalk van behoeftes in jou area sal weet en hoor wat die riglyne tans is. Is daar mense wat eensaam is en ‘n oproep sal waardeer? Maak kontak met kennis en hoor hoe dit gaan.

Elders versier mense die vensters wat aan die straat grens ter ondersteuning en bemoediging van noodpersoneel en ander. Probeer gerus ‘n paar van hierdie idees:

  1. Plak maskeerband om verskillende geometriese blokke te maak en verf die blokke met ‘n mengsel wasbare akrielverf en skottelgoedwasmiddel. Wissel die kleure af en verwyder die maskeerband sodra die verf droog is. ‘n Mens kan natuurlik ander boodskappe en prente ook verf.
  2. Teken kleurvolle prente met bordkryt op sementtrappe of die inrit.
  3. Sny kleurvolle harte uit en rangskik dit in die venster – in ‘n raampie of in ‘n boog.
  4. Verf ou koerantvelle – elkeen in ‘n aparte helder kleur. Sny elke vel in eenderse stroke op en maak papierkettings om in julle ruit te hang.
  5. Versier die motordeur indien dit binne die grenslyne van die erf is.

Loer gerus na moontlikhede wat aanlyn beskikbaar is of wat ‘n mens tydens die grendeltydperk kan begin om na die tyd te volbring.

Alle voorspoed!