huiswerk

  • Merk elke vak se boeke met ‘n kleurkol op die rugkant om dit makliker in die tas of kas op te spoor.  Gebruik dieselfde kleure op die skoolrooster.
  • Plak ‘n kalender en rooster teen die muur op.  Merk inhandigings- en toetsdatums in dieselfde kleure as die boeke en steek die besonderhede teen die notabord vas.  Maak nota’s op die rekenaar of selfoon se kalender om datums te onthou.
  • Wys vir die outjie hoe om die tas volgens die rooster in te pak. Smiddae kan hy/sy die boeke daarvolgens uitpak en deurgaan om die huiswerk te voltooi.
  • Sorg dat daar ‘n stil hoekie is om die huiswerk te doen.  Geen gedruis, geen televisie en geen speletjies.  Sagte musiek (sonder lirieke) help wel vir sommige outjies.
  • Stel ‘n wekker (timer op die rekenaar of selfoon) om leer- of huiswerktyd af te baken (15, 20, 30…minute) en neem breuke tussen-in.  Doen ‘n fisieke aktiwiteit (ry fiets, spring op die trampolien, loop om die huis, doen strekke), drink ‘n bietjie water en gaan voort.
  • Let op na die onderwyser se vraagstelling in take of werksvelle, want dit duik dikwels in toetse op.  Bespreek die woordeskat en maak aantekeninge (Bespreek beteken…, Beskryf beteken…).
  • Hou nota’s en opsommings in ‘n lêer.  Dit kan handig te pas kom tydens die eksamen.
  • Hou ‘n eksamenblok, skoon blaaie, verligpenne (highlighters) en plakkerige vlaggies (sticky tags) byderhand.
  • Maak ‘n tydlyn al om die muurrand as julle na iets uit die Geskiedenis kyk.
  • Soek prente, diagramme, sketse, atlasse, boeke, ens. oor die onderwerpe sodat ‘n mens ‘n beter beeld oor bv. die bou van ‘n duif, kaarte, ens. kan kry.  Die internet is propvol inligting.
  • Gaan deur die opsommings en formules.  Kan julle aan ‘n prettige kletsrymliedjie (rap) of ritme dink om die werk te onthou?  Maak ‘n opname en hou dit gereed vir later.
  • Is daar aspekte wat ‘n mens in die motor oppad huistoe kan oefen?  Dink aan spelwoorde, veelvoude, ens.
  • Maak flitskaarte van die woorde (twee stelle):  trek na, speel “Snap” of ‘n geheuespel.
  • Maak “self oefen” legkaarte van woorde, maaltafels, ens.
  • As julle toegang tot tablette het, skep spelwoordspeletjies op forums soos TinyTap.  Die outjie kan die woorde op die rekenaar, Android en/of Apple toestelle hersien.
  • Onderwysers kan toeps (apps) soos SeeSaw of Google Classroom gebruik om ouers op hoogte van sake te hou.  Neem ‘n foto van jou huiswerkbord en plaas eenmalig.  Deel ook dokumente deur Google Classroom.
Tik gerus soekterme soos “huiswerk, vraestel, JNA, hersien, eksamen, leer…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in of loer na die hofie “Vraestelle, Studietegnieke en Toetse” bo-aan die lysie skakels vir meer riglyne en idees.