Hier is ‘n paar konsepte waaraan die Graad 1-sillabus aandag gee. Veral in die eerste ses maande doen die kleintjies somme met tellers (koeldrankdoppies, knope, krale…). Hulle moet die apparaat fisies vashou en die som so uitwerk…
Mamma’s kan gerus met hierdie lysie na die juffrou gaan en vir ‘n paar gedagtes vra om dit aan te spreek tuis. Juffrou sal baie beïndruk wees.
TEL MET BEGRIP
· Aftel in ene tot 5 (…10…20) Tel fisiese goed soos knope, klippe, ens.
· Skat, neerskryf / teken, tel en bespreek (Ek skat dis 5, tel…ja, ek was reg…of nie…)
· Aantel (5, tel drie aan….5…6,7,8 )
· Terugtel
· Tel in spronge (2e, 3e, 5e, 10e)
WERK MET GETALPATRONE
· Bv. 5 10
15 20
25 30
· 2, 4, 6, 8
12, 14, 16, 18 (sien die ooreenkoms in die eindgetal)
LEER KEN DIE GETAL
· Hoeveel?
· Getalnaam (Hoe skryf ek dit?)
· Getalsimbool (1 – 5, 6 – 10) (Hoe lyk dit?
· Ewe / onewe (Kan ek dit uitdeel sodat Ma en ek ewe veel lekkers het?)
· Behoud van die getal (Maak nie saak hoe die patroon lyk nie, 7 kolle bymekaar beteken 7)
· Subitering (tot 6) (Kyk na ‘n items bymekaar en “raai” of “weet instinktief” dat dit 3, 4, 5 ensovoorts is.)
POSISIE VAN DIE GETAL
· Ongelykheid en gelykheid (afparing)
· (= teken)
· Ordening van getalle (1 – 5, 6 – 10)
· Stygend én dalend (leer ken ‘0’ as getal)
· Rangorde
· Posisiewoorde (voor, na, tussen)
· Rigtingwoorde (links, regs, ens.)
· Rangtelwoorde (eerste, tweede…)
· Kwantiteitswoorde (is groter as…)
· Vergelyking van getalle
· Begrippe: hoeveel, meer as, minder as, net soveel as, is gelyk aan.
DIE VIER HOOFBEWERKINGS
· +
· Saamvoeg ( + teken)
· Verdubbel
· Oop getalsinne 1 + 2 = c
· Multistap probleme 2 + 3 + 1 = c
· –
· Skei ( – teken)
· Halveer
· Oop getalsinne
· Multistap probleme
· Vermenigvuldiging (slegs prakties / mondeling)
· Deling (slegs prakties / mondeling)
GETALFEITE
· + en – tot 10
· Voorbereidende werk vir tafels :(2x, 10x)
· Versnelde tel (2, 4 ,6 ,8, 10)
· Herhaalde optelling (2+2+2+2+2+2…)
Mei 20, 2009 @ 11:55:07
Hi juffer my seuntjie is nou in die 2d kwatraal graad 1 en sukkel verskriklik met sy somme. Hy herkwen nie die getaale nie en raak deur mekaar met plus en minus enige raad asseblief.
Dankie
Denecia
LikeLike
Mei 22, 2009 @ 17:36:26
Hello Denecia en welkom 😉
Ek stel voor dat jy die volgende probeer:
-vorm ‘n spesifieke syfer uit klei (bv. 2)
-laat jou outjie voel oor die syfer (begin bo)
-hou ‘n skinkbord met meel of sand langsaan en vra hom om dieselfde syfer in die meel / sand te skryf.
-vra hom om sy oë toe te maak en om dit weer te skryf
-elke keer as hy die syfer skryf, sê hy die getalnaam “twee” hardop
-vorm die twee met klei en sit ‘n flitskaart met die getalnaam en twee los “jellie tots” langsaan. Hy moet oor die syfer en getalnaam “skryf” met sy vinger en aan die twee jellie tots raak. Dan maak jy dit toe met ‘n lap en vra hom om te skryf wat hy gesien het (sit ‘n papier reg onder die “uitstalling”). As hy dit reg gekry het, kan hy die lekkers eet…en hulle tel terwyl hy dit in sy mond druk :lol:!
Wanneer kinders sukkel met die herkenning van simbole soos + en -, kan dit dui op probleme met visuele diskriminasie. Dalk is daar probleempies met die egalige beweging van die oogspiere van links na regs. Ek sal voorstel dat julle die outjie se ogies (visie en oogbewegings)laat toets – net vir gemoedsrus. Hou die oë oop vir spesiale aanbiedings by leessentrums soos Wise Eye en gekwalifiseerde optometriste. Baie keer kan jy die toetsing gratis kry.
Die ogies en ore is baie belangrik in die leerproses en ons moet dit liefs so vroeg as moontlik aanspreek.
Hou altyd fisiese/konkrete telapparaat byderhand soos knope en klippies. As julle die som skryf: Bv 2 + 4, moet hy die hoeveelhede onder die getalle pak en later bymekaar tel. Die probleempie kan egter verskeie oorsake hê?
Wat sê Grootman se klasjuffer oor lees?
LikeLike
Aug 17, 2009 @ 08:18:00
Ja, my kind sukkel met dieselfde, hy kry dit reg wanneer dit verduidelik word en dadelik toegepas word saam met juffrou maar wanneer sy twee dae later dieselfde oefening gee raai hy. Sy reken die probleem lê by getalbegrip? Hulle begin nou halveer, verdubbel ens en dit maak hom nou totaal deurmekaar. Op die stadium doen hy + en – baie mooi tot by 6 maar dan soek hy weer sy tellers met die moeiliker somme. Hoe gemaak?
LikeLike
Aug 17, 2009 @ 19:14:55
Hello, Elsabé
‘n Mens moet maar elke dag met die probleempies sit en dit daagliks inoefen. Gebruik gerus van die riglyne wat ek vir Denecia gegee het.
Ek stel ook voor dat jy sommer ‘n gewone pak kaarte nader trek. Die ACE gee ‘n probleem, omdat dit nie ‘n syfer 1 op het nie, maar jy kan dit dalk daarop skryf. Haal die kaarte van “1” tot 10 uit.
Wys byvoorbeeld vir hom ‘n kaart (bv. 2). Wys na die syfer en tel dan die prentjies: 1, 2. Sit ‘n kaart langsaan (bv. 3). Wys na die syfer en tel die prentjies: 1, 2, 3. Wat maak 2 en 3 saam? Wat kry ek as ek 2, drie meer maak? Moenie weer die 2 tel nie…tel aan. Ek het 2 (druk nou op die tweede kaart se prente), 3, 4, 5! 2 en 3 maak vyf.
Julle kan natuurlik die kaarte onderverdeel en elkeen ‘n kaart neersit. Wat kry ons as ons my kaart en jou kaart bymekaar tel? 3 en 4 maak 3,4,5,6,7!
Jy kan ook die syfers op die kaarte toeplak (sommer wondergom en ‘n plakker) sodat Boetman die prentjie/beeld van die getal met die eerste oogopslag moet herken. Dis ietwat moeiliker, maar help hom om ‘n “gevoel” vir die getal te ontwikkel. ‘n Afwisseling is ook om die prente toe te plak sodat slegs die syfers sigbaar is.
Maak ook flitskaarte van syfers:
Maak die kaarte ewe groot (knip sommer ‘n ou papboks op)
Teken nou kolletjies op die onderskeie kaartjies om getalle voor te stel: vir 3 kan jy die kolletjies langs mekaar, onder mekaar, driehoekig en skuins teken (dik koki – op verskillende kaarte). Die verskillende patrone / kombinasies / voorstellings laat die kleingoed besef dat die syfer meer is as net die gewone beeld op ‘n dobbelsteen.
‘n Lekker speletjie: Gebruik speelkaarte (tussen 1 en 10) en die bogenoemde flitskaarte (met kolletjies) om SNAP te speel. Dít sal Ma én Boetman op julle tone hou 😆
Wat sê die klasjuffrou van jou seuntjie se klanke? Onthou hy die klanke? Dalk sal ‘n paar geheue oefeninge ook handig te pas kom.
LikeLike
Sep 22, 2009 @ 19:43:41
Goeie dag Juffrou,
My seuntjie is nou gr0 en vaar baie goed met sy wiskunde. Hy kan goed tel en goed plus en minus.
Hy bly egter sy twee en vier verkeerde kant om skryf.
Ek hoop Juffrou het vir my raad.
Groete Natasha
LikeLike
Sep 22, 2009 @ 20:53:59
Hello, Natasha
Dit klink asof die outjie nog sukkel met sy innerlike bewustheid van rigting. Dit is dood normaal en kom dikwels onder die kleingoed voor. Kyk gerus by die skakel oor syfers. Ek stuur vir jou ook ‘n paar oefeninge per e-pos.
Sterkte! 😉
LikeLike
Apr 28, 2010 @ 16:55:49
hi, ek sukkel maar ook hard, sal jy asb. vir my ook die oefeninge aanstuur, baie dankie
LikeLike
Apr 28, 2010 @ 20:39:13
Hello, Miempie
Ek moes nou eers mooi gaan kyk het wat in daar die inskrywing gestaan het :wink:. Ek het skoon vergeet…Die oefeninge het ek in Februarie “geplaas”. Jy kan hier gaan loer.
Probeer ook: https://juffer.wordpress.com/2009/03/29/syfers/
https://juffer.wordpress.com/?s=lateraliteit
Mooi aand 😉
LikeLike
Mar 28, 2010 @ 00:31:35
Hi Juffer
Dit is wonderlik om die wiskunde konsepte uiteengesit te kry. Ek sal beslis my kind(6)op die gebiede opvoed. Ons woon tans in die Midde Ooste en sal graag ook meer wil weet oor Afr. taal en lees lesse. Weet u dalk van iets beskikbaar op die net? Of dra u kennis van wat hulle in gr 1 leer itv afrikaans.
Groete.
LikeLike
Mar 28, 2010 @ 17:52:42
Hello, Susan
Die outjies in Graad 1 leer die enkelklanke en later ook al die dubbelklanke (ee, aa, oo, uu). Soek gerus onder die “drukbares” en in die “soek-blokkie” aan die regterkant vir “klanke”, “abc”, “skryf”…en sulke woorde. Kyk ook na die “sigwoorde”. Begin met kort, algemene woorde soos “die, ‘n, ons, jy, hy, sy, dit, is, in…”, maar vermy langer woorde met twee- en drieklanke tot veel later.
Die amptelike dokumente gee vir jou oulike stappe en verduidelik vir jou hoe jy skrif en taal kan aanbied. Loer gerus na wat hulle sê. Lees bitter baie boeke voor en wys met jou vinger waar jy lees terwyl jy lees. Dit sal die agtergrond en verwysingsraamwerk help bevorder. Baie sterkte! 😉
LikeLike
Jun 24, 2010 @ 14:23:22
HI My dogtertjie is in graad 1 en die wiskunde is ‘n probleem, dit lyk of sy die begrip ken maar slegs as sy die getallelyn of haar vingers gebruik. Wat is die regte manier en watter oefeninge kan ek gebruik om haar wiskunde te verbeter? Hoe word hulle geasseteer in die klasse.Ek weet juf het gese sy sukkel met flitskaarte, maar ons het mooi daaraan gewerk???
LikeLike
Jun 25, 2010 @ 12:20:30
Hello, Marelize 😉 Die wyse waarvolgens kleintjies wiskunde aanleer is deur met konkrete voorwerpe te werk, dan met prente en later met die syfersimbole. In Graad 1 word die konsepte veral met konkrete voorwerpe en aktiwiteite op die mat aangebied of verduidelik. Byvoorbeeld: Ek het 3 penne en gee een vir Jana. Hoeveel penne het ek oor? (Juffrou doen dit fisies…) Later sal dit prentekaartjies wees van penne (bv. 3 kaartjies en een word weg gegee)…later sal dit dalk net kolle-voorstellings wees…
As jy dus met tellers (doppies, knope, krale…) by die huis speel om te tel of om somme te doen, sal dit baie help met die begrippe. Getallelyne en honderdblokke is ‘n meer abstrakte vlak en ‘n motor kan tog nie in derde rat weg trek nie. Ek gaan ‘n paar aktiwiteite vir die vakansie plaas onder ‘n nuwe hofie. Intussen sou ek met die fisiese voorwerpe tel en somme doen om die “hoeveelgevoel” te versterk. Julle kan bo-op ‘n witbordjie, ‘n groot gladde teël of ‘n lêersakkie werk en telkens die syfers onder die versamelinkie of voorstelling skryf. Dit help om die verband tussen die som en die hoeveelhede te versterk en die werksoppervlakte kan telkens skoon gevee word (geen foute bly oor! :lol:). Witbordpenne is BAIE handig 😉
LikeLike
Des 06, 2010 @ 14:56:09
Goeie dag Juffer
My seun van 6 gaan volgende jaar graad 1 toe maar ek het geen benul wat hy moet doen bv naam en van skryf, kan tel tot 100 ens. Bietjie meer inligting dat ek hom kan voorberei vir volgende jaar
Dankie
LikeLike
Des 06, 2010 @ 18:57:57
Hello, Natasha en welkom 😉 Ek gaan vir jou ‘n paar skakels hier plaas oor skoolgereedheid en die oorgang van Graad R na Graad 1. Daar is heelwat skakels binne-in die skrywes wat vir jou na ander idees sal lei.
1. Skoolgereed
2. Skoolgereed
3. Skoolgereed
4. Skoolgereed
5. Vorming van klanke
6. Vorms
7. Vorming van syfers
8. Leer speel-speel
Baie sterkte! 😉
LikeLike
Jun 21, 2011 @ 13:40:20
My dogtertjie is in graad 1. Ek wil net graag weet as hulle bv 13 moet skryf. Waar begin hulle? Eers by die 3 en dan die 1 voor die 3? Ons het nie so geleer nie en dis vir my moeilik om dit so vir my kind te leer. 30 skryf hulle weer eerste die 3 en dan die 0 agter. Dit maak hulle net deurmekaar.
LikeLike
Jun 21, 2011 @ 16:58:26
Middag, Lelanie 😉
Ek sou eers seker maak dat sy die waarde van die onderskeie getalle verstaan. Gebruik flardkaarte hiervoor (los kaarte met honderde, tiene, ene). Pak eers ‘n paar enkel getalle uit en teken soveel prentjies langsaan of pak selfs doppies by die getal. Dan trek jy die 10 nader en as jy die 11 moet pak, moet julle noodgedwonge die 1 bo-op die nul sit om die beeld of simbool van 11 te kry. Die kaartjies werk baie lekker – veral in Graad 2 waar julle ontbinding en dies meer sal doen.
Probeer om heelwat getalle te pak – met die idee dat ons die getalle van groot na klein (grootste waarde na kleinste waarde) skryf van links na regs (soos ons lees). As sy kan onthou om plek te hou op die regte plekke is dit nie juis ‘n probleem nie, maar dit maak dinge tog makliker as ‘n mens die getalle van groot na klein kan skryf. Ek hoop dit kan help 😉
LikeLike
Jun 06, 2012 @ 16:34:44
Middag julle,
Ek wil weet hoe kan ek ‘n wiskunde som van bv. 4-5 verduidelik aan ons meisiekind wat nou in Gr. 1 is? Sy doen baie goed as dit in haar somme as dit bv. 5-4, of 6-2 is. Maar sy het die oefening van wat die vragie is: 4-5 wat sy by die antwoord 0 geskryf het waar die antwoord -1 mos is.
Groot asseblief.
LikeLike
Jun 07, 2012 @ 18:53:17
Gits, Petru 😉 Graad 1’s gaan nog nie in die negatief in nie. Dit is ‘n gevorderde konsep. Kyk gerus hier na die CAPS-kurrikulum vir die beginsels wat in die grondslagfase aangeleer word.
LikeLike
Jun 08, 2012 @ 07:33:30
Baie dankie, ek het gewonder. Toe het ek nadie tyd gedink dat dit dalk ‘n tik fout moes wees.
Baie dankie vir die “Link”. Ek kyk gerus daarna.
LikeLike
Jun 10, 2012 @ 07:45:44
😉 Doodreg
LikeLike
Jun 21, 2012 @ 16:36:29
Goeidag
My dogtertjie ook graad 1 en sukkel met wiskunde. Optel, aftrek, geen getalbegrip en draai soms haar syfers om? Enige raad en dalk ook oefeninge, asb.
LikeLike
Jun 23, 2012 @ 16:21:02
Middag, Rhone 😉 Omkerings het dikwels te make met ‘n ongevestigde begrip van rigting (bo, onder, links en regs) of die ogies en daar is heelwat jong outjies wat daarmee worstel. Kyk gerus na die stukkie oor syfers , tuis idees en tik soekterme soos “posisie, ruimtelik, middellyn, visuele persepsie…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in. Dit behoort vir jou na verskeie idees te neem.
Speel hierdie vakansie weer met begrippe soos voor en na, meer as, minder as en gebruik speletjies (soos slangetjies en leertjies) om die vaardigheid van aan- en terugtel te verbeter. Trek weer konkrete tellers (iets soos doppies of boontjies) nader en doen somme spelenderwys (hersien die jaar se somme). Dit is baie moontlik dat jou dogtertjie net ‘n bietjie meer vasleggingswerk op die konkrete vlak nodig het voordat ons haar na syfersimbole laat oorgaan. 😉
LikeLike
Sep 11, 2012 @ 15:21:05
My graad 1 dogtertjie moet n departementele toets skryf oor verdubbeling getalkombinasies + en – en ranskik van klein na groot en groot na klein. Hoe leer en help ek haar met dit. Baie dankie Brenda
LikeLike
Sep 12, 2012 @ 18:08:55
Middag, Brenda 😉 Ek het so ‘n paar wiskunde huiswerk idees geplaas wat julle kan probeer. Vir die rangskikking van getalle, kan julle die afsonderlike syfers se hoeveelhede uitpak met doppies (skryf bv. ‘n 3 en pak drie doppies, ‘n 5 en pak vyf doppies, ‘n 2 en pak tweedoppies). Watter een is die kleinste hoeveelheid (as dit kinders se ouderdomme was – wie sou die jongste gewees het?)? en dan? Watter een is die grootste getal (kind of ouderdom)? Skuif die getalle dan van klein na groot en probeer dit weer van groot na klein. Bespreek sommer ook Watter getal staan eerste, tweede, laaste…in die middel? Kyk of dit vir julle kan werk :Wink:
LikeLike
Okt 02, 2013 @ 10:56:10
hoe help ek my graad 1 seun om te halveer
LikeLike
Okt 02, 2013 @ 18:48:30
Middag, Joyce 😉 Probeer gerus hierdie skakel 😉
LikeLike
Nov 19, 2013 @ 11:36:48
Hallo,
My seuntjie is in Gr1 het 5 verskillende Juffrouens gehaad, die een skaars 2 weke daar dan loop sy en ander een begin, my seun sukkel om van sy woorde te skryf en wiskunde te doen + en – en om te spel, Juffrou se hy gan Gr1 oor moet doen volgende jaar enige raad asb?
LikeLike
Nov 20, 2013 @ 18:44:38
Middag, Sarah 😉 Sjoe…
Ek het vir jou raad en idees hier op my blog. Jy kan soekterme soos “abc, hersien, klanke, skrif, skryf, Graad 1, wiskunde, halveer, woordsom, dubbelklank, flits, lees, sigwoord…” by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in tik (ietwat laer af) vir idees om te probeer. Daar is ook takies onder die “Drukbare Bladsye”-hofie. Is daar ‘n remediërende of ondersteunings juffrou by die skool? Sy mag vir jou raakvat takies te kan gee op sy spesifieke vlak. 😉
LikeLike
Feb 13, 2014 @ 19:56:17
Hi Ek tik die word getallelyne in op die search knoppie maar niks gebeur nie.
Wat is die problem
LikeLike
Feb 13, 2014 @ 20:12:07
Probeer gou “getallyn” 😉
LikeLike
Okt 30, 2017 @ 09:14:18
More
my meisekind sukkel met verdubbel die konsep hoe kan ek haar beter help ek weet nie mooi hoe om meer te verduidelik as met voorwerpe nie sy kan dit nie begryp nie ek gee haar bv 7 en se sy moet verdubbel sy gaan dadelik elke keer oor na halveer toe en et halveer doen sy dit reg maar verdubbel kry ons nie verstaan nie
LikeLike
Okt 30, 2017 @ 13:37:54
Hallo, Maritza 😉
Dit help om die woordeskat te verduidelik en sigbaar voor te stel. Bv. Dubbeld/verdubbel beteken “net soveel meer”. Halveer/helfte beteken dat ek die hoeveelheid gelykop tussen twee mense kan verdeel.
Loer gerus hier en hier na idees.
Ek hoop dit kan help 😉
LikeLike