bibweek

Biblioteekweek duur vanjaar 10 dae – van 11 tot 21 Maart.  Fokus op lewenslange leer en die bemagtiging van jong lesers.

  • Besoek die dorpsbiblioteek en die skool s’n.  Hoe vergelyk die twee en wat is anders?  Kry jy soortgelyke boeke by soortgelyke aanwinsnommers?
  • Neem ‘n selfie met jou gunstelingboek en maak ‘n muurcollage van die klas se foto’s.
  • Selfie kunswerke gaan beslis die oog vang.  Gebruik media soos pastelle om die bladsye helder en aanloklik te maak.  Skryf die boek se titel en aanwinsnommer onderaan die kunswerk en versier dan die gange daarmee.
  • Gebruik groot rolle/velle papier om bo-oor deure te pas.  Teken ‘n groot boekomslag daarop en skryf as ‘n klas kort aanbevelings daarop.
  • Gebruik ‘n toep en ‘n webwerf om QR-kodes te skep waar jong lesers na stories kan luister.  Verskaf oorfone en tablette hiervoor.
  • Betrek luisterstories – CD’s en boeke.
  • Gebruik ‘n Kindle toep (of storie toeps) waar outjies saam-saam of alleen na stories kan luister.
  • Rol die omslae van verskeie boeke af, laat die outjies dit inkleur en versier die gange.  Dit behoort die belangstelling te prikkel vir later.
  • Hou ‘n pajamadag of trek soos ‘n karakter aan.
  • Laat die outjies kort dialoë oor ‘n boek skryf.  Voer dit op of hou ‘n poppekas.
  • Ouer kinders kan boekbesprekings hou.  Verskaf dieselfde boek aan klein groepies en gee 15 minute sodat hulle daaroor kan gesels.  Vra dat hulle na mekaar luister en indien hulle by die kommentaar of gedeelte aanklank vind, kan hulle ‘n bydrae lewer.  (Watter deel was vir jou interessant? Waaraan het dit jou laat dink?)
  • Deel klasse uit die verskillende fases by makker leesgroepe in en kies kort stories om aan mekaar voor te lees.  Kies ‘n periode daarvoor en hou gereelde leestye.
  • Hou ‘n “spog met ons leeshoekie” of “spog met ons biblioteek” aand.  Nooi die ouers en gesinne (of selfs inwoners van ‘n plaaslike ouetehuis) om saam met ‘n graadgroep stories te lees, muurprente te maak, woordspeletjies te speel (soos Krabbel/Scrabble), ens.  Vra vir ‘n vrywillige donasie waarmee die skool nuwe boeke kan aankoop.
  • Biblioteekbronne

Sien ook:  BiblioteekweekLees

 

 

#libraries4lifelonglearning