Dit is hierdie week Boomplantweek (1 – 7 September) en die boom van die jaar is ‘n waterbessieboom. Dit kan in ‘n groot pot of in die grond geplant word en kan tot ‘n groot skaduboom groei. Soos die naam voorstel, hou die waterbessie van water en groei dit dikwels naby rivierstrome van KwaZulu-Natal tot by Mosambiek.
Watter kunswerke kan ‘n mens maak om bome te vier?
- Verf die voorarm en hand bruin en druk dik af op die growwe kant van ‘n vel bruinpapier. Sodra dit droog is kan ‘n mens die buitelyne uitknip om die boomstam en -takke te vorm. Verskaf verskillende skakerings verf sodat elke boom uniek is. Druk groen hande los van mekaar op ‘n aparte vel. Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit uitknip en met die vingers uitwaarts op die takke rangskik.
- Voeg vrugte by deur die pinkiekant van die vuis in die gekose kleur te verf of daarin te doop (bv. rooi vir appels, oranje vir nartjies, appelkose of perskes). Druk dit op ‘n aparte vel of in die oop dele van die blare-bladsy. Sny uit en plak dit bo-op die blaredos. Indien jy groen stukkies oor het, kan ‘n mens blaartjies by die vrugte voeg.
- Kurkproppe: Indien jy nie te veel met die hande wil druk nie, kan jy verskillende kurkproppe in verskillende kleure (dikkerige) verf doop en druk. Die boom sal egter reeds geplak/geteken moet wees – aangesien jy nie die propvrugte sal kan skuif nie. As jy verskillende skakerings gebruik, kan dit die rypwordingsproses voor stel (groen tot rooi of groen tot oranje).
- Stel die verskillende fases van ‘n boom voor: ‘n winterboom hoef nie blare te hê nie. As julle in ‘n area woon waar sneeu wel op boom val, kan ‘n mens watte pluis en dunnerig op die takke plak. ‘n Ander idees is om ‘n dun lagie gom aan die bokante van die takke te verf. Sprinkel dan self-gemaakte papier confetti of poeier daaroor.
Bak-en-brou:
- Maak soetkoekiedeeg aan en gee vir die outjies sirkels, reghoekige en driehoekige vorms. Die reghoek vorm die stam en die sirkel of driehoek kan die takke en boomtoppe vorm. Meng groen, bruin en rooi kleursel (met versiersuiker) in aparte bakkies. die outjies smeer dan die bruin en groen kleursels op die koekies of verf dit al langs die buiterand. Doop ‘n vingerpunt in die rooi versiersuiker en druk vruggies hier en daar. [‘n Mens kan natuurlik die deeg vooraf kleur.]
- Gesonde bord: Gee ‘n stomp plastiese mens om ‘n piesang in skyfies te sny (kan heel hou) en verskaf halfmaanvormige vrugte soos nartjie-, lemoen of appelskywe. Siedaar! ‘n Palmboompie.
- Pretzelstokkies en komkommerskywe
- Eiergereg: Plaas geklitsde eier in muffinpannetjies (of selfs in ‘n gewone pan) en sprinkel groenigheid soos fyn gekapte pietersielie in ‘n boomvormpie daarop.
- Bak boomringe met sjokolade- en vaniljedeeg
- Kolwyntjies: Kleur klapper groen. Bak bruin kolwyntjies (laat die outjies dalk help met die beslag) en verskaf die versiering. Druk ‘n pretzelstokkie in ‘n malvalekker. Doop dit malvalekker in water, skud en rol in die klapper. Plant jou boompie in die kolwyntjie.
- Vrugteboomslaai
- Poeding/nagereg: Maak sjokolade mousse en skep dit in klein porsies (bv. sjerrieglasie- of eierkelkiegrootte). Plant ‘n klein kruisementtakkie daarin.
Laat 'n boodskap