Iemand het onlangs vir lesidees oor grond gevra.  Hiermee dan so ‘n paar idees…

Eerstens kan ‘n mens vrae vra soos “Wat is grond?”  “Waar kry ‘n mens grond?”  “Wat is die verskil tussen grond en sand?” (‘n Mens kan seker vooraf ‘n saadjie in grond en een in sand plant om te kyk watter een die plantjie sal help groei.)  “Hoe lyk grond?”  Vrugbare grond is donkerig en vol klipperigheid.  Plante, bome en selfs diere soos molle lewe daarin.  Grond het verskillende lae – van ‘n rotsbank diep onder die oppervlak tot die bolae wat sag en los genoeg is vir die wortels van plante.  (Dalk kan ‘n mens ‘n “blok” grond iewers uitspit en vir die outjies die lae daarin wys.)  Maak ‘n groot muurcollage om die verskillende lae in gond aan te dui. Teken vooraf die buiteraam en gee vir verskillende groepe die opdrag om ‘n spesifieke laag te bestudeer (gee boeke, prente of voorbeelde).  Die groep kleur dan die bladsy in met groot klippe en donker grond, klein klippies en ligter grond, ‘n laag met boomwortels en later ‘n laag met gras.  As jy wil kan ‘n mens die lae vooraf teken, laat inkleur en die kinders gesamentlik laat besluit watter laag onder, bo, ens. sal wees.

As dit moontlik is, kan ‘n mens klei-, leem- en sandgrond onderskeidelik vir hulle wys.  Gee vir hulle ‘n paar geskrewe vrae, ‘n sif en ‘n vergrootglas.  Hoe lyk die grond in die blou bak?  Hoe voel dit?  Strooi ‘n koppie vol grond deur die sif.  Wat bly op/in die sif agter?  Hoe groot is die stukkies?  Watter kleur is dit?  Kan jy ‘n modderkoekie daarmee vorm?  Val dit uitmekaar?  Hoe ruik die grond in jou bak as dit droog is en as dit nat is?  ‘n Mens kan stasies opstel met verskillende klanke (letters), syfers, vorms en patrone teen die muur geplak.  Die kinders kan dan hul skrif in die verskillende tipes grond “skryf”.  Dit is sommer ‘n lekker sensoriese aktiwiteit én kan dien as deel van intervensie.

Vrugbare grond is belangrik  om plante en bome gesond te hou.  Wat maak grond swak?  Dink aan erosie, sterk wind en verspoeling.  Hoe sal ons die grond bymekaar hou?  Demonstreer erosie deur ‘n gieter water oor ‘n skuins geligde bak sand te giet.  Daarna kan ‘n mens water oor ‘n blok gras giet.

Sny plastiekbakke of groot, 5 liter-waterbottels in die helfte, maar behou die tuit. Gebruik dieselfde grond om die onderskeie bottels te vul. Kry ‘n sooi gras (blokkie by die skoolopsigter) wat jy bo-op ‘n lagie gruis “plant”, strooi vir ‘n tweede bottel en los die derde bottel net so. Hang bakkies onderkant die tuite en laat die outjies help om dieselfde hoeveelheid water in elke bottel te gooi. Kyk hoe vinnig die hangende bakke vul en hoe helder die water is.  Vergelyk.  NB:  Deursigtige houers verseker dat meer kinders kan sien wat gebeur…andersins moet die klas in klein groepies verdeel word.

Hoe hou ‘n mens die grond gesond?  Hier kan ‘n mens ‘n bietjie oor kompos en komposhope gesels.  Dalk kan ‘n mens ‘n kwekery besoek of iemand van ‘n kwekery nader om die prosesse te verduidelik.  As julle in ‘n boerderygemeenskap woon, kan ‘n mens ‘n boer of plaaswerker as spreker gebruik en selfs ‘n plaas besoek.

Dink kan die belangrikheid van erdwurms, kompos en bemesting.  Vul ‘n deursigtige houer (bv. ‘n koeldrankbottel met dreineringsgate – of selfs ‘n geseëlde CD-omhulsel) met verskillende lae klippies en potgrond (potting soil).  Saai saad wat vinnig opslaan of plant ‘n plantjie.  Laat die kinders ‘n paar erdwurms saam bring skool toe en voeg dit by die houer.  Die erdwurms behoort elke nou en dan sigbaar te wees – veral as dit ‘n dunnerige of nou houer is.  Indien julle eerder ‘n wurmhouer wil maak, kan julle ‘n geskikte plekkie buite soek om die wurms en komposhoop aan te hou.  Onthou om die houer toe te hou – met die Hadeda’s in gedagte.  Dalk kan die klas met die wurms, wurmtee of vrugbare grond woeker of ‘n bydrae lewer tot Boomplantdag!

[Maak julle eie jellie erdwurms deur rooi jellie in strooitjies te laat stol.]