Mnr. Nelson Mandela sou vanjaar 100 jaar oud geword het. Ons spandeer jaarliks 67 minute aan gemeenskapsdiens op sy verjaarsdag – 18 Julie. Vanjaar kan ons dit sommer ‘n ronde 100 minute maak!
Hoe lyk ‘n 100? Dis ‘n groot getal. Vir die jonger outjies kan ‘n mens byvoorbeeld…
- ‘n 100 botteldoppies of -proppies in ‘n lang ry uitpak en hulle vra om die getalle daarop te skryf. Maak ‘n ellelange slootjiekaart waarin julle die doppies kan pak en steek dit teen ‘n kennisgewingsbord vas vir herhaaldelike gebruik. Kan julle patrone pak of dalk elke 10 in ‘n spesifieke kleurgroep rangskik?
- ‘n 100 wasgoedpennetjies gee om aan ‘n lang lint te knyp.
- ‘n 100 genommerde roomysstokkies gee om te orden.
- ‘n 100 skuifspelde gee om ‘n ketting te maak.
- ‘n bak vol ringvormige pap gee (bv. Fruit Loops) om in tiene te groepeer. Verskaf ‘n toutjie en laat hulle die pap ryg om ‘n halsnoer te maak. Eet dit later droog of met ‘n bietjie melk.
- ‘n houer met honderde krale sodat die outjies kan oefen om ‘n 100 krale te ryg.
- ‘n enorme skaap op ‘n A3-vel teken sodat die outjies ‘n 100 wattepluisies kan plak. Werk in groepe om ‘n bietjie te bespaar.
- 100 saadjies in ‘n tuintjie saai.
- 100 pakkies groente en kruie saad verpak en aan die gemeenskap uitdeel. Skryf ‘n mooi boodskappie daarby of dui aan wat in jou pakkie is.
- deur die buurt stap en opgewekte liedjies sing.
- ‘n enorme 100 op ‘n groot vel papier of plastiek doek trek (groot genoeg om die klasdeur te vul. Sny die syfers uit en klim heeldag deur die getal om in en uit te gaan. ‘n Plastiekerige doek sal dalk langer hou.
- ‘n strook karton met die syfer daarop gee. Knip die binnekante van die nulle uit en maak ‘n bril deur ‘n stuk broekrek agterom die kop te meet en aan die karton vas te kram.
- drukwerk op t-hempies laat doen. Plaas ‘n stuk plastiek binne-in ‘n hempie en gee ‘n bakkie met lapverf daarin. Druk 10 rytjies van 10 duimafdrukke, stempeltjies of selfs kurkproppies. Gebruik ‘n spesiale lapveselpen en omskep die propkolle later in ogies of gesiggies.
- drukwerk op ‘n groot A3-vel laat doen. Gee byvoorbeeld skakerings van helderrooi en donker rooi verf om lieweheersbesies te maak sodra die verf droog is. Gebruik skakerings van bruin om later gesiggies te maak. ‘n Mens kan ook slakkies maak of kolle teen mekaar druk om ‘n wurm te vorm. Wat van geel kolle wat later bytjie sal word? Lamineer die velle en stuur dit huis toe as plek- of skinkbordmatjies.
- ‘n uitdagingsperiode instel. Kyk of julle 100 flitskaarte (bv. sigwoorde) kan lees. Kan julle gesamentlik 100 storieboekies lees? Probeer om 100 somme te doen 🙂
- 10 keer gedurende die dag stop om gesamentlik 10 sterspronge te doen, 10 treë te marsjeer of die hande te klap.
- spelenderwys hulself met ‘n toep soos AgingBooth verouder tot 100 jaar. Stuur die foto’s per e-pos of met ‘n toep soos SeeSaw aan die ouers.
- vra dat elkeen 100 sent bring as ‘n donasie aan ‘n omgee-projek in julle stad of dorp. ‘n Mens kan selfs mik om as ‘n klas R100 in te samel.
- ‘n groot 100-blok elk gee sodat hulle oor ‘n tydperk klein muntstukke (snoepie kleingeld) in die onderskeie blokkies kan plak. Is daar ‘n nood in jul skool of klas? Het iemand skoene, skryfbehoeftes, ‘n trui, ens. nodig? Kyk hoe dié bietjies iemand kan help. [100 Madiba Spaar A3]
- vra dat elkeen ‘n donasie vir ‘n dierebeskermingsgroep bring. Dink aan maniere om 100 vol te maak – 100g kos elk, ‘n 100kg kos altesaam, ens.
- vra dat elkeen broodsakkiekaartjies (ten bate van rolstoele) bring. Mik vir ‘n 100 kaartjies as ‘n skool of ‘n klas.
- plastiekherwinningskissies installeer. Vul plastiekbottels met plastiek om bakstene te maak en skenk dit.
- vra dat elkeen ‘n item met ‘n gewig of inhoud van 100 sal bring ten bate van ‘n welsynsorganisasie (bv. 100ml, 100g).
- woorde van hoop en gelukwensing op die bord skryf sodat hulle dit rond en bont op ‘n groot vel papier kan oorskryf. Sodra hulle tevrede is, kan hulle dit met swart veselpen natrek. Verklein dit in die vorm van kaartjies (op verskeie kleure karton) en gee dit in mini-pakkies van 5 aan die ouers om te gebruik.
- vra om hul name 100 keer op ‘n A4-vel neer te skryf. Gebruik dit aan die einde van die jaar om ‘n klein onthou-geskenkie in toe te draai.
- ‘n honderdblok gee, sodat hulle die syfers kan natrek.
- ‘n honderdblok gee, sodat hulle die afsonderlike blokkies kan inkleur met verskillende kleure.
- ‘n meterstok gee om die millimeters te tel.
- in die sportstoor loer vir meetinstrumente om die rugbyveld te meet. Hoe ver is dit van een doelpaal na die volgende?
- wys hoe lyk 100ml. Kan julle 100 liter water insamel vir areas in nood?
- ‘n 100 keer met ‘n gatjiepons pons om konfetti vir die klas te maak.
- ‘n boekmerk gee om 100 snitte al om die rand te maak.
- help om papierlinte (streamers) in stroke van 100cm te meet en te sny. Hang dit in ‘n kleurvolle mengelmoes aan die bokant van die deurkosyn.
- help om mini-kolwyntjies te bak. Pak ‘n wafer en twee kolwyntjies op die bordjie om 100 te bou en sprinkel “hundreds and thousands” bo-oor die kolwyntjies se versiersel.
- 2 ronde koekies en ‘n wafer gee om 100 te bou.
- ‘n digitale kamera of ou selfone (met kamera’s) gee om ‘n 100 goue oomblikke af te neem. Plaas dit op die klasblad of SeeSaw.
Wat doen julle vanjaar?
Woorde