Boomplantweek strek vanjaar vanaf die 30ste Augustus tot die 5de September – met Lente dag op die 1ste September. Die algemene Boom van die Jaar is die Soetdoring en die skaarser boomsoort, is die Spekboom.

Verf ou koerantpapier in verskillende skakerings groen en bruin afsonderlik. Skeur en plak stukke boombas uit die bruin papier om ‘n boom met boomtakke te bou en bedek die lengte van die klasdeur daarmee. Sny blaarvorms uit die groen papier en plak die blare op die takke. Verdeel spesifieke boomsoorte (of seisoene) tussen die onderskeie klasse en verander die klasdeure in ‘n mini-woud. Indien moontlik, kan julle aspekte soos die belangrikheid van bome op die onderskeie blare skryf.

Kap ‘n gat in die bo- en onderkante van eiers en laat die inhoud in ‘n bakkie uitloop (om in ‘n ete te gebruik). Vul die eierdoppe met grond en ‘n saadjie. Stoor die gevulde eiers in ‘n eierhouer en maak nat. Sodra die saadjie begin ontkiem en groei, kan ‘n mens die eierdop kraak of kneus en in ‘n blompot of tuin plant. Die outjies kan natuurlik elkeen ‘n plantjie huis toe neem om daar te plant.

Skeur en plak kleurstroke uit tydskrifte of verf velle volgens verskillende kleure. Sodra die velle droog is, kan ‘n mens blomdele daaruit knip en op ‘n landskap of tuin agtergrond plak. Dink aan blomme soos tulpe, papawers, proteas en sonneblomme.

‘n Mens kan bekende skilders se kunswerke as inspirasie gebruik en gemengde media (potlood, verf en pastelle) gebruik om unieke, kleurvolle prente te skep. Loer gerus na voorbeelde van skilderye wat bome, bloeisels en blomme insluit om Lente dag én Boomplantweek te vier.