Tuis

Onbaatsugtigheid / Pay it Forward

Lewer kommentaar


Dis een van die dae Onbaatsugtigheidsdag of Pay it Forward Day. Gebruik die 28ste om navorsing oor omgeeprojekte te doen of om idees in te samel wat haalbaar en uitvoerbaar kan wees.

Medemenslikheidsdag

Lewer kommentaar


Op die 17de Februarie word ons daaraan herinner om gaaf en behulpsaam te wees sonder om iets terug te verwag.

Gaan stap as ‘n groep deur die naaste veld of park om vullis op te tel. Hoeveel swartsakke kan julle vol maak?

Besoek ‘n aftree-oord en sing liedjies op die sypaadjie.

Bied aan om met die bure se honde te stap.

As jou groentetuin of vrugtebome welig dra, deel gerus jou oes met ander.

Plant blomme en kruie wat jy ook met ander kan deel.

Skakel vriende of familielede met wie jy lanklaas gesels het.

Begin ‘n mini-biblioteek in ‘n koshuis of tehuis. Neem ‘n boek en los ‘n boek.

Help ‘n maat om nuwe konsepte baas te raak (bv. om veters vas te maak, skoolwerk te bemeester…).

Plaas ‘n skoenpoetsmandjie in die klas.

Help kinders om hul besittings te merk.

Is daar omgee aksies in jul skool of gemeenskap waaraan ‘n mens meer gereeld aandag kan skenk? Loer gerus en kies ‘n paar om hierdie jaar te ondersteun.

Onbaatsugtigheid

Lewer kommentaar


Dit is byna Pay-it-Forward Dag of ‘n Dag ter bewusmaking van Onbaatsugtigheid.  In die skool, kan ‘n mens outjies aan goeie gewoontes herinner om mense by die skoolgemeenskap te betrek en om gaaf te wees.

  • Hou die deur oop vir die persoon agter jou of vir iemand wat swaar dra.
  • Bied aan om iemand te help wat baie goed het om te dra.
  • Help ‘n maat, ‘n opvoeder, iemand in die kantoor, terreinpersoneel, ens.
  • Stel Post-It boekies beskikbaar, sodat kinders goeie (anonieme) boodskappe aan mekaar kan skryf.  Bv. Jy is ‘n goeie maatDankie dat jy jou maats aanmoedig.
  • Bak koekies vir die klas of bring springmielies (*maak aanpassings indien daar iemand met ‘n allergie is) om die groep te verras.
  • Maak beurte om met outjies te gesels wat alleen speel of eensaam lyk.
  • Neem toerustig (soos springtoue of balle uit) sodat ouer kinders die kleintjies kan touwys maak.
  • Het iets geval? Tel dit op – al is dit nie joune nie.
  • Het jy iets op getel wat nie aan jou behoort nie?  Neem dit kantoor toe of probeer om die eienaar op te spoor en gee dit terug.
  • Is daar bure wat dalk ekstra hulp benodig?  Trek byvoorbeeld die onkruid uit, sleep die vullisdrom terug of bied aan om met die hond te speel.
  • Sien jy iemand wat alleen skool toe stap?  Bied aan om saam te stap.

Dink aan klein dingetjies wat ‘n mens kan doen om iemand se dag ‘n klein bietjie beter te maak.  ‘n Glimlag of ‘n klein gebaar kan wondere verrig.

100

2 Kommentaar


Mnr. Nelson Mandela sou vanjaar 100 jaar oud geword het.  Ons spandeer jaarliks 67 minute aan gemeenskapsdiens op sy verjaarsdag – 18 Julie.  Vanjaar kan ons dit sommer ‘n ronde 100 minute maak!

Hoe lyk ‘n 100?  Dis ‘n groot getal.  Vir die jonger outjies kan ‘n mens byvoorbeeld…

  1. ‘n 100 botteldoppies of -proppies in ‘n lang ry uitpak en hulle vra om die getalle daarop te skryf.  Maak ‘n ellelange slootjiekaart waarin julle die doppies kan pak en steek dit teen ‘n kennisgewingsbord vas vir herhaaldelike gebruik.  Kan julle patrone pak of dalk elke 10 in ‘n spesifieke kleurgroep rangskik?
  2. ‘n 100 wasgoedpennetjies gee om aan ‘n lang lint te knyp.
  3. ‘n 100 genommerde roomysstokkies gee om te orden.
  4. ‘n 100 skuifspelde gee om ‘n ketting te maak.
  5. ‘n bak vol ringvormige pap gee (bv. Fruit Loops) om in tiene te groepeer.  Verskaf ‘n toutjie en laat hulle die pap ryg om ‘n halsnoer te maak.  Eet dit later droog of met ‘n bietjie melk.
  6. ‘n houer met honderde krale sodat die outjies kan oefen om ‘n 100 krale te ryg.
  7. ‘n enorme skaap op ‘n A3-vel teken sodat die outjies ‘n 100 wattepluisies kan plak.  Werk in groepe om ‘n bietjie te bespaar.
  8. 100 saadjies in ‘n tuintjie saai.
  9. 100 pakkies groente en kruie saad verpak en aan die gemeenskap uitdeel.  Skryf ‘n mooi boodskappie daarby of dui aan wat in jou pakkie is.
  10. deur die buurt stap en opgewekte liedjies sing.
  11. ‘n enorme 100 op ‘n groot vel papier of plastiek doek trek (groot genoeg om die klasdeur te vul.  Sny die syfers uit en klim heeldag deur die getal om in en uit te gaan.  ‘n Plastiekerige doek sal dalk langer hou.
  12. ‘n strook karton met die syfer daarop gee.  Knip die binnekante van die nulle uit en maak ‘n bril deur ‘n stuk broekrek agterom die kop te meet en aan die karton vas te kram.
  13. drukwerk op t-hempies laat doen.  Plaas ‘n stuk plastiek binne-in ‘n hempie en gee ‘n bakkie met lapverf daarin. Druk 10 rytjies van 10 duimafdrukke, stempeltjies of selfs kurkproppies.  Gebruik ‘n spesiale lapveselpen en omskep die propkolle later in ogies of gesiggies.
  14. drukwerk op ‘n groot A3-vel laat doen.  Gee byvoorbeeld skakerings van helderrooi en donker rooi verf om lieweheersbesies te maak sodra die verf droog is.  Gebruik skakerings van bruin om later gesiggies te maak.  ‘n Mens kan ook slakkies maak of kolle teen mekaar druk om ‘n wurm te vorm.  Wat van geel kolle wat later bytjie sal word?  Lamineer die velle en stuur dit huis toe as plek- of skinkbordmatjies.
  15. ‘n uitdagingsperiode instel.  Kyk of julle 100 flitskaarte (bv. sigwoorde) kan lees.  Kan julle gesamentlik 100 storieboekies lees?  Probeer om 100 somme te doen 🙂
  16. 10 keer gedurende die dag stop om gesamentlik 10 sterspronge te doen, 10 treë te marsjeer of die hande te klap.
  17. spelenderwys hulself met ‘n toep soos AgingBooth verouder tot 100 jaar.  Stuur die foto’s per e-pos of met ‘n toep soos SeeSaw aan die ouers.
  18. vra dat elkeen 100 sent bring as ‘n donasie aan ‘n omgee-projek in julle stad of dorp.  ‘n Mens kan selfs mik om as ‘n klas R100 in te samel.
  19. ‘n groot 100-blok elk gee sodat hulle oor ‘n tydperk klein muntstukke (snoepie kleingeld) in die onderskeie blokkies kan plak.  Is daar ‘n nood in jul skool of klas?  Het iemand skoene, skryfbehoeftes, ‘n trui, ens. nodig?  Kyk hoe dié bietjies iemand kan help. [100 Madiba Spaar A3]
  20. vra dat elkeen ‘n donasie vir ‘n dierebeskermingsgroep bring.  Dink aan maniere om 100 vol te maak – 100g kos elk, ‘n 100kg kos altesaam, ens.
  21. vra dat elkeen broodsakkiekaartjies (ten bate van rolstoele) bring.  Mik vir ‘n 100 kaartjies as ‘n skool of ‘n klas.
  22. plastiekherwinningskissies installeer.  Vul plastiekbottels met plastiek om bakstene te maak en skenk dit.
  23. vra dat elkeen ‘n item met ‘n gewig of inhoud van 100 sal bring ten bate van ‘n welsynsorganisasie (bv. 100ml, 100g).
  24. woorde van hoop en gelukwensing op die bord skryf sodat hulle dit rond en bont op ‘n groot vel papier kan oorskryf.  Sodra hulle tevrede is, kan hulle dit met swart veselpen natrek.  Verklein dit in die vorm van kaartjies (op verskeie kleure karton) en gee dit in mini-pakkies van 5 aan die ouers om te gebruik.
  25. vra om hul name 100 keer op ‘n A4-vel neer te skryf.  Gebruik dit aan die einde van die jaar om ‘n klein onthou-geskenkie in toe te draai.
  26. ‘n honderdblok gee, sodat hulle die syfers kan natrek.
  27. ‘n honderdblok gee, sodat hulle die afsonderlike blokkies kan inkleur met verskillende kleure.
  28. ‘n meterstok gee om die millimeters te tel.
  29. in die sportstoor loer vir meetinstrumente om die rugbyveld te meet.  Hoe ver is dit van een doelpaal na die volgende?
  30. wys hoe lyk 100ml.  Kan julle 100 liter water insamel vir areas in nood?
  31. ‘n 100 keer met ‘n gatjiepons pons om konfetti vir die klas te maak.
  32. ‘n boekmerk gee om 100 snitte al om die rand te maak.
  33. help om papierlinte (streamers) in stroke van 100cm te meet en te sny.  Hang dit in ‘n kleurvolle mengelmoes aan die bokant van die deurkosyn.
  34. help om mini-kolwyntjies te bak.  Pak ‘n wafer en twee kolwyntjies op die bordjie om 100 te bou en sprinkel “hundreds and thousands” bo-oor die kolwyntjies se versiersel.
  35. 2 ronde koekies en ‘n wafer gee om 100 te bou.
  36. ‘n digitale kamera of ou selfone (met kamera’s) gee om ‘n 100 goue oomblikke af te neem.  Plaas dit op die klasblad of SeeSaw.

Madiba 100

Wat doen julle vanjaar?

Onbaatsugtigheid/Pay it Forward

1 Kommentaar


28 April is Pay it Forward Dag en is geskoei op die fliek met die gelyksoortige naam.  Die gedagte is om ‘n onbaatsugtige taak te verrig en te vra dat ander dit ook probeer om die beweging “aansteeklik” te maak.

Is daar iets wat julle as ‘n klas kan doen?  Kan julle iemand in die skoolgemeenskap help?  Loer gerus hier na vorige inskrywings en idees.

medemenslikheidsdag

Lewer kommentaar


Medemenslikheidsdag of Random Act of Kindness Day vind op 17 Februarie plaas.  Die gedagte is om medemenslikheid te betoon sonder om iets terug te verwag…Wat kan ‘n mens op skoolvlak doen – nie net eenmalig nie, maar meer gereeld?

  1. Vee die klas uit sodat die werkers dit nie hoef te doen nie.
  2. Stofsuig die klas se mat.
  3. Vee die toonbanke af of was die skottelgoed in die personeelkamer.
  4. Tel die stoele op die tafels om die skoonmakery te vergemaklik.
  5. Gee meer komplimente.
  6. Groet meer kinders en grootmense.
  7. Hou ‘n deur vir iemand oop.
  8. Bied ‘n sitplek aan.
  9. Nooi iemand om saam te speel.
  10. Knoop ‘n onverwagse geselsie met ‘n klasmaat aan.
  11. Verras ‘n maat met ‘n ekstra broodjie.
  12. Bring ‘n skoenborsel indien die klasmaats sukkel om skoene te poets.
  13. Maak ‘n punt daarvan om herwinning by die skool aan te moedig.  Maak byvoorbeeld sitplekmatjies of slaapmatte van plastiek en verras iemand of ‘n organisasie daarmee.
  14. Het julle ou speelgoed om te deel?
  15. Voor julle ou skryfbehoeftes weggooi, plaas dit dalk in ‘n “deelbakkie” sodat maats wat iets kort daaruit kan kies.
  16. Help Mamma of Pappa in die huis.  Wie weet hoe om ‘n bed reg te skud of skoon wasgoed op te vou?

Is daar iemand in die skool wat in nood is?  Is daar iemand in die gemeenskap?  Hoe kan julle help?

behulpsaamheid, onbaatsugtigheid…

2 Kommentaar


pif2

Pay-it-Forward Dag fokus op medemenslikheid, behulpsaamheid, waardering en onbaatsugtigheid.  Wat kan jy in jou alledaagse omgang met mense doen om hierdie eienskappe uit te leef?

  1. Lees vir ‘n maat of lees boeke vir die inwoners van plaaslike tehuise.
  2. Loop om die blok om rommel op te tel (in groepe).
  3. Help plaaslike organisasies, bv.
    • die dierebeskermingsvereniging (speel met die diere, versorg…)
    • tehuise vir bejaardes
  4. Hou die deur oop vir ‘n maat of kuiergas en groet vriendelik.
  5. Help iemand wat swaar dra.
  6. Gooi ietsie ekstra in kollekte blikkies.
  7. Help die werkers by die skool.
  8. Maak ‘n koppie tee, koffie of ystee op ‘n onverwagse tyd vir die personeel.  Wat van ‘n koekie of ‘n stukkie beskuit daarby?
  9. Sê vir mense (groot en klein) wat jy van hulle waardeer.  Dit beteken baie.
  10. Knap die speeltoerusting/-park buite op.
  11. Nooi beskikbare ouers en grootouers om by die skool te kom help (met bv. leesgroepies, wiskunde, breilesse, vaardigheidslessies, ens.).

Dink gerus aan nog ‘n paar idees 😉

Medemenslikheid en Internasionale Dag van Geluk

4 Kommentaar


 

Vandag is Random Acts of Kindness Day en 20 Maart is die Internasionale Dag van Geluk.  Ek sou dit egter nie tot een dag wou beperk nie…Hoe kan ons in het kleine iemand anders se dag opkikker?

  • Gooi ‘n ekstra munt in iemand anders se parkeermeter.
  • Het jy afslagkoepons iewers gekry?  Plaas dit hier en daar op die winkelrakke vir ander om te kry.
  • Laai ‘n ekstra pakkie koekies in die winkelmandjie vir die werkers by die skool of by die huis.
  • Werk saam aan ‘n maaltyd (soos lasagna) en lewer dit by iemand af wat dit nooit sal verwag nie.
  • Nie ‘n goeie kok nie?  Steek ‘n blom in ‘n ou speserybottel en plaas dit op ‘n buurvrou se stoep of ‘n juffrou se tafel.
  • Gooi die week se snoepiekleingeld in ‘n spaarbussie tot ‘n week voor die dag van jou/jul keuse.  Tel dit en besluit op ‘n skenking – hetsy kontant of byvoorbeeld kos aan iemand of ‘n instansie.
  • Is geld ‘n bietjie min?  Verskaf jou dienste gratis – om byvoorbeeld ‘n buurman te help.  By die skool, kan die klas die gang namens die opsigter vee of die dromme leegmaak.
  • Skenk klere.
  • Skenk orige verf om die klimrame te verf.
Tik gerus ook soekterme soos “hulp, pay it forward, omgee” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.

%d bloggers like this: