September is My Klaskamer se verjaardagmaand en vanjaar word My Klaskamer 16 jaar oud! Baie dankie vir jou getroue ondersteuning.

In September, skenk ons aandag aan gehoorverlies en kyk ons hoe ons meer kan doen om mense met gehoorverlies te ondersteun. Gesels met kundiges en win ‘n bietjie kennis in.

Ons vier Lente Dag op die eerste en Boomplantweek van die 29ste Augustus tot die 4de September. Samel gerus kompos of kunsmis vir die skool se plante in of kikker die skool se beddings op. Saai blom-, kruie en groente sade wat ‘n mens later by funksies, ens. kan gebruik. Maak ‘n projek daarvan om uit te vind wat die beste in jul tuine sal aard en wat die beste moontlikhede kan wees. Stem en saai.

Die witpeer is die skaars boomsoort van die jaar en die karee of rooikaree is die meer algemene boom van die jaar.

Sekretaresse Dag word vanjaar op die 4de September gevier. Bederf gerus al die administratiewe personeel so ‘n bietjie.

Loslitdag/Casual Day, is ‘n dag waarop ‘n mens fondse kan insamel om mense met alle soorte gestremdhede te ondersteun. Sommige mense is so gebore en sommige mense het die gebruik van sintuie of liggaamsdele mettertyd verloor. Ondersteun gerus organisasies of skole in jou omgewing en vind uit hoe julle verskillende leerders kan insluit.

Die Paralimpiese Spele vind vanaf die 28ste Augustus tot die 8ste September plaas en daar is vanjaar 26 Suid-Afrikaanse atlete om te ondersteun.

Tradisioneel, het ons Bandana of Sonneblomdag in die middel van September gevier om ‘n bewusmakingveldtog vir bloedkanker te loods (Leukemiebestryding). Dit verg steeds ons aandag en is beslis iets om mee te help.

Internasionale Geletterdheidsdag word op die 8ste September gevier en Nasionale Boekweek duur van die 5de tot die 11de September. Spandeer ‘n bietjie meer tyd om deur die klas se leesboeke te blaai en om boeke te lees wat julle gewoonlik vermy of vergeet.

Roald Dahl se verjaarsdag word op die 13de gevier. ‘n Mens kan heelwat van sy boeke in Afrikaans en Engels kry. Lees gerus.

Op die 15de September, vier ons Spikkeldag na aanleiding van Peter H Reynold se book: The Dot. Hoe kan jy ‘n betekenisvolle merkie of spikkel in die samelewing maak?

Op die 19de praat ons soos seerowers. Dit is die ideale dag om die Engelse ”ar” in woorde te hersien.

Oogsorgmaand begin teen die einde van die maand. Praat gerus oor verskillende maniere om die ogies op te pas, doen visuele oefeninge en moedig oogtoetse aan. Is daar oogkundiges in jul omgewing wie gratis oogtoetse doen? Vra gerus.

Vou en plant gerus waaiertjies vir vrede in die voortuin. Skryf jou wense op die waaiers en deel dit met ander.

Op die 22ste leer ons oor Renosters en oor die bewaring van hierdie wonderlike diere. Maak Erfenisdag, op die 24ste, ekstra spesiaal. Spandeer die dag saam met spesiale mense en eet iets uniek aan jou erfenis 🙂 Mag jy ‘n besonderse mooi September hê.