This slideshow requires JavaScript.

Ek het gevind dat daar heelwat leerders is wat sukkel om woorde te klank en dan weer as ‘n woord te lees. Hulle kan die woord klank, maar haak vas by k-a-t. ‘n Idee wat nogal vrugte afwerp, is om die woord uit te rek – soos ‘n stadige “replay” aksie op televisie. Byvoorbeeld: k…a…t. Die woord word dan weer en weer gesê – elke keer ‘n bietjie vinniger. As die woord op hierdie manier herhaal word, kry die kind die geleentheid om die woord te hoor en om dit in sy / haar gedagtes saam te voeg. SCRABBLE (Junior Scrabble) teëls of los klank kaartjies kan gebruik word om die woorde te pak. Pak die klanke apart en skuif hulle nader terwyl die woord op die “uit rek manier” gelees word. Dit klink vreemd, maar die kinders sal dit geniet.

As u kind ‘n nuwe boek huis toe bring:

  • Blaai saam met u kind deur die boek. Wat sien julle alles?
  • Vra hom / haar oor die storie. Wat kan jy onthou van die storie wat jy in die klas gehoor het?
  • Lees die storie saam met u kind en praat oor interessante of nuwe woorde. Bv. klein het ‘n “ei” in. Watter ander woorde het so ‘n klankie in?
  • Speel “soek die woord”. Noem ‘n woord uit die boek en vra u kind om die woord te soek. Hoeveel keer verskyn die woord in die boek?
  • Skryf julle eie stories deur woorde uit die boek en ander bekende boeke te gebruik.
  • Maak woordmure deur nuwe woorde teen die muur aan te bring – voeg prentjies by indien moontlik. Hou die woorde sigbaar en oefen dit sommer terloops.