Amerika vier op 23 Januarie Nasionale Skrifdag en doen dit nes die Amerikaners kan. Die groot vraag wat geopper word is of skrif (met die hand) nog relevant is in die moderne en tegnologiese gemeenskap. Is dit dalk ‘n kunsvorm wat op sy geskuif sal word? Volgens sommige studies stimuleer skrifoefening juis breinwerking en verbeter dit denkprosesse (kognitiewe werking). Loer gerus hier na ‘n navorsingstuk oor die vroeë ontwikkeling van skrif.
Nou ja, wat kan ons doen om die konsep – SKRIF – te vier?
- Maak voorblaaie vir die skrifboeke: As jy ‘n gelinieerde bladsy met donker lyne onder ‘n blanko vel inskuif, skyn dit deur. Laat die kleingoed dan hul name oor en oor skryf, patrone trek of ‘n skrifles afskryf. Dit werk goed as hulle eers in potlood skryf en bo-oor skryf met ‘n skerp uitdraaikryt (dubbele oefening!). Verf ‘n lagie voedselkleursel bo-oor (effens verdun as jy verkies) en daar het jy sommer ‘n voorblad en ‘n skrifles in een!
- Kennisgewings: Ouer kinders kan voorbeelde van goeie en netjiese skrif gebruik om plakate vir die Grondslagfasegang te maak. Slagspreuke en sinne sal ‘n oulike uitstalling van die spesifieke benodigdhede en toelaatbare skryfbehoeftes afrond.
- Ligte: Laat die ouer kinders groot letters op blokke dik karton (gesny uit verpakkingsdose) trek. Druk dan gate eweredig al op die lyn langs (soos dot-to-dot). Hang dié skerms oor of onder gloeilampe vir ‘n spesiale effek.
- Skrifpaaie: Verander los letters in unieke paaie en ry daarop met kryte of klein motortjies. (Sien “drukbares” vir voorbeelde van sulke los letters.)
- Kuns: Gebruik skrif in kunswerke.
- Verf die alfabet (in Graad 1-skrif) op die speelgrond se teerblad. Dui die beginpunte met ‘n groen kol en die eindpunte met ‘n rooi kol aan. Nou kan die Graad 1’s en 2’s lekker daaroor loop en oefen. (Sien “robotkaarte” onder die “drukbares” hierbo.)
- Skryfhoekie: Rig ‘n spesiale skryfhoekie in waar verskillende potlode, kryte en papier reg lê vir oefening. Voeg ook potloodgrepies of kort opdragte by sodat die outjies self hul fynspiere kan stimuleer.
- Op ‘n stasie: Maak verskillende oefeningstasies waar die outjies op verskillende soorte papier en met verskillende kryte kan oefen. As jy spesifieke verwarrings soos b en d in jou klas kry, kan jy vir elke klank ‘n unieke stasie skep. Selfs syfers , patrone en vorms kan betrek word. Stel ‘n egg timer of ‘n ander wekkertjie om na elke 10 of 15 minute te wek – sodat die groepe kan wissel.
Vir nog idees kan jy gerus soekterme soos skryf, skrif, patroon, potloodgreep, fynmotoriek, fynspier, handspier, syfer…by die soekblokkie in tik. Lekker skryf!
Jan 13, 2012 @ 13:22:45
Hallo Juffer!
Nog ‘n paar idees wat ek met my outjies in terapie gebruik om hulle handskrif te verbeter:
– kleur prentjies in met skrifpatrone (sirkels, ‘loopies’, sig-sag, ens).
– teken in kitspoeding op ‘n skoon tafelblad, om die basiese idee baas te raak.
– weereens, skeerroom bly ‘n treffer! Spuit skeerroom aan ‘n spiëel of ‘n tafelblad, en laat hulle daarin letters teken / prentjies teken deur van letters gebruik te maak.
Hoop dit help!
LikeLike
Jan 16, 2012 @ 15:37:37
Baie dankie, Ronél 😉
LikeLike
Mar 10, 2014 @ 13:17:54
Hello Juffrou!!! Ek het dringend hulp nodig my kind is 6jaar oud en kan nie skryf nie hy is lings en toe dwing hulle hom om regs te skryf nou sukel ek met hom… Hy wil ook ni probeer nie… Hoop jy het raad vir my….
LikeLike
Mar 10, 2014 @ 18:12:03
Nee, Chantel 😉 ‘n Mens dwing nie die kind nie. Tik gerus hier aan die regterkant soekterme soos handspier, fynspier, skrif, skryf, potloodgreep, syfer, abc skryf, vorm, patrone, linkshandig, skryf stadig, links en regs by die bruin soekblokkie (laer af) in. Kontak ‘n gesoute arbeidsterapeut en laat toets hom om te bepaal hoe groot die probleem is. Doen dit sommer môre-oggend so vroeg as moontlik.
LikeLike