Hierdie grafika het vandag my oog gevang.  Het julle leerders met gehoorverlies in die klas?  Een van die juffrouens betrek die alfabet gebare dikwels wanneer sy klanke in die hoofstroomklas aanleer.  Wat doen jou skool om kinders met gehoorverlies te help?

‘n Kundige het die volgende voorstelle gegee:

  • ‘n Volvloermat (sommer teen die muur op) demp die geraas van skuiwende stoele en tafels.
  • Sponsstrokies in deurrame demp die knal van deure en deurknippe.
  • As die outjie se gehoorstukkies suis of ‘n fluitgeluid maak, is die batterye dalk pap – vervang.
  • Skuif die FM-stelsel hoog teen die band op, sodat die mikrofoon jou stem beter kan opvang.
  • Gee die FM-stelsel vir elke nuwe spreker aan of verbind dit direk met die skool se klankbord – indien moontlik.
  • Vermy lang halssnoere, wapperende krae en klere met knopies, want dit skep ‘n steurnis.
  • Mans se snorre en baarde kan dit moeilik maak om lippe te lees.  (Hou die mond oop.)
  • Aksente is soms moeilik verstaanbaar.  Praat stadiger.
  • Verseker dat daar goeie beligting is.
  • As julle na flieks of videos kyk (ook op YouTube), skakel die “closed captioning” funksie aan.
  • Beraam saam ‘n plan om tydens noodsituasies te gebruik.  Het jul nooduitgange en -klokke flitsende ligte?  Wat gebeur as die outjie in die badkamer is?  Sal die onderwyser die outjie oor die FM-stelsel roep?
  • Leer die outjie om self te noem wat werk en om mense in te lig as iets nie werk nie.