Pay it Forward Dag is een van daardie dae wat ‘n mens eintlik elke dag in gedagte kan hou. ‘n Mens kan mos maar altyd die deur vir iemand oop hou of ‘n kompliment gee. Met die huidige gesondheidsmaatreëls is die mededeelsaamheid effens moeilik, maar daar behoort tog iets te wees wat ‘n mens kan doen om ‘n glimlag op ‘n medemens se gesig te plaas.
- Help om die wasgoed af te haal of onderklere op te vou.
- Saai ekstra saadjies in ‘n potjie en laat dit met ‘n boodskap op die bure se stoep. Blomme en kruie is altyd welkom.
- Was die stort of bad uit.
- Droog die skottelgoed af.
- Dek die tafel.
- Steek ‘n paar blomme in.
- Pak die plastiekbakkiekas reg of help om die inkopies uit te pak.
- Bied gerus aan om die plante nat te lei. Hoor net hoeveel water elke plant nodig het voor jy begin.
- Was ‘n kombuislap uit en vee die toonbank skoon.
- Stof die oppervlaktes af.
- Vryf die spieëls op.
- Stofsuig. Dit help baie.
- Neem ‘n ekstra maaltyd na die bure of pak ‘n ekstra broodjie vir ‘n maat in skool toe.
- Help om nuwe beddegoed oor te trek.
- Skakel ‘n maat en help mekaar met huiswerk. Hoor net eers watter moontlikheid die beste en goedkoopste sal wees.
Dit maak nie saak wat ‘n mens vir die ander persoon gee of doen nie, solank jy nie iets in ruil verwag nie. Hou dit eenvoudig, haalbaar en goedkoop. Jy hoef natuurlik nie ver te soek nie. Daar is altyd iets in en om die huis waarmee jy kan help 🙂
Laat 'n boodskap