Dis alweer binnekort Vadersdag (tyd vlieg!) en ‘n mens behoort darem vroegtydig aan idees te dink…
- Laat sny hout in reghoekige stukke, verf dit met vrolike kleure, voeg hakies by en siedaar! ‘n Nommerpas hangplek vir sleutels en “flash drive”-toutjies.
- Sjokolade happies: Koop kook-sjokolade (donker of wit), smelt dit bietjies-bietjies (pas op vir brand) en meng neute daarby in. Vorm eetlepelgrootte balletjies of vries die mengsel in vormpies.
- Fotoraam: Plekke soos Shoprite verkoop fotorame in gewone dennehout. Verf dit en bring ‘n oulike prentjie soos ‘n rugbybal, krieketkolf of ‘n visstok en vis daarop aan.
- Peuselpotjie: Verf ‘n klein glasflessie vol prentjies en vul met lekkers of neute.
- Slaan die spyker: Koop ‘n hamer en verf vol oulike patrone. Onthou om verskeie spykers en ‘n stukkie biltong by te voeg.
- Slaaptyd: Koop ‘n gewone, eenkleur t-hemp en bedek met oulike lapverf woorde…of hand afdrukke…
- Fotostaander: Maak ‘n balvorm uit klei wat kan verhard (vra by kunsvlyt-winkels). Besluit waarvan pagoed hou en vorm die klei in die bal van keuse – rugby, krieket, sokker of gholf…verf dit dan in daardie kleure en maak seker dat die bal se onderkant plat is – vir die staanslag. Heg krokodilknypers of enige klampie aan die punt van ‘n stewige draad, druk by die klei in en jou staander is klaar!
- Sakpas sakdoek: In die geval van ‘n baba kan ‘n mens ‘n voet of hand met lapverf op ‘n sakdoek afdruk (en op die verkeerde kant vas stryk as dit droog is)…net reg vir die winterseisoen!…’n kussingsloop werk net so lekker…
- Magneetrame: Indien jy met kleintjies werk, kan jy vooraf ‘n klomp beertjieraampies druk en uitsny. Laat die kleintjies dit dan met vingerverf versier of bedek met kleursel. Neem foto’s van die kleingoed en plaas dit in die vensterruimte. Daarna kan jy dit lamineer of sommer net dun magneetstrokies agterop plak. Dit behoort teen metaalrakke en -kaste vas te sit – net reg vir die motorhuis!
Jun 08, 2011 @ 08:27:59
Boekmerkies vir Vadersdag? Help seblief!
LikeLike
Jun 08, 2011 @ 19:23:36
Hallo, Marietjie 😉
Ek het so ‘n paar voorbeelde bygevoeg. Stuur gerus foto’s van julle kunswerke sodat ek julle spogwerk met ander mamma’s en juffrouens kan deel. 😉
LikeLike