sonneblom

Sonneblomdag vervang nou die bekende Bandanadag en word op die 16de September gevier.  ‘n Mens kan dalk sade of klein plantjies verkoop as ‘n fondsinsamelingsprojek ten bate van die Sonneblomfonds.

Ontkiem sonneblomsade in watte of grond binne-in ‘n oop glasflessie of deursigtige plastiekglasie.  Wanneer die plantjie sterk genoeg is, kan ‘n mens dit in die tuin of diep blompotte oorplant.

BoekmerkInkleurprentLewenssiklus (kleurprente)

Sonneblomme maak pragtige kunswerke.  Dink net aan Van Gogh se skilderye.  Gebruik pastelle of dik, pastaverf in skakerings van son- of eiergeel, grasgroen, koningsblou, bruin, swart en wit.  Teken die buitelyne met ‘n potlood en begin inkleur.  Werk in dieselfde rondings en rigting as die buitelyne en betrek verskillende skakerings van geel in die blomblare, skakerings van groen in die stingel en skakerings van bruin in die blomkop.  Gebruik skakerings van blou (met wit) in die lug en hou die kwashale of lyne skerp en duidelik.  Geen vermenging.

‘n Mens kan groot bladsye vooraf voorberei deur die lug en grond (gras) met dwars hale of lyne te bedek.  Teken of verf die sonneblomme apart, knip uit en plak dit bo-op die droë agtergrond.  In plaas van geverfde blomme, kan ‘n mens ook oranje en geel bottelproppies gebruik.  Vou koffiefilters herhaaldelik in die helfte totdat daar slegs ‘n smal strokie oor is,  vou dit oop en plaas op ‘n bord of ‘n plat bak met ‘n bietjie water daarin.  Drup eiergeel voedselkleursel (met ‘n bietjie bruin verf by gemeng) in die middel van die filter en kyk hoe dit versprei.  Gebruik die filterblomme bo-op die agtergrond sodra dit droog is.

Bedruk kurkdrupmatjies met verskillende skakerings bruin verf.  Knip sonneblomblare uit geel viltlap, vou die reguit randjie toe en gom of kram dit vas.  Knip ‘n stingel en blare uit groen viltlap.  Spasieer die geel blare en stingel om te drupmatjie en plak die matjie bo-op die lap.  ‘n Mens kan ook snesiepapier of gewone geel papier gebruik (skeur en plak).

Tik gerus soekterme soos “lente, bandana, bye…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.