November is ‘n maand waartydens ons aandag aan boelieteenkamping skenk. In ander wêrelddele, word boelieteenkampingsweek vanaf die 10de tot die 14de of van die 17de tot die 21ste gevier. Ons kan oor die hele tydperk op die onderwerp fokus.

Praat gerus oor bullebakkery op die skoolgrond, op selfone en op die internet. Hoe lyk dit, hoe beskerm jy jouself en hoe kan ons ander help?

Op Wapenstilstandsdag onthou ons almal wat vir ons vryheid geveg het. Hou ‘n oomblik van stilte om 11:00vm op die 11de dag van die 11de maand.

Op die 13de dink ons aan idees om goedgesindheid aan ander to openbaar. Watter klein gebare of take kan ‘n glimlag veroorsaak of hulp bied? Daar is soveel gratis dingetjies wat ‘n mens kan doen, mooi woorde wat ‘n mens kan deel…Wat kan ‘n mens in die klas en in die skool doen om mekaar te ondersteun en wat kan ‘n mens in die gemeenskap doen? Oulike kindertekeninge en ‘n handgeskrewe kaartjie is altyd ‘n wenner.

Op Kinderdag fokus ons op alles wat kindwees lekker maak. Loop kaalvoet, eet roomys, eet lekkers, teken springblokke buite (hop scotch), sing saam, spring tou, speel speletjies, knap die speelterrein op, haal ekstra speelgoed uit vir pouse en herinner die outjies aan hul regte. Vanjaar se tema is ”my dag, my regte”.

Kort na hierdie spesiale dag, vier ons die 16 dae van aktivisme teen geweld (op vroue en kinders). Dra ‘n wit lint tydens hierdie tydperk (25ste November tot die 10de Desember) of kies ‘n spesifieke dag waarop die hele skool wit klere dra ter bewusmaking van die 16 dae.

Vir diegene wat idees in verband met assesserings soek, loer gerus na studietegnieke hier en voorbeelde van assesserings hier. Mag dit ‘n mooi maand wees.