J en H het onlangs navrae gerig oor die verduideliking van halvering vir ‘n Graad 1-outjie.  Hiermee dan my manier van verduidelik…

Die maklikste manier om halvering te verduidelik is met ‘n paar lekkers (of kamma-lekkers).  Bespreek die term “helfte” – iets word in twee ewe groot stukke verdeelHalveer is net die “doen-woord” en beteken dat jy iets in twee stukke gaan deel.  As ons na somme of getalle kyk, deel jy gewoonlik iets tussen twee mense uit sodat elkeen dieselfde hoeveelheid kry.

Aanvanklik leer die outjies net om ewe getalle te verdeel.  Neem ‘n paar lekkers of tellers en verdeel dit gelykop tussen twee mense.  Volg die speletjie van “een vir jou, een vir my” totdat alles uit gedeel is.  Vra dan vrae soos hoeveel het jy? Hoeveel het ek?  Is dit dieselfde hoeveelheid? Speel met ‘n paar getalle tussen 1 en 10. Verdeel sommer ‘n papier om aan te teken watter getalle verdeel kon word en watter nie.  Alle skole leer nie dieselfde tipe terme vir die outjies aan nie, maar dit sal seker nie te voor op die wa wees om te wys na die ewe getalle en te noem dat hierdie getalle in “ewe veel vir jou en vir my” verdeel kon word nie.  Hulle is EWE getalle en die ander is ONEWE getalle. AS die outjies ‘n “res” moet verdeel, kan die lekkergoed in koekies verander.  Dan verdeel julle dus ‘n onewe getal tussen twee maats (maak sommer ‘n paar stories op) en as een koekie oorbly – deel hulle dit.  As jy 5 verdeel is dit dus 2 en ‘n half (of 2 en ‘n halwe koekie).

Alle wiskunde verduidelikings begin met fisiese of konkrete items, sodat die outjies dit kan skuif en manipuleer (by pak, weg neem, verdeel…).  Later teken hulle prentjies om die konkrete tellers voor te stel en heelwat later werk hulle net met syfers en simbole.  Dit is egter baie voordelig om maar altyd ‘n houer met tellers naby te hê om met die somme te help. Skryf so 3 tot 4 woordprobleme op ‘n bladsy neer en werk dit saam uit…(lees hardop saam in Graad 1)  bv.:

  • Pappa koop 4 stukke droëwors.  Hy verdeel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel stukke kry elkeen?

Pappa: ___ Johan:  ___

  • Mamma koop 6 weense worsies.  Sy deel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel worsies kry elkeen?

Mamma:  ___ Johan:  ___

  • Pappa koop ‘n pizza.  Daar is 8 skywe.  Hy deel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel stukke pizza kry elkeen?

Pappa:  ___ Johan: ___

Laat weet gerus watter metodes vir jou werk…

Halveer

Halveer Semi-Konkreet

Halveer 0 – 10

Halveer dekades

Halveer 0 – 50 

Halveer 40 – 100

Verskeie blaaie met verklarende flitskaart.

vheo

Halvering in die groot getalgebiede:

Bv. 64.  Breek die getal op of trek die flardkaarte nader.  Is dit ‘n ewe of ‘n onewe getal?  Onthou dat ewe getalle op 0, 2, 4, 6 en 8 eindig.  ‘n Ewe getal sal gelykop tussen twee mense verdeel kan word en netjies kan halveer.

Bou die getal (4 op 60 en pas teen die regtersy) en trek dit uitmekaar.  Dit is nou 60 en 4.  Wat is die helfte van 4? 2.  Wat is die helfte van 60?  Hoe kan ek maklik tot by 60 tel?  Gebruik groepies of veelvoude van 10.  Daar is 6 groepies.  Wat is die helfte van 6 groepies? 3 groepies.  3 groepies van 10 maak 30.  Ons het dus ‘n 30 en ‘n 2.  Bou dit met die kaarte – 32.

Halvering met ‘n breuk:

Bv. 25.  Is dit ‘n ewe of ‘n onewe getal?  Onewe.  Trek die flardkaarte nader.  Hoe lyk 25?  Dit bestaan uit ‘n 20 en ‘n 5.  Kan ek 5 blokkies kaas gelykop tussen 2 mense verdeel? Amper.  Elkeen kry 2 en dan is daar 1 oor.  Ons kan daardie blokkie presies in die helfte sny, sodat elkeen ‘n halwe een kan kry.

Die helfte van 20…20 bestaan uit twee tiene.  ‘n Tien vir jou en ‘n tien vir my.  Die helfte van 25 is dus 12 en ‘n half (12 1/2).

Sien ook die stukkie oor deling en breuke.