‘n Oorsese juffrou het laat weet dat sy baie graag ‘n uitruilprojek met ‘n Suid-Afrikaanse juffrou (-ens) wil reël.  Hulle vier op die 16de Februarie ‘n 100 dae van skool en maak die dag jaarliks spesiaal.  Vanjaar wil sy voorstellings van die getalle tot ‘n 100 voorstel.  Dit behoort ‘n lekker uitdaging vir alle Grondslagfase-outjies te wees.

Die gedagte is dat julle enige getal van 0 tot 100 kies om visueel voor te stel.  Neem soveel vingers, tone, pare hande, pare voete, ore, neuse, doppies, skoene, kosblikke, ens. af.  Kies iets wat julle sommer vinnig kan reël of maak ‘n spesiale gebeurtenis daarvan.  Gesien in die lig dat hulle nie ons land en sy mense ken nie, kan ‘n mens dalk ‘n aantal munte uit pak of Suid-Afrikaanse vlaggies uitstal.  Laat die jaargroep ‘n getal op die sportveld uitbeeld (bv. 42 kinders staan of sit in die vorm van ‘n reuse 42) en neem dit af.

Ons oorsese juffrou-vriendin sou ook graag iets oor seisoene wou doen. Dalk kan die klas ‘n aantal reëndruppels uitknip (fynspier ontwikkeling) en ‘n winter collage maak…sirkels sny om sonne voor te stel (somer)…bloeisel of blomme maak (lente) of oranje, bruin en geel blare (herfs) maak.  Speel lekker met die gedagtes en neem ‘n foto van julle projek.  Merk dit asseblief met die klassie of skool se naam sodat ons daarmee kan spog.

Julle kan die foto’s via Facebook of na my e-pos adres toe stuur (remediering@hotmail.com of die oorsese juffrou: ssoltauheller@gmail.com).