Dis weer amper Moedersdag (hierdie Sondag). Hiermee dan ‘n paar idees vir geskenke:
- Maak oulike hartjie- of skoenlapperdosies uit karton. Rol die buitelyne op gekleurde karton of selfs “scrap book” papier af voordat julle begin knip en vou. Rond die hartjie of skoenlapper met gom en blinkertjies af.
- Versier ‘n basiese ligskakelaarplaatjie met swart veselpen en verf (vra vir die skool se opsigter om ‘n paar oorskietblikke te leen :wink:). Verf die plaatjie wit en wag tot droog. Kies ‘n paar oulike prente om as voorbeeld te dien. Vra die outjies om een te kies en na te teken met ‘n potlood. As hulle tevrede is, kan hulle met die veselpen oor die lyne teken. Daarna kan hulle die prente inkleur met dun kwassies / oorstokkies en verf. Meng die kleure vooraf soos jy die verkies. Ma of Ouma kan dit in die gunstelingvertrek gebruik.
- As jy weet hoe om decopagewerk te doen, kan jy selfs die bogenoemde plaatjie met velle mooi servette oortrek.
- Versier ‘n ou kosblikkie met verf nadat jy ‘n onderlaag van byvoorbeeld wit of room geverf het. Laat die outjies eers met potlood teken en beplan en dan verder verf. Vul die blikkie sommer met vrugbare grond en kruie soos pietersielie.
- Pak oulike boodskappies met klanke wat uit tydskryfopskrifte gesny is of gebruik Scrabbleblokkies (bv. Mamma is die beste. Lief vir mamma….). Neem dan foto’s daarvan en vra die outjies om ‘n foto te kies (gee opsies). Laat druk dit in swart en wit of kleur (met ‘n wit randjie om). Gebruik dit as die voorblad vir ‘n kaartjie of plak ‘n breë strook magneet agter-op – vir die yskas of ‘n spieël. Die foto gee ‘n netjies afwerking, maar die fisiese knip- en plak-werk sal net so oulik wees.
- Versier hout wasgoedpennetjies met decopagewerk, gewone mooi papier of verf en blinkertjies. Heg magneetjies agter-aan en gee dit saam met een van die metaalgeskenke. Dit kan dan gebruik word om boodskappies en belangrike nota’s vas te knyp.
Mei 03, 2011 @ 20:50:58
Nes ek dink ek kan niks nuuts meer leer nie, dan laat die prikkels my weer oorspronklik en kreatief dink. Ek kuier baie aande saam met Juffrou. Veral as ‘n mens al in die pylvak is, maar tog nie verstok nie. Baie dankie
LikeLike
Mei 04, 2011 @ 14:40:28
Middag, Ouderwets 😉
Baie dankie vir die mooi woorde! Dis voorwaar lekker om sulke dinge na ‘n vermoeiende dag te lees 😉 Kom loer gerus weer in.
LikeLike
Mei 04, 2011 @ 07:23:54
baie dankie vir hierdie Moedersdag idees – ek gaan die hartjie boksie maak met my speelgroepie. Nog ‘n idee wat ek het is om ‘nfotoraampie te maak uit karton – die maatjies versier dit en ek sit ‘n foto wat ek geneem het by die speelskool van die maatjie in die fotoraam. ‘n ander idee is om van hierdie klei wat jy koop by die supermarkte ‘n vormpie te maak – hartjie of sirkel (wat ookal die maklikste is vir die maatjies) – dit moet dikkerig wees en druk dan een van daardie ronde kersburners in die middel (terwyl die klein nog sag is) – laat dit dan droog word en as dit klaar droog is, sit een van die kersies binne – dit kan ook geverf word
Lekker Moedersdag vir almal wat alreeds ‘n moeder is.
Groete
Anna-Maria
LikeLike
Mei 04, 2011 @ 14:39:00
Baie dankie, Anna-Maria 😉
Ek hou van die kersblakertjie! Dit is bruikbaar en baie maklik om te maak. Ek hoop dat ander juffrouens dié idee kan gebruik en ‘n fototjie stuur van die eindproduk 😉
LikeLike
Mei 09, 2011 @ 22:55:32
My dogtertjie is in Graad 2. Sy doen baie goed in haar skoolwerk behalwe die Wiskunde: woordsomme, halvering, verdubbeling en breuke. Wat kan ek doen om haar te help en kan ek werksvelle aflaai van die internet vir inoefening.
Dis ‘n puik webblad!
Baie Dankie
LikeLike
Mei 10, 2011 @ 19:10:39
Middag, Elizma 😉
Vir halvering kan jy by die basiese begin. Verdeel ‘n hopie lekkers in die helfte deur dit uit te tel (begin eers met ‘n heel getal). Bv. 6 se helfte sal dan 3 lekkers vir elkeen beteken. Die helfte van 6 is 3. Oefen met verskeie getalle en skryf die antwoorde neer. ‘n Slotsom wat ‘n mens kan bereik is dat ewe getalle presies in die helfte verdeel / halveer kan word. Later kan jy onewe getalle betrek. Verdeel die lekkers tussen twee mense. Hoeveel bly oor? 1 hele lekkertjie. Deel in dit in die helfte en ‘n halwe bly oor vir elkeen. Dus sal die helfte van 5 lekkers, 2 en ‘n half wees. Tel eers fisiese items uit, teken dan verskillende prentjies en dan kan jy die getalle alleen gebruik.
Verdubbeling is die teenoorgestelde van halvering. As een ou 3 lekkers het, moet jy vir die ander maat dieselfde hoeveelheid gee. Jy maak die getal dus net soveel meer. 3 en 3 is 6. Julle kan weer met lekkers of ander items, dan prente en dan getalle speel. Kyk hier en hier na nog voorbeelde.
Ek het so ‘n stukkie oor woordprobleme en skakel na wiskunde huiswerk geplaas. Dan is daar nog verduidelikings i.v.m. wiskunde hier.
Breuke kan aanvanklik aan die hand van halvering verduidelik word. Breuke groei egter deurdat jy ‘n getal in presiese stukke op breek. Die helfte beteken dat jy die getal halveer / in die helfte breek. ‘n Kwart beteken dat jy dit in vier stukkie breek. Jy kan hier ook ‘n bietjie na ‘n horlosie en tyd verwys. 7de laan begin om half 7. Die lang arm van die horlosie moet van die 12 af halfpad om die horlosie hardloop om by die “half 7” uit te kom. As die horlosie in die helfte verdeel / gevou word sal jy die lyntjie kan sien. As jy dié helftes in die helfte vou, sal jy die horlosie in kwarte verdeel. As ‘n horlosie se lang arm tot by die eerste strepie gehardloop het, is dit kwart oor 6, 7, ens. Twee kwartstukkies gaan ‘n helfte vol maak. As jy dus die kwart verdubbel kry jy ‘n halfuur. As jy die hele uur halveer kry jy ‘n halfuur. Hoeveel kwarte is daar in die hele uur? 4 stukke! ‘n Mens moet baie vrae vra en speel met dinge uit die verwysingsraamwerk. Wat van ‘n groot stuk sjokolade? ‘n Kit Kat kan seker in 4 stukke verdeel word…Wat van ‘n groot “slab”! 😆
Vir werksvelle wat jy kan aflaai, kan jy gerus na tuishulp se produkte kyk. Daar is ook ‘n paar onder die “drukbare” hofie hierbo. Baie sterkte 😉
LikeLike