Outisme dek ‘n enorme spektrum – wat daarop dui dat elke kind met outisme, ‘n unieke kombinasie uitvalle en besondere talente kan hê. In Amerika, is die voorkoms van ASD (Autism Spectrum Disorder of Outisme) bykans 1 uit elke 58 kinders en wêreldwyd word soortgelyke statistieke gelys. Die moontlikheid dat jy waarskynlik kinders op die spektrum in jou klas kan kry, bestaan wel en alhoewel ons nie alles reg kan doen nie, sal ‘n bewustheid, deernis en aanpassings ‘n goeie beginpunt wees. Sover moontlik, sal dit altyd wenslik wees om as ‘n span saam te werk om elke kind se unieke vaardighede te ontwikkel en om hom of haar bes moontlik te ondersteun. Gesels met die ouers, betrokke terapeute en kollegas om te verseker dat almal saam werk om haalbare doelwitte te bepaal.
Hoe lyk outisme of watter kenmerkende eienskappe het jy al waar geneem?
- Beperkte oogkontak: Sommige kinders vind oogkontak problematies. Hulle vermy dit of vind soms ‘n fokuspunt elders op die ander persoon se gesig.
- Herhalende bewegings: Sommige kinders skud hul hande, trommel die vingers, loop in sirkels, hop of trap heen en weer wanneer hulle besonder opgewonde of gespanne raak. Sommige kinders sal lank met water of sand kan speel en kyk hoe dit deur hul vingers val – wat ‘n kalmerende effek kan hê.
- Unieke mylpale: Sommige kinders bereik hul mylpale vroeër as hul eweknieë en ander bereik die mylpale heelwat later. Sommige kinders begin eers heelwat later praat. Party kinders raak heelwat later onafhanklik in die badkamer. Sosiale bewustheid of die manier hoe sommige kinders uitreik na maats of speel, kan ook anders lyk. Skep ‘n bewustheid van insluiting en wissel groepe tydens klaswerk en pouses af, sodat daar ruimte is om met maats te speel of te gesels – al is dit in kort periodes.
- Spraak en kommunikasie: Party kinders begin eers heelwat later praat en ander herhaal woorde, sinne of frases (“echolalia”) wat hulle gehoor het, maar kan nie ‘n gesprek voer nie. Sommige kinders praat vlot en leer gou hoe om in verskillende situasies te kommunikeer, maar worstel met aspekte soos sarkasme. Party kinders gebruik eenvoudige prentjies (bv. Boardmaker, PECS) of toeps/apps om namens hulle te kommunikeer. Party kinders gebruik ‘n baie formele, gevorderde woordeskat en ander praat glad nie. Party kinders kan reeds van ‘n jong ouderdom af lees en spel en ander worstel om woorde te ontsluit. Sommige kinders gaan ‘n bietjie langer neem om ‘n vraag te verwerk, so gee hulle ‘n aanduiding dat jy graag hul mening wil hoor (bv. Louis, ek wil graag hoor hoe jy Vraag 4 bereken het, maar kom ons hoor eers hoe Tobie Vraag 1 bereken het).
- Motoriese vaardighede: Soos in die geval van elke unieke kind met outisme, is die motoriese ontwikkeling ook verskillend van kind-tot-kind. Party kinders kom lomp voor, maar het besondere goeie balans, oog-hand koördinasie en swem vaardighede. Sommige kinders kan netjies skryf en ander worstel weer om te knip en te skryf.
- Sensoriese vaardighede: Sommige kinders is sensitief vir harde geluide en ander het besondere goeie gehoor of luistervaardighede. Party kinders is ligsensitief en hou nie van skerp lig nie, terwyl ander weer lank na dowwe ligte kan kyk. Party kinders sit graag op wikkelkussings, stoele wat wikkel en wieg of loop heen en weer terwyl hulle na die onderwyser luister. Sommige kinders vind groepe (bv. in die sangklas of saalbyeenkomste) oorweldigend.
Praat gerus met ‘n arbeidsterapeut (wat opleiding in sensoriese integrasie het), om raakvat idees vir elke unieke kind te kry.
Ons gaan beslis nooit alles kan verstaan of reg kan doen nie, maar die bereidwilligheid om meer te leer, werkswinkels by te woon, verslae te lees en om ‘n pad met die leerder (en ouers) te stap – is reeds ‘n goeie tree vorentoe. Gebruik April (die maand ter bewusmaking van Outisme) om ‘n bietjie meer te wete te kom.
Laat 'n boodskap