Die Wêreldbeker Kriekettoernooi begin in Februarie (19de) en duur tot die 2de April. Tooi hierdie kwartaal jou klas eg-Suid-Afrikaans op en herleef die opwinding van die 2010 Sokker Wêreldbeker. Die klas kan meer oor die Proteaspan leer.
Afhangende van jou klas se ouderdomsgroep, kan jy aspekte soos reëls, kleredrag en die posisies op die veld bespreek. Met die kleintjies kan ‘n mens mini-krieket speel (indien jou skool dit nie reeds aanbied nie) en ‘n mini-Wêreldbeker reël aan die einde van die kwartaal. Aangesien al die outjies graag vir die Proteas sal wil speel, kan julle eerder die Grondslagfase in spanne verdeel en die klassies verteenwoordig. Dit kan groot pret wees en kan die Grondslagfase gees woema gee.
Integreer die vorm van die veld (ovaal), die kolfblad (reghoek) en die bal (rond) met jou wiskunde lesse. Tel in viere en sesse binne die klas se getal gebied. Maak “treintjiesomme” met kamma-lopies binne ‘n boulbeurt. Daar is mos ses moontlike balle. (Bv. Die kolwer teken 2 sesse en 4 lopies binne die boulbeurt aan. Hoeveel lopies is dit altesaam?…Jan en Wilbur het 50 lopies in ‘n vennootskap aangeteken. Wilbur het 31 lopies aangeteken. Hoeveel lopies het Jan aangeteken?…As Wilbur 4 sesse en 3 viere aangeteken het, hoeveel enkellopies het hy gekry?)
Die 2011 gelukbringer is Stumpy, ‘n 10-jarige olifantjie. Hy is versot op krieket en is besig om die kuns van konsentrasie te bemeester. Dalk kan ‘n mens die olifantjie as ‘n aansporing vir goeie werk gebruik. As die outjies (individueel of in ‘n groep) mooi gewerk het, kry hulle ‘n sterretjie (“lopies”) op ‘n grafiek of op die almanak. Aan die einde van die week kry die kind of groep met die meeste toekennings ‘n sertifikaat – ‘n Stumpy-toekenning.
Ander idees is om die kleingoed na ‘n stadion te neem vir ‘n uitstappie en om professionele spelers te ontmoet. Kry rolmodelle om vir hulle ‘n werkswinkel te hou (seuns én dogters) of kry ‘n krieket-legende om met hulle te gesels. Maak krieketkolwe en balle van afvalprodukte of probeer iets soos paper mache. Sny kolfvorms uit ligbruin viltlap en klein rooi hartjies (laasgenoemde moet ‘n juffrou maar self doen). Plak die hartjie op die kolf vas en ryg dit met swart gare vas. ‘n Kruisie kan mos as ‘n soentjie dien. Wys vir die outjies hoe om gare om die greep van die kolf te werk en siedaar! Nou kan ‘n mens dit op ‘n magneet of ‘n kaartjie plak – as ‘n geskenkie vir Valentynsdag…
Inkleurtyd:
Krieketkolf en -bal
Krieketwedstryd
Kolwer en geskiedenis
Die moderne weergawe van die Afrikaanse Krieketveldplasingsterme is op aanvraag beskikbaar. Hierdie foto’s is deur ‘n vriend gestuur. Ongelukkig is die boek uit druk uit.
Woorde