Voor ons aan die kosblik raak, net eers ‘n paar belangrike gedagtes… Veral jonger kinders raak gou moeg en verloor konsentrasie as hulle nie gereeld ‘n versterkinkie neem nie. Baie outjies eet ontbyt voor 7-uur en eet dan eers weer om ongeveer 10:20 (pouse) en 13:00. Dis ‘n vreeslike lank tyd om honger te wees. Sommige juffrouens gee egter kleintjies in Graad 1 en 2 die geleentheid om ‘n “power bite” te neem om weer woema te kry. Sorg dus dat daar altyd ietsie is om te hap wanneer die nood druk. ‘n Klein koelsakkie is dalk ‘n goeie idee vir nasorg-kinders of in areas waar die sonnetjie warm kan bak.
Sorg dat die eetgoed maklik hanteerbaar is en nie vol fieterjasies is nie. Dikwels kan die outjie nie self ‘n sapbotteltjie, skyfiepakkie of selfs ‘n energiestafie oopmaak nie en is daar nie iemand naby om te help nie. Sny dus die pakkie oop en knyp dit met ‘n klampie toe. Verf en versier die klampie met kraletjies om dit ekstra spesiaal te maak (wasgoedpennetjies werk ook goed). Hoe minder moeite dit is om die kospakkie oop te maak, hoe vinniger word daar geëet en dan gespeel.
In plaas daarvan om ‘n toebroodjie (twee snye) of ‘n groot vrug in te pak, meet neute en rosyntjies in klein porsies af en verpak dit in klein bakkies of sakkies. Droë vrugte is ‘n gunsteling happie by baie kinders. Sny ‘n Snackertipe stafie in hapgroottes op of bak sommer jou eie Oatspap koekies.
Indien jy wel toebroodjies wil maak, gebruik oulike koekiedrukkers om prentjies uit die toebroodjie te druk. Dan is die porsies reeds afgemeet en vrolik. Die orige stukkies brood kan vir viskoekies of frikkadelle gevries word. Jy kan ook prentjies uit velle koue vleis of kaas druk en in lae pak. Kan ‘n mens nie sommer frikkadelle met die vormpies afmeet en dan gaar maak nie?
Hou die kosblik gesond en pak eerder water as gaskoeldrank in. Te veel suiker kan die aandagspan heeltemal omver gooi…
…en om die skooldag ekstra spesiaal te maak, kan ma ‘n briefie bo-op die broodjie pak/plak.
PS: Jessica Seinfeld (Jerry se vrou) het ‘n resepteboek uit gegee vir mamma’s van kieskeurige eters.
Feb 04, 2009 @ 10:07:46
Ek moes al eerder hier kom inloer het, het al vroeg verlede jaar met Graad 1 uit kosblikidees geraak! Ek gaan beslis van hierdie raad volg.
Wonder of jy dalk kan help – is daar enige maklike manier om tafels te leer? Kan nie glo hoe baie tafels my arme laaitie al in Graad 2 moet leer nie.
LikeLike
Feb 04, 2009 @ 16:19:00
Hello Xanika…gee my so ‘n tydjie kans en ek sal vir jou so ‘n paar tafel idees opraap 😉
LikeLike
Jul 22, 2014 @ 09:33:29
Hi, baie dankie vir die puik web blad…. mag ek ook asb paar idees kry vir maal tafels?
LikeLike
Jul 22, 2014 @ 18:23:00
Middag, Marieando 😉 Jy sal veelvoude en maaltafels hier kry. Loer ook na die stukkie oor wiskunde huiswerk, woordsomme en die “drukbare bladsye”. Aan die regterkant is ‘n lys skakels en die Wiskunde skakels is almal onder “wiskunde” gegroepeer 😉
LikeLike
Jul 26, 2014 @ 22:03:50
Baie dankie vir die oulike idees. Ek probeer dit na my epos ‘send’ maar kry dit nie reg nie.
LikeLike
Jul 28, 2014 @ 06:44:14
Môre, Marina 😉 Onder elke inskrywing is prentjies vir Twitter, Facebook, E-pos, ens. Klik op die koevertjie en tik jou e-pos adres daarin. Hulle gaan vra dat jy die wagwoord oor tik wat op die foto/prent verskyn. Andersins kan jy ook op die voorblad (heel regs bo) inskryf om toekomstige inskrywings in jou e-pos posbus te kry 😉
LikeLike
Jul 28, 2014 @ 09:27:55
Liewe Juffer, jy is net wonderbaarlik fantasties!!!! Mag Ons Vader jou ryklik seen. Dankie vir jou antw. en hulp.
Groete
Marina Bessinger
LikeLike
Aug 01, 2014 @ 02:41:06
Dankie, Marina 😉
LikeLike